Nuwe program vir 2025 | BA (Taalstudies)

Search
Close this search box.

Coenie de Villiers skenk boeke aan Akademia

Gepubliseer op: 12 Julie 2021

Die bekende sanger en radio- en TV-persoonlikheid Coenie de Villiers het onlangs ʼn waardevolle skenking van joernalistiek- en kommunikasieboeke – veral oor die uitsaaiwese – aan Akademia se mediasentrum geskenk.

De Villiers, wat al vir dekades lank self uitsaai en ook op tersiêre vlak media-opleiding gedoen het, vertel dat hy die boeke in die loop van sy praktiese en akademiese loopbaan versamel het. “Ek het hierdie boeke self gebruik om beter te kan uitsaai.”

“Ek voel baie sterk oor gestruktureerde en professionele opleiding vir uitsaaiers”, sê De Villiers. “Ek het besluit om die boeke aan Akademia te skenk omdat ek ʼn passie vir radio het en die instelling opleiding deur middel van ʼn graad in kommunikasie en joernalistiek aanbied. Dit is die logiese keuse om die boeke aan hierdie instelling te skenk.”

Hierdie boeke dek ʼn wye verskeidenheid ondwerpe binne die media- en kommunikasievakgebied. Die meeste boeke handel oor uitsaaijoernalistiek, met spesifieke fokus op radio-uitsendings. Daar is ook boeke wat in die algemeen handel oor die vervaardiging van radioprogramme. Van die handboeke fokus op die verskillende skryfstyle vir verskillende uitsaaiprogramme en -mediums, asook op doeltreffende joernalistiek.

Dr. Alé Steyn, departementshoof van tale en kultuurwetenskappe by Akademia, noem dat dié departement veral dankbaar is oor die skenking, omdat heelwat van die boeke as aanvullende bronne vir bestaande modules gebruik kan word. “Dit is belangrik dat studente aan ʼn wye verskeidenheid gehaltebronne blootgestel word, sodat hulle ʼn sin vir hulle vakgebied en ʼn kritiese ingesteldheid kan kweek.”

Me. Elsje van Jaarsveld, bekende radio-omroeper en kommunikasiedosent by Akademia, sê dat radio en televisie baie van advertensie afhanklik is, dus is sy veral dankbaar vir die boeke wat leiding gee oor advertensies en verkope. “Die nuttige skenking word afgerond met suiwer korporatiewe kommunikasiehandeboeke wat ons studente kan toerus om binne ʼn organisasie goeie verhoudings te bou met al die belangegroepe.”

Akademia gebruik lankal reeds ʼn digitale biblioteek, maar het vanjaar vir die eerste keer die deure van ʼn eie mediasentrum op die Centurion-kampus geopen. “Wanneer die publiek nuttige boeke skenk, help hulle bou aan ʼn goeie mediasentrum – iets wat onontbeerlik is vir enige hoëronderwysinstelling,” sê Steyn. “Die mediasentrum is ʼn bymekaarkomplek waar idees gevorm en uitgeruil word en waar studente en akademici die geleentheid kry om met van die kernbronne in hul vakgebiede om te gaan. ʼn Mediasentrum is die ruggraat van ʼn universiteit.”

Sinvolle skenkings kan Akademia se akademiese bedrywighede bevorder. Indien jy van waardevolle bronne kennis dra wat Akademia se mediasentrum kan aanvul, stuur ʼn e-pos aan vriende@akademia.ac.za of klik hier.

Coenie de Villiers, bekende sanger, radio- en TV-persoonlikheid, het onlangs waardevolle kommunikasieboeke aan Akademia geskenk vir gebruik om opkomende kommunikasiekundiges en joernaliste verder toe te rus.