Kampusopedag 10 en 11 Mei 2024

Search
Close this search box.

Akademia lewer referaat by lewendehawelandbou-uitstalling

Gepubliseer op: 30 September 2019

Prof. Hannes Rautenbach, dekaan van die Fakulteit Natuurwetenskappe, het op 18 September 2019 ʼn referaat saam met internasionale sprekers by die SA Stamboek@ALFA2019 se telingsimposium aangebied. Die simposium is deur die SA Stamboek en Diereverbeteringsvereniging georganiseer en is deur meer as 300 af­gevaardigdes bygewoon.

Die simposium het ten doel om die voorpunttelers, veekundige professies, studente en belanghebbendes in die veebedryf te verenig en op hoogte te bring van die nuutste wetenskaplike ontwikkelings en die toepassing van metodes en tegnologie wat wins verseker. Gedurende die simposium het SA Stamboek ook die beste Suid-Afrikaanse veeboere vereer vir die bydraes wat hulle maak tot die veebedryf in Suid-Afrika en buite ons landsgrense.

Prof. Rautenbach se aanbieding was getiteld “Will global climate change affect breeding objectives?” Die teenwoordigheid van Akademia se natuurwetenskappedekaan by hierdie spesialissimposium dui op die instelling se beroeps- en gemeenskapsgerigtheid, en is nog ʼn geval waar haar akademiese kennis tot voordeel van wetenskaplike ontwikkeling in Suid-Afrika aangewend word.

Prof. Hannes Rautenbach, Dekaan: Fakulteit Natuurwetenskappe by Akademia (links) saam met prof. Darrh Bullock van die Universiteit van Kentucky, VSA (middel), en prof. Donagh Berry van Landbou en Voedselontwikkelingsgesag in Ierland (regs) by die SA Stamboek@ALFA2019 se telingsimposium.