Nuwe program vir 2025 | BA (Taalstudies)

Search
Close this search box.

Akademia vier Spaarmaand

Gepubliseer op: 2 Julie 2021

Geskryf deur Nicolene Steenkamp, programkoördineerder: BCom (Finansiële Beplanning) en Nagraadse Diploma in Belasting

Volgens navorsing wat deur die Wêreldbank gedoen is, was Suid-Afrika se bruto spaarkoers tydens Desember 2019 slegs 14,6% teenoor die wêreld se gemiddelde 25%. Hieruit kan afgelei word dat Suid-Afrikaners nie noodwendig bewus is van effektiewe spaarstrategieë en -metodes nie.

Akademia loots ʼn spaarbewustheidsveldtog tydens Nasionale Spaarmaand om die gemeenskap daarvan bewus te maak hoekom dit belangrik is om te spaar. Vir Akademia is dit belangrik dat die gemeenskap moet weet wat die voordele van kort-, medium-, en langtermyn finansiële beplanning is.

Die bewusmaking van spaar en finansiële beplanning lê Akademia na aan die hart. Akademia fokus nie net op die bewusmaking van persoonlike finansiële beplanning nie, maar lei ook studente op in die veld van finansiële beplanning. Akademia bied ʼn BCom (Finansiële Beplanning)-kwalifikasie aan wat daarna streef om studente toe te rus om die beginsels van ekonomie, beleggingsbestuur en finansiële beplanning te verstaan en om die beginsels in die praktyk toe te pas. Dit rus die student toe met kennis en vaardighede in beginsels en die praktyk van ekonomie, finansiële bestuur, finansiële rekeningkunde, asook verskillende aspekte van sake- en beleggingsbestuur en verwante dissiplines.

Akademia se hooffokus tydens Spaarmaand is om die gemeenskap van die volgende bewus te maak:

  • Hoekom spaar belangrik is.
  • Die uitdagings van spaar in vandag se moeilike ekonomiese omstandighede en hoe om hierdie uitdagings te bowe te kom.
  • Wenke hoe om effektief te spaar.
  • Hoe om jou persoonlike finansies te bestuur.

 

Akademia nooi die gemeenskap uit om aktief by die veldtog betrokke te raak. Om te spaar, behoort deel van jou alledaagse lewe te wees. Soos Dave Ramsey sê: “Spaar moet ʼn prioriteit wees, nie net ʼn gedagte nie. Betaal jouself eerste.” Hou gerus ons sosialemediaplatforms vir praktiese spaarwenke en meer dop.

Nicolene Steenkamp, programkoördineerder: BCom (Finansiële Beplanning) en
Nagraadse Diploma in Belasting.