Studieaansoeke vir 2025 is reeds oop

Search
Close this search box.

Fonties neem deel aan merkwaardige fietsry-uitdaging

6 Oktober 2023

Geskryf deur Kayla Roets, Fontiepos-joernalis

Studente van Akademia, lede van AfriForum Jeug en studente van ander instellings, het op 18 Augustus vanaf 20:00 tot 08:00 op die Sol-Tech-kampus bymekaargekom vir ʼn buitengewone kompetisie. Dié geleentheid, bekend as die Cycle Challenge, het deelnemers se spanwerk, uithouvermoë en omgee op die proef gestel.

Daar was vyftien oefenfietse in die fiksheidsafdeling, elk met ʼn groter doel as bloot net oefen. Die tien studente in elke span het elkeen die fietse aangedurf en was gereed om die aand deur te trap. Vir elke kilometer wat getrap is, is ʼn skenking aan ʼn liefdadigheidsorganisasie gemaak. Die doel was om seker te maak dat die oefenfietse nooit stilstaan nie, met iemand wat te alle tye trap. Die kompetisie het nie net oor uithouvermoë gegaan nie; dit het daaroor gegaan om ʼn betekenisvolle impak op die gemeenskap te maak.

Die aand is met oefening, baie lag en kameraadskap gevul. Die spanlede wat nie fietsgery het nie kon aan ʼn verskeidenheid speletjies deelneem en hul spanmaats ondersteun. Die aand het ons Fonties uitgeput maar opgewonde gelaat omdat daar bewys is dat eenheid, vasberadenheid en goeie ondersteuning onvergeetlike ervaringe kan skep. Met die fondse wat aan ʼn fondsinsamelingsprojek van die wenspan se keuse geoormerk is, sal die impak van hierdie geleentheid nog lank in die toekoms ervaar word.

Huis Strelitzia het weggestap met ʼn prys van R2 500 nadat hulle as een van die kategoriewenners aangewys is.

 

Alle Fontiepos-artikels is deur studente vir studente geskryf en weerspieël nie noodwendig Akademia se mening of standpunt nie.