Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Die polsslag van Akademia se koshuislewe is sterk en gesond

28 Februarie 2024

Geskryf deur Kayla Roets, Fontiepos-joernalis

Doxa Deo Raslouw was ʼn miernes van bedrywighede op 9 Februarie, toe meer as 900 besoekers daar aangedoen het vir die jaarlikse eerstejaarskonsert. Vanjaar se konserttema was Fontie-kassie en die onderskeie sleepkoshuise het behoorlik geskitter met vlymskerp en skreeusnaakse produksies. Huis Magalies en Huis Strelitzia is as die algehele wenners van die konsert aangewys en is staande toegejuig. Die daghuise, Huis Daglelie en Huis Karoo, het ook baie goed gevaar op die aand en is met ʼn rits toekennings huis toe.

Die daghuise, Huis Daglelie en Huis Karoo, se produksie het die gehoor behoorlik aan die gons én giggel gehad, veral vir die manewales van die kameraman in die stuk. Die stuk het ʼn “Boerseun soek ʼn student”-tema gehad. Huis Hennops en Huis Dahlia het, ten spyte van ʼn paar tegniese haakplekke, ook vir vermaak uit die boonste rakke gesorg met goeie akteursvernuf, sang en dans.

Die deelnemende eerstejaars en hul onderskeie huiskomitees het lof van alle oorde ontlok en hul toewyding en passie het nie ongesiens verbygegaan nie. Dit was egter die goeie gees tussen die koshuise wat veral aandag getrek het, en almal wat die aand bygewoon het, was dit eens: die polsslag van Akademia se studentelewe is sterk en gesond!

Die jaarlikse Primus Chorum, oftewel eerstejaarsdinee, het die oriënteringsprogram vir 2024 se eerstejaarsgroep op ʼn hoogtepunt afgesluit. Fonties het in hul mooiste vere gepronk en daar is gedans en gekuier tot laat in aand.

Ligte, kamera, aksie! Die eerstejaarskonsert het vir vermaak uit die boonste rakke gesorg.
Huis Daglelie se huiskomitee het dié daghuis se verskeie toekennings tydens die eerstejaarskonsert in ontvangs geneem.
Fonties het behoorlik geskitter tydens die Primus Chorum.

Alle Fontiepos-artikels is deur studente vir studente geskryf en weerspieël nie noodwendig Akademia se mening of standpunt nie.