Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Enkele riglyne omtrent die indiening van inkomstebelastingopgawes

Gepubliseer op: 1 Julie 2021

Geskryf deur Michelle Coetzee, dosent in belasting en ouditkunde aan Akademia

Op 1 Julie 2021 open die Suid-Afrikaanse inkomstebelastingseisoen te midde van die derde Covid-19-vlaag. Hier volg enkele riglyne omtrent die indiening van inkomstebelastingopgawes.

Wanneer open die belastingseisoen vir individue en trusts?

  • Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) sal byna 3 miljoen belastingbetalers identifiseer vir outomatiese aanslag by wyse van teksboodskappe. Na afloop van hierdie kennisgewing moet die belastingbetaler die outo-aanslag teen 23 November 2021 op e-Filing aanvaar of wysig. Die outo-aanslag sal beraam word op die inligting wat die SAID vanaf finansiële instellings, mediese fondse, uittreeannuïteit-administrateurs, verskaffers van derdeparty-data en werkgewers ontvang.
  • Nie-voorlopige belastingbetalers wat nie outomaties geassesseer is nie, moet hul belastingopgawes teen 23 November 2021 indien. Hierdie indiening kan by wyse van e-Filing, die SAID se mobiele toepassing, of per afspraak by ʼn tak geskied. Die aanlyn besprekingstelsel is beskikbaar op die SAID se webwerf: www.sars.gov.za.
  • Voorlopige belastingbetalers en trusts moet hul belastingopgawes teen 31 Januarie 2022 via e-Filing of die SAID se mobiele toepassing indien.

 

Wie behoort inkomstebelastingopgawes in te dien?

  • Belastingbetalers wie se totale salarisse vir die 2021-belastingjaar R500 000 oorskry en beoog om hul bydraes tot uittreeannuïteitsfondse en mediese onkostes terug te eis, behoort hul IRP5e en ander belastingsertifikate te versamel in aanloop tot die indiening van hul belastingopgawes.
  • Belastingbetalers wie salarisse vanaf verskeie werkgewers gedurende die 2021-belastingjaar ontvang het, behoort hul belastingopgawes op e-Filing of via die SAID se mobiele toepassing in te dien.
  • Belastingbetalers wie huur- of rente-inkomste vir die 2021-belastingjaar ontvang het, behoort hul belastingopgawes op e-Filing of via die SAID se mobiele toepassing in te dien.

 

Dit is raadsaam vir belastingbetalers om hul persoonlike inligting, byvoorbeeld adres, bankbesonderhede en kontakbesonderhede op e-Filing te hersien in aanloop tot die indiening van belastingopgawes.

Wil jy jouself verder in belasting bekwaam? Akademia se Nagraadse Diploma in Belasting bied rekeningkundige studente die ideale geleentheid om in belasting te spesialiseer. Hierdie kwalifikasie stel studente in staat om die belangrike taak van individuele en organisatoriese nakoming van die vereistes van die SAID en die Nasionale Tesourie te verseker. Waarvoor wag jy? Klik hier vir meer inligting.

Michelle Coetzee is ʼn geoktrooieerde rekenmeester wat belasting en ouditkunde by Akademia doseer. Sy is ook die vakhoof van die modules belasting, finansiële rekeningkunde en ouditkunde en die programkoördineerder van die Hoër Sertifikaat in Rekeningkunde.

Bronverwysing:

SAICA, 2021. Preparing for the 2021 Filing Season. documents/2021/Preparing_for_the_2021_Filing_Season_YourTaxMatters.pdf