Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Bly breinfiks tydens eksamenvoorbereiding

Gepubliseer op: 21 April 2022

Deur Elisma van der Watt

Studentwees kan baie oorweldigend wees met alles wat jy in een jaar gedoen moet kry. Soos jy teen die tyd bewus is, is studentelewe nie net oor klasse bywoon nie, maar is daar ook koshuisbyeenkomste, studenteaktiwiteite, sportprogramme en natuurlik jou sosiale lewe. Dit is egter normaal om soms buite beheer te voel en angstig te raak wanneer jy eksamens begin skryf en jy besef dat jou hele akademiese en professionele loopbaan afhang van hoe jy op universiteit presteer.

Hieronder volg tien praktiese wenke om jou met die voorbereiding vir eksamen te help:

  • Beplan jou tyd. Wanneer die werk baie is en jy skryf amper elke dag ʼn module, kan dit moeilik raak om tyd te kry vir al jou leerwerk. Teen eksamentyd moet jou opsommings reeds klaar gedoen wees. Eksamentyd is daar vir hersien en herhaal. Wanneer jy jou eksamenrooster en afbakening kry, is dit belangrik om vir jou ʼn leerrooster uit te werk.
  • Maak seker jy kry genoeg slaap in. Slaap is uiters belangrik vir jou brein. Dit maak nie saak of jy beter in die oggend of aand studeer nie, solank jy net genoeg slaap in kry. Verkieslik agt ure per nag. Middagslapies kom ook altyd voordelig in. Navorsing toon dat ʼn slapie voor jou studietyd die brein voorberei en regmaak om nuwe inligting te ontvang. ʼn Slapie ná die studietydperk help om die inligting vas te lê.
  • Gebruik verkorte studiemateriaal. Som jou materiaal op enkele bladsye of flitskaart op. Dit is nuttig om saam met jou rond te dra om te hersien.
  • Beweeg gereeld en neem breinpouses. Moenie te lank aanmekaar leer nie. Leer maksimum 60 minute en rus vir 20 minute. As jy te lank aanmekaar leer, gaan jou brein nie alles kan onthou nie. Wanneer jy ʼn brein pouse neem, probeer iets aktief doen sodat jou brein genoeg suurstof kry.
  • Werk ekstra proteïne by jou maaltye in. Proteïenryke kos verskaf die boublokke vir die meeste liggaamvesels, senuwees en inwendige organe, insluitend die brein en hart. Daarby bevat dit ook baie yster wat verstandelike wakkerheid aanhelp. Jou brein het gesonde kos nodig om te funksioneer en die werk behoorlik te memoriseer. Hou die gemorskos en lekkers vir die vakansie en eet liewer gesond tydens eksamentyd. As jy kos eet wat jou bloedsuiker opjaag, gaan jy moeg wees.
  • Sorteer jou leerspasie uit. Dit is belangrik dat jy op ʼn stil plek leer en dat daar genoeg spasie is vir jou om al jou boeke en opsommings voor jou te sit. Sorg dat jou witbord langs jou staan sodat jy die werk kan hersien en herhaal. Kinetiese leerders moet onthou om beweging toe te pas terwyl hulle leer. Maak seker daar is niks in jou leerspasie wat jou aandag kan aftrek nie.
  • Skryf terwyl jy leer. Sorg dat jy kleurpenne en highlighters gebruik wanneer jy leer en voorberei vir die eksamen. Soos wat jy die werk hardop leer moet jy dit ook neerskryf. Gebruik jou opsommings en skryf jou werk oor en oor sodat jy dit makliker kan onthou.
  • Werk in ʼn studiegroep. Dit is soms goed om in ʼn studiegroep te werk sodat jy kan sien of jy die werk verstaan en dit kan bespreek. Elkeen van die lede van die studiegroep moet vooraf die werk op hulle eie leer en dan saam kom om dit te bespreek.
  • Op die dag van die eksamen moet jy voorbereid wees. Niks is erger as om in die eksamenlokaal te sit en agter te kom dat jou pen nie werk nie. Afhangende van die module wat jy skryf, maak seker jy het alles het wat jy benodig om te skryf.
  • Wees eerlik en realisties met jouself. Stel realistiese studiedoelwitte. Om alles die aand voor die eksamen te leer is nie baie effektief nie. Nog minder is dit effektief om te leer as jy te moeg is of nie volle aandag aan jou studiemateriaal skenk nie.

 

Om vir ʼn eksamen voor te berei kan jou angstig en kwesbaar laat voel. As dit voel of die druk alles begin oorneem, weet net dat jy nie alleen is nie.  Om angstig te raak is normaal, gelukkig het Akademia hulp byderhand. Kommunikeer eerste met jou dosente of maak ʼn afspraak by Akademia se studenteondersteuningskoördineerder, Michelle van Niekerk by michellevn@akademia.ac.za.