Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Die voordele en uitdagings van werk en studeer vir nauurse Fonties

24 Januarie 2024

Geskryf deur Anien van Niekerk, Fontiepos-joernalis

Baie van ons het die idee dat werk en studeer twee verskillende fases van ons lewens is, maar dit is vir baie Fonties nie die geval nie. Om tegelyk te werk en te studeer is nie maklik nie, maar hou ook baie voordele in.

Wanneer jy werk kry jy die geleentheid om jou studie prakties toe te pas soos wat jy nuwe kennis en vaardighede aanleer. Jy kan ook jou praktiese werkservaring gebruik om jou studiemateriaal beter te verstaan. Dit maak van jou ʼn beter werknemer én student.

Akademia se nauurse afstandsmodel bied aan Fonties die geleentheid om hul studie te voltooi terwyl hul reeds in ʼn beroep staan. Hierdie model bied verskeie voordele en oorkom dikwels tydverwante uitdagings vir studente.

Die eerste voordeel daarvan om gelyktydig te werk en te studeer is dat dit tot verhoogde selfvertroue kan lei. Daar is definitief uitdagings in beide studie en werk, maar die proses om deur hierdie moeilike dae te kom bou uitstekende karakter. As studeer of werk alleenlik soveel karakter kan bou, verbeel jou net watse tipe mens jy kan word as jy beide op dieselfde tyd doen.

Die tweede voordeel is dat verdere studie tot beter loopbaanvooruitsigte kan lei. Baie poste het die voorvereiste van werkservaring. Wanneer jy oor ʼn kwalifikasie én werkservaring beskik, is jou kanse tot beter werksgeleenthede soveel meer.

Nóg ʼn voordeel is dat jou netwerk versterk word deur die feit dat jy mense ontmoet wat jy dalk nie sou leer ken het as jy net gewerk het of net studeer het nie. Hoe meer mense jy leer ken, hoe groter word jou wêreld.

Om hierdie netwerke te bou kan jy deel vorm van Akademia se A-gemeenskap. Die doel van die A-gemeenskap is om ʼn platform te skep waar nauurse afstandstudente deel kan vorm van ʼn virtuele studentegemeenskap. Dit bied aan Fonties die geleentheid om medestudente te ontmoet en te leer ken, vriendskappe te bou en deel te neem aan sosiale studentegeleenthede. Klik hier om deel te vorm van die A-gemeenskap. 

Akademia se Studentesake-afdeling wil graag weet aan watter nauurse aktiwiteite jy sal wil deelneem om jou netwerke te versterk. Klik hier om ʼn vinnige opname te voltooi.

Daar is egter ook bepaalde uitdagings wat almal wat gelyktydig werk en studeer baie goed ken. Die eerste een is die sosiale opofferings wat gemaak moet word. Dit kan moeilik wees om balans te vind tussen al die verantwoordelikhede wat beide studeer én werk van jou vereis. Dit is belangrik om gedurende besige tye wel tyd vir familie en vriende in te ruim.

Die tweede uitdaging waarmee jy gekonfronteer word, is tydbestuur. Dit is belangrik om jou doelwitte te prioritiseer en dit wat die belangrikste is altyd eerste in ag te neem. Beplanning is jou beste vriend gedurende hierdie tyd van jou lewe.

Om gelyktydig te werk en te studeer kan soos ʼn nagmerrie klink, maar met die regte wapenrusting kan jy hierdie draak verslaan en ook terselfdertyd jouself gate uit geniet en baie waarde daaruit put.

Alle Fontiepos-artikels is deur studente vir studente geskryf en weerspieël nie noodwendig Akademia se mening of standpunt nie.