Nuwe program vir 2025 | BA (Taalstudies)

Search
Close this search box.

Akademia-studenteraad skenk skildery aan direksie as gebaar van waardering

Gepubliseer op: 21 April 2022

Akademia se studenteraad (SR) het op 3 Maart 2022 ʼn skildery geskenk aan Akademia se direksie. Die geskenk dien as dankbaarheid vir wat die direksie doen vir al die studente. “Ons geniet dit om saam met die direksie te werk en saam te bou aan ʼn instelling wat goeie akademie bied maar ook ʼn goeie studentelewe,” sê Meyer.

Die SR het ná ʼn lang gesprek in een van hul vergaderings oor Akademia se verjaarsdagviering besluit om die skildery te laat maak. “Sonder die direksie sou ons as studente nie die geleentheid gehad het om in Afrikaans te kan studeer nie en ons wou ons dankbaarheid fisies wys deur middel van ons geskenk,” vertel Megan Meyer, ondervoorsitter van die SR.

Die SR het fyn beplan aan die boodskap wat oorgedra moet word in die skildery. “Die skildery is ʼn uitbeelding van Akademia se waardes, dit waarop Akademia bou en waarheen Akademia op pad is,” sê Meyer. Al vyf waardes naamlik; geloof, hoop en liefde, pionierskap, verbondenheid, rentmeesterskap en die strewe na kennis en wysheid staan op die skildery geskryf.

“Die waardes is vas in Akademia se karakter gegraveer en daarom staan dit op die skildery. Die hande wat bymekaar kom dui die eenheid en samewerking onder die Akademia-studente, sowel as personeel, dosente en bestuur aan,” sê Meyer. “Die duif verwys na Akademia se geloof en hoe Akademia erkenning gee vir God vir hoe ver Akademia al gevorder en versterk het.”

Volgens die Kaapse skilder, Anelle Beumer, verwys die trappe na Akademia wat aanhou vorentoe en boontoe beweeg. “Die boom wat vanuit die hande en duif vloei verwys na Akademia wat konstant groei as universiteit,” sê Beumer.

Die geskenk wys ons studente se omgee, respek en waardering vir die direksie, meen Marthinus Visser, besturende direkteur van Akademia. Die skildery hang tans in sy kantoor.

Dié geskenk het geboorte gegee aan ʼn blink tradisie wat die SR graag volgende jaar weer wil voortsit. “Die SR van 2022 sal die volgende jare se SR aanmoedig om met die tradisie vol te hou deur hulle te herinner aan wie ons lei en hoe ons hier gekom het,” sê Meyer.

Meyer meen verder dat die studente saam met die personeel en direksie bou aan ʼn toekoms.

“Ons as ʼn eenheid trek en bou saam aan die ‘huis’ en toekoms van ons gemeenskap. Sonder die direksie wat die planne maak, ons lei deur die besluite, ons aanmoedig, vorentoe stoot en sterk staan vir Akademia sou ons nie die tienjaar-feesvieringe kon hou nie,” vertel Meyer.

Megan Meyer, ondervoorsitter van die studenteraad oorhandig die skildery op 3 Maart 2022. Die funksie was ter viering van Akademia se tiende jaar van klasgee. Akademia-studente en personeel het saam feesgevier by koshuis@Leriba.
Marthinus Visser, besturende direkteur van Akademia, ontvang die skildery op 3 Maart 2022 vanaf Megan Meyer, ondervoorsitter van die studenteraad.