*Die Paarl-kampus is voorlopig goedgekeur
Gepubliseer op: 24 April 2026
Zoë van den Berg (21) gee nuwe betekenis aan die woord smaakmaker. Nie nét geniet haar Instagram-profiel, uni_foodies, ʼn gewilde volgelingskap nie, maar tower sy óók die heerlikste (en maklikste) disse vanuit haar koshuiskamer op – van bekende trooskos tot vinnige peuselhappies en die nuutste resepte wat op sosiale media tref.
Reeds as ʼn klein dogtertjie het dié inwoner van Huis Dahlia drie wyshede begryp: dat ʼn maaltyd die gom is wat mense bymekaar bring, dat die kombuis ʼn veilige hawe is ná ʼn uitdagende dag, en dat kos werklik ʼn liefdestaal is. Sό vanuit haar ma en haar ouma se kombuise het Van den Berg se passie en liefde vir kos en die kookkuns reeds van kindsbeen af ontwikkel. “My erfenis en my grootwordjare speel ʼn merkwaardige rol in my lewe en kosmaak is deel van my menswees,” sê Van den Berg. Met laasgenoemde in gedagte is haar gewilde Instagram-profiel ʼn natuurlike uitvloeisel. Noem dit as’t ware ʼn liefdestaak waarmee sy ander mede-Fonties inspireer en motiveer om self agter die kospotte in te skuif en ʼn gesonde leefstyl na te jaag.
Fontie-wees is ʼn fees
Van den Berg wat haar skooloopbaan aan die Hoërskool Nico Malan in Humansdorp in die Oos-Kaap voltooi het, vertel dat sy aanvanklik baie onseker was was oor haar toekomstige studieveld. Die één ding waaroor sy egter groot duidelikheid gehad het, is dat sy by Akademia wou studeer. “Omdat ek van ʼn klein dorpie kom, het ek geweet dat Akademia ʼn pasgemaakte studietuiste vir my sal wees en dat ek nie tussen die res sou verdwyn nie. ʼn Plek waar ek deel kon wees van ʼn gemeenskap wat omgee, ondersteun en aanmoedig,” meen Van den Berg. As sy vandag, as BCom (Ondernemingsbestuur)-derdejaarstudent, wat haar studie by wyse van die voltydse kampusmodel aanpak, terugkyk oor hierdie besluit, is sy steeds van mening dat Fontie-wees voorwaar ʼn fees is.
Haar gunstelingmodules sluit in Handelsreg, Entrepreneurskap en Kleinsakebestuur omdat dit haar nie net akademies toerus nie, maar ook haar kennis en vaardighede verbreed sodat sy daagliks die boustene vir haar besigheidsdrome kan neerlê. “Die dosente wat hierdie modules aanbied is besonder toeganklik en speel ʼn sleutelrol in my akademiese groei deur my voortdurend uit te daag om meer te leer en te ervaar as wat in die handboek staan,” voeg Van den Berg by.
Nóg ʼn rede waarom Van den Berg besluit het om Akademia haar studietuiste te maak is die instelling se eiesoortige en bruisende studentelewe. “By Akademia is daar sonder twyfel iets vir elke student. Elke Fontie en personeellid is deel van ʼn groter gemeenskap en neem self inisiatief om geleenthede vir hulself en ander te skep,” sê Van den Berg. Dit is dan juis ook hierdie dinamiese gees van tuiskoms en toekomsgerighteid wat haar studenteervaring verryk en verdiep.
As ʼn inwoner van Huis Dahlia neem sy graag deel aan aktiwiteite soos Sêr, asook die draf-en-koffieklub. “Huis Dahlia het soveel geleenthede vir my geskep. Ek het my beste vriendinne hier ontmoet en hier is ek deel van iets veel groter as myself,” vertel Van den Berg. Sy neem ook in koshuisverband deel aan kuns-en-kultuuraktiwiteite soos Fontasties en was in haar eerstejaar deel van die Akademia-koor.
Soos soveel ander lede van die groter Akademia-gemeenskap, is Van den Berg baie opgewonde oor die vooruitsig van die nuwe wêreldklas kampus in die ooste van Pretoria. “Akademia se groei maak my trots om Afrikaans te wees en ek beskou die nuwe kampus as ʼn vesting van moedertaalonderrig nie net vir die hede nie, maar vir die toekoms.” sê Van den Berg.
Kook as ʼn liefdestaal
Van den Berg se Instagram-profiel spruit voort uit haar liefde vir kosmaak, maar sy erken dat dié profiel aanvanklik ʼn impulsiewe besluit was – iets waaroor sy nou glad nie spyt is nie. Die profiel het dit ten doel om vinnige en maklike disse vir studente op ʼn bekende platform aan te bied, terwyl sy ook ook aan haarself bewys dat ʼn mens nie noodwendig ʼn opgeleide sjef óf duur toerusting nodig het om ʼn gesonde bord kos te maak nie. Natuurlik vertel sy blinkoog dat haar ouma se lamsboud en souskluitjies ook ʼn groot rol gespeel het in die besluit om haar eie afdruk op die kookkunswêreld te maak.
As ʼn kosentoesias (foodie) help Van den Berg om ʼn gesonde leefstyl onder haar mede-Fonties, en veral haar koshuismakkers, te kweek. Dit sluit in flatervrye geregte soos veelsydige pastadisse. “Pasta is ʼn goeie basis vir enige gereg en met ʼn bietjie verbeelding, ʼn lekker witsous en geurige maalvleis kan jy dié doodgewone ete in ʼn smullekker feesmaal omskep,” verduidelik Van den Berg.
Van den Berg glo dat roetine die sleutel tot ʼn gebalanseerde studentelewe is waarin Fonties hulself ten volle in elke ervaring kan inleef. Daarom is dit vir haar belangrik om die tyd wat sy tot haar beskikking het produktief te gebruik. As sy byvoorbeeld ʼn blaaskansie kry tussendeur al haar aktiwiteite, dan berei sy verskillende disse voor en vries dit om later in die week te gebruik. Alhoewel haar akademiese strewe haar eerste prioriteit is, is haar Instagram-profiel ʼn hartsprojek waaraan sy daagliks werk.
Haar werk as barista by Sowel As, Akademia se koffiehuis, verskaf haar voorts ook groot vreugde en bied haar die geleentheid om haar ander passie, naamlik goeie koffie, uit te leef.
Handige raad: Vul só jou koshuiskombuiskas
Vanuit haar koservaring is Van den Berg daarvan oortuig dat daar basiese, maar noodsaaklike produkte is wat altyd in ʼn student se koskas moet wees. Sy deel graag haar inkopielysie:
botter, egte botter – Indien margarien gebruik word, brand dit vinniger bruin in die pan en dra dit nie by tot die geur van jou kos nie.
As sy nie besig is om haar ma se blatjang-hoendergereg met aartappels, boontjies en pampoen te maak nie, is Van den Berg besig om met ʼn doel voor oë te werk – om die studentelewe-ervaring vir haar haarself en haar mede-Fonties onvergeetlik te maak deur lekker, maar gesonde etes. “Want kom ons wees eerlik, lekker eet is pens-en-pootjies deel van die studente-ervaring,” sluit Van den Berg af.
*ʼn Fontie is ʼn Akademia-student. Dit is ʼn woordspeling op die instelling se leuse, Ad futurum per fontes.

Akademia-skenkingsfonds
Eerste Nasionale Bank
Rekeningnommer: 62857561445
Takkode: 210554
Verwysing: Jou selfoonnommer
Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)
Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.
Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak.
083 254 0142
skenking@akademia.ac.za
Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.