Kampusopedag 10 en 11 Mei 2024

Search
Close this search box.

Alumnus vertel oor haar studiereis by Akademia

Gepubliseer op: 11 September 2020

Dit is alombekend dat studies vir werkendes nie altyd maklik is nie, veral as jy boonop gesinsverpligtinge het waarby jy moet uitkom. Akademia se nauurse onderrigmodel is so ontwikkel om dit juis moontlik te maak vir werkendes wat graag ʼn gehalte-kwalifikasie in hulle moedertaal wil voltooi. Christa Tromp – 45-jarige werkende vrou, ma en gade – vertel hoe sy haar studiereis by Akademia ervaar het.

Tromp het voordat sy studies by Akademia aangepak het, by ʼn ander universiteit studeer om keuring te verwerf om verder te studeer. Sy wou graag ʼn graad in ʼn rekeningkundige rigting voltooi om haar moontlikhede as boekhouer by ʼn internasionale maatskappy uit te brei. Haar akademiese ervaring by hierdie universiteit was nie wat sy verwag het nie, aangesien sy minimale ondersteuning ontvang het, wat dan ook haar studiereis bemoeilik het.

“Ek het te hore gekom van die nuwe BCom (Bestuursrekeningkunde)-graad wat deur Akademia aangebied word en het besluit om in te skryf. Ek was een van die eerste groep studente wat BCom (Bestuursrekeningkunde) by Akademia studeer het – en ek was nie een oomblik spyt nie,” vertel Tromp. Sy voeg by dat hierdie kwalifikasie haar insae verdiep het oor hoe ʼn besigheid moet werk ten opsigte van begrotings en hoe finansiële besluite ʼn maatskappy affekteer.

Akademia se nauurse onderrigmodel is ingerig dat studente by studiesentrums van hulle keuse aansluit, waar hulle via gevorderde tegnologie in ʼn virtuele leerruimte met medestudente en dosente verbind word. Tromp vertel dat dit juis die interaksie met medestudente en dosente is wat haar gedurende haar studiereis gehelp het. Studente kan aan klasgesprekke deelneem deur eenvoudig ʼn hand op te steek en ʼn vraag te vra. Sagteware bring so ʼn student outomaties na die voorgrond van die videovoer in ander sessies, byna asof die vraag in dieselfde lokaal gevra is. Op ʼn soortgelyke wyse kan die dosent vrae aan enige student in enige van die studiesentrums rig, en word die bespreking regstreeks oor studiesentrums heen gedeel en ervaar.

Tromp meen dat ʼn groot oorweging vir studies by Akademia ook was omdat sy in haar moedertaal wou studeer het. Navorsing het al telkemale bewys dat moedertaalonderrig help om moeilike konsepte maklik te bemeester en toe te pas.

Akademia het ʼn leerbestuurstelsel genaamd Die Spens waarop alle studiemateriaal en klasse (van selfs vorige jare) beskikbaar gestel word. Navorsingsdatabasisse, klankopnames, gespreksforums, bykomende bronne – noem maar op! – is ook op hierdie platform beskikbaar. “Die ondersteuning wat aan ons as studente gebied is en die hulpvaardigheid van al die dosente het dit vir my maklik gemaak om die regte balans tussen werk, studies en gesinsverpligtinge te handhaaf.”

Sy het aansoek gedoen vir ʼn rentevrye studielening by Solidariteit Helpende Hand se Studiefondssentrum. Hierdie studielenings is eers terugbetaalbaar wanneer die student afgestudeer het, en boonop sonder om enige rente daarop te betaal. “Só kon ek my studies by Akademia befonds.”

Haar advies aan besige moeders daarbuite wat wonder of hulle moet studeer is om hulself nooit te geringskat nie. Sy meen dat ʼn mens enigiets kan doen as jy net in jouself glo. “Bepaal self wat jou kapasiteit is en kleur jou studiejaar so in! Elke module verg baie van jou tyd, so neem liewer minder modules en voltooi jou studies oor ʼn langer tyd as wat jy jouself onder onnodige druk plaas, of nie jou studies voltooi nie.”

Aansoeke vir studies in 2021 by Akademia is nog oop. Besoek www.akademia.ac.za, e-pos navrae@akademia.ac.za of WhatsApp 0861 222 888 vir meer inligting.

Christa Tromp – 45-jarige werkende vrou, ma en gade – vertel hoe sy haar studiereis by Akademia ervaar het. Sy het BCom (Bestuursrekeningkunde) studeer.