Search
Close this search box.

Van aardverwarming na aardbewondering

Gepubliseer op: 14 Oktober 2019

Geskryf deur prof. Hannes Rautenbach, Dekaan van die Fakulteit Natuurwetenskappe

Het die tyd aangebreek dat die lewensbeskouing dat menslike welvaart alleenlik afhanklik is van ekonomiese groei en industrialisasie moet verander na een waar menslike welvaart eerder gemeet word aan selfverantwoordbaarheid, geestelike welsyn en die strewe na volhoubare ekosisteme? Dit word al duideliker dat die huidige model van ekonomiese groei, wat gepaard gaan met die oorbenutting van natuurlike hulpbronne, nie net nadelig is vir ons natuurlike lewensomgewing nie, maar ook ʼn nadelige uitwerking het op ons fisiese en geestelike welstand.

Die invloed van menslike bedrywighede op ons lewensomgewing het weer sterk op die voorgrond getree toe die 16-jarige klimaatsaktivis Greta Thunberg by die mees onlangse Klimaataksieberaad in New York uitgevaar het teen wêreldleiers oor hulle aandeel in die vernietiging van ons natuurlike omgewing. Daarbenewens is aardverwarming maar net een uit vele nadelige invloede wat die moderne mens op natuurlike ekosisteme uitoefen.

Aardverwarming is ʼn realiteit. So byvoorbeeld sorg natuurlike kweekhuisgasse in die atmosfeer dat temperature heelwat hoër is as wat dit sou gewees as die aarde geen atmosfeer gehad het nie. Gevolglik bied die aardgemiddelde temperatuur van +15°C toestande wat bevorderlik is vir lewe op aarde soos ons dit vandag ken.

Met ʼn bevolking van by die 7,5 miljard mense op aarde is daar tans net genoeg spasie om 50 mense per vierkante kilometer te akkommodeer. In hierdie beperkte ruimte moet alle lewensmiddele aan die mens verskaf word, en dit is dus ooglopend dat die mens self verantwoordelik is vir die oorbenutting van natuurlike hulpbronne en besoedeling van ons natuurlike omgewing, wat op sy beurt weer reaksies soos aardverwarming tot gevolg het.

Daar word oor die algemeen aanvaar dat die verbranding van fossielbrandstowwe sedert die eerste nywerheidsrevolusie gedurende die vroeë 1800’s ʼn groot bydraende faktor was in die verwarming van die laer atmosfeer. In Suid-Afrika word beraam dat hierdie verwarming plaasvind teen ʼn tempo van ongeveer 0,15°C per dekade, wat oor die afgelope 200 jaar geakkumuleer het tot ʼn temperatuurtoename van ongeveer 3°C.

So wat staan ons te doen? Daar word dikwels gehoor dat die mens in staat is om die “aarde te red”. Dit is belangrik om daarop te let dat die aarde in die verlede al heelwat anders daarna uitgesien het as vandag. So byvoorbeeld was kweekhuisgas­konsentrasies in die verlede al tienvoudig keer hoër as vandag, terwyl temperature 50 miljoen jaar gelede tot 14°C warmer was as vandag. Nieteenstaande hierdie toestande bestaan die aarde nog steeds en is daar geen nodigheid vir die mens om die “aarde te red” nie. Wat wel nodig is, is vir die mens om te verseker dat die omgewingsgrense wat op hierdie tydstip ekosisteme en lewe op aarde moontlik maak nie oorskry word nie, en veral nie oorskry word as gevolg van menslike toedoen nie. Dit beteken dat die mens self verantwoordelikheid moet neem vir die skade wat as gevolg van ekonomiese groei en industrialisasie aan ons natuurlike omgewing aangerig word, en dat die mens dus self verantwoordelik is vir die skep van ʼn herstelroete na volhoubare ekosisteme en ʼn lewensvriendelike omgewing.

Daar is verskeie maniere waarop hierdie herstel aangemoedig kan word. Eerstens is daar die opsie om die blaam te verskuif, soos in die geval van Greta Thunberg, of om vrees-psigose in te span om optrede af te dwing. Laasgenoemde is nie ideaal nie, bloot as gevolg van die feit dat vrees teenproduktief aanleiding kan gee tot ʼn “vries of vlug”-reaksie, en sodoende enige produktiewe hersteloptrede kan kelder. Alternatiewelik kan ʼn omgewing van selfverantwoordbaarheid geskep word, waar elke mens op aarde self verantwoordelikheid aanvaar vir die herstel van die skade wat aangerig is. Daarvoor is wedersydse samewerking en grootskaalse bewusmaking egter nodig.

Dit is ʼn feit dat ekonomiese groei en industrialisasie reeds daartoe aanleiding gee dat natuurgrense verskuif word, verwysende na onder meer klimaatsverandering, en dat hierdie verskuiwings negatief begin inwerk op menslike welvaart. Die tyd is dus ryp om ʼn nuwe roete in te slaan – ʼn roete wat fokus op selfverantwoordbaarheid, die bevordering van geestelike welstand en ʼn gemeenskaplike strewe na volhoubare ekosisteme. Dit het tyd geword dat ons weer bewondering betoon vir die baie spesiale toestande wat bestaan is om ʼn welvarende lewe op aarde moontlik te maak.