Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Meningstuk: Die Kultuurgesprek

Gepubliseer op: 21 April 2022

Deur: Daniel Langner

Waar lê die oorsprong van kultuur? Wat is kultuur? Watter invloed het kultuur op ʼn samelewing? Hoe kan kultuur bewaar word?

Dit is van die belangrikste vrae wat gevra moet word as die samelewing as sosiologiese sisteem verstaan wil word. Kultuur is die kern waarom ʼn samelewing wentel en dit is moeilik afskeibaar van hoe ʼn samelewing funksioneer en optree.

In die verstaan van kultuur, as afhanklike entiteit van ʼn bepaalde tydperk, moet die oorsprong van kultuur eers besigtig word, omdat ʼn kultuur net bevorder kan word deur dít wat hom vorm gegee het.

In hierdie sin kan kultuur in ʼn samelewing gesien word as ʼn kleifiguur. Die kleifiguur kan vervorm, verdraai, verpak en verskeur word, maar die “wese” van die klei sal altyd afhanklik wees van dit wat hom bind – naamlik klei. Net so, kan ʼn samelewing deur eksterne magte beïnvloed word, maar die gemeenskaplike ideologie, taal, geloof of waardesisteem van die kultuur sal altyd die kerndefinisie van ʼn bepaalde samelewing wees.

Die definisie of bestaansrede van ʼn kultuur is wel afhanklik van die tydperk waarin dit bestaan, en dus sien ons dat die “klei” van wat die kultuur is, weg kan smelt saam met die loop van tyd. Ons sien vandag dat ʼn globaliserende wêreld selfs die “wese” van ʼn kultuur kan vervorm en dit al hoe meer as ʼn bedreiging vir kultuur beskou word.

Is dit nie ʼn verleidende ideologie nie? Met die opkoms van Objektivisme (ontwikkel deur Ayn Rand) word die individu geskei van die samelewing, en sy eie geluk word as sy grootste morele doel bestempel. Hierdie idee in die globaliserende wêreld kan gevaarlik wees vir kultuur as entiteit in ʼn samelewing. Die wêreld word te veralgemeen en dus ervaar kultuurinstellings geweldig kritiek oor hoe dit die samelewing beïnvloed, wat die waarde van ʼn kultuur drasties verlaag.

Die belangrikste oplossing vir die bewaring van ʼn kultuurentiteit, as wapen teen globalisering, is dus om terug te slaan na die bestaansrede of “klei” van die kultuur in die samelewing. Dit beteken om ‘n konserwatiewe blik te ontwikkel oor die geskiedenis van die kultuur en hierdeur bewus te raak van die essensie van die samelewing. ʼn Besef sal moet plaasvind van die waarde van kultuur in ʼn samelewing se welstand en bevordering.

* Hierdie meningstuk weerspieël nie noodwendig die redaksie se standpunte nie. Studente word uitgenooi om hulle eie meningstukke te stuur.