Fontie-Marushca katrol gróót toekomsdrome in

Gepubliseer op: 18 Maart 2025

Vir Marushca Grobler (18) is daar niks lekkerder as die gevoel wat deur haar pols wanneer ʼn blinklyf aan haar hoek byt en met haar lyn hardloop nie. Om die waarheid te sê, dié opwinding lok haar reeds sedert negejarige ouderdom telkens terug na die viswaters. En ja, hierdie tydverdryf is vir Grobler méér as net ʼn naweekstokperdjie, hiervan getuig haar professionele erkenning as ʼn tophengelaar van die Suid-Afrikaanse Varswater Oewerhengel Federasie (SAVOF).

Grobler, wat vanjaar as eerstejaarstudent haar studie in die BA (Taalstudies)-program by wyse van Akademia se voltydse kampusmodel aanpak, is dit egter eens dat Fontie*-wees haar nét soveel blydskap en opwinding besorg. As ʼn inwoner van Huis Strelitzia, is dié oud-leerder van die Hoërskool Hoogenhout in Bethal, se studie-ervaring nouliks verweef met die instelling se eiesoortige en bruisende studentelewe. “As ʼn eerstejaarstudent voel dit werklik vir my asof ek tuis is en myself midde ʼn gemeenskap van familie bevind,” sê Grobler. Sy voeg by dat hierdie tuiswees haar in staat stel om met selfvertroue haarself te wees en in die proses word haar karakter en denkwyse doelgerig gevorm.

“As Fonties word ons nie net deur ons dosente en ander Akademia-personeel geslyp nie, maar ook deur mekaar. Die grootste les wat ek tot dusver geleer het, is om altyd dieper na te dink oor my ‘hoekom’ en daarom nie net altyd alles goedsmoeds te aanvaar nie,” meen Grobler. Nóg iets wat haar as Fontie met ʼn toekomsverwagting vul en haar motiveer om Akademia aan ander voornemende studente as ʼn studietuiste aan te beveel is die feit dat elke Fontie die geleentheid het om aktief saam te bou aan die vestiging van iets veel groter as hulself. In dié verband verwys sy na onder meer na koshuis- en studentelewetradisies.

Wat haar studieprogram betref meen Grobler dat tale reeds van vroeg af haar belangstelling prikkel. Sy geniet ook Joernalistiek, een van haar keusemodules. Sy vertel dat sy droom van ʼn beroep in die onderwys, en dat dié droom aangevuur is deur raakvat onderwysers wat haar veral in haar matriekjaar geïnspireer het. Een van dié onderwysers was juffrou Anri Potgieter. “Ek het só baie in juffrou Potgieter se klas geleer, oor taal én die lewe. Ek sal baie graag óók vir iemand anders só wil inspireer, en daarom beplan ek om na die voltooiing van my studieprogram ook die Nagraadse Onderwyssertifikaat (NGOS)-program aan te pak,” sê Grobler. Akademia bied die Nagraadse Onderwyssertifikaat (Senior Fase- en VOO-onderwys)-program via die instelling se nauurse afstandsmodel aan.

As die vis byt en die katrol sing

Grobler vertel dat die visvanggogga haar in graad 3 gebyt het, en dat sy aanvanklik dié sportsoort opgeneem het as ʼn manier om nuwe vriende te maak. Sedertdien het sy haar SAVOF-skolekleure verwerf, ʼn eer wat haar ook op streek- en provinsiale vlak te beurt geval het.

Volgens Grobler geniet hengel ʼn groot aftrek onder vroue nieteenstaande die wanpersepsie dat dié sportsoort uitsluitlik op die Adamsgeslag toegespits is. Sy gee verder toe dat die sport baie kompeterend is en dat die uitgawes daaraan verbonde hoog is. Behalwe vir plaaslike klubligas neem Grobler ook deel aan streekproewe, nasionale kampioenskappe en SAVOF- geaffilieerde kompetisies.

Op die vraag oor watter ander hengelhoogtepunte haar bybly antwoord Grobler dat die verste wat sy haar lyn al kon werp 123,4 m is en dat haar swaarste vangste ʼn karp van 9,15 kg en ʼn baber van 7,85 kg insluit. Sy droom daarvan om haar Protea-kleure in die nabye toekoms te verwerf. Tot dan bly sy gefokus op haar droom en oefen hard om haar fiksheidsvlakke hoog te hou.

En wat sal ʼn gesoute hengelaar wees as hy/sy nie ʼn gunstelingdoepa het om die visse mee te lok nie? In Grobler se geval is daar veral drie bestanddele wat onmisbaar is, naamlik. Kabeljoulewerolie (Cod liver oil), rooi Fluoresseïen en Asafoetida (ook bekend as Duiwelsdrekpoeier). Hierbenewens glo Grobler ook aan die waarde van ʼn positiewe ingesteldheid.

Indien jy soos Grobler ʼn passie vir tale het en in 2026 aan Akademia wil studeer, kry solank jou dokumentasie in orde. Studieaansoeke open op 1 April 2025. Besoek gerus die Akademia-webblad vir meer inligting.

*Fonties verwys na studente wat aan Akademia studeer. Dié eienaam is afgelei uit die instelling se leuse, Ad futurum per fontes – na die toekoms deur die bronne.

Fontie-eerstejaar Marushca Grobler is ʼn bedrewe hengelaar wat daarvan droom om eersdaags haar Protea-kleure in dié kompeterende sportsoort te verwerf.

Direkte inbetaling: Bankbesonderhede

Akademia-skenkingsfonds

Eerste Nasionale Bank

Rekeningnommer: 62857561445

Takkode: 210554

Verwysing: Jou selfoonnommer

Testamentêre bemaking

Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)

Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.

Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak. 


Zander Botha: Skenkingsfondsbestuurder

083 254 0142
skenking@akademia.ac.za

Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.