Kampusopedag 10 en 11 Mei 2024

Search
Close this search box.

Akademia neem deel aan internasionale simposium

Gepubliseer op: 23 Augustus 2020

Prof. Hannes Rautenbach, dekaan van die Fakulteit Natuurwetenskappe by Akademia, het op 20 Augustus 2020 ʼn referaat getiteld “Klimaatneigings in suidelike Afrika” by die Kunsmisvereniging van Suidelike Afrika se jaarsimposium gelewer. Die simposium het gefokus op die “2020-visie vir oesproduksie onder toestande van klimaatsverandering”. Die Kunsmisvereniging van Suidelike Afrika verteenwoordig die kunsmisbedryf in suidelike Afrika in die vorm van die produksie, verhandeling en verspreiding van kunsmisprodukte in hierdie geografiese gebied.

Die simposium is aanlyn aangebied deur voorafopnames van referate wat op die dag van die simposium aan meer as 100 simposiumbywoners vertoon is. Vrae aan die aanbieders is daarna elektronies ingestuur, waarna die vrae beantwoord is tydens die tweede dag van die simposium se uitgesaaide besprekingsessies. Prof. Rautenbach het die kongresgangers ingelig oor klimaatneigings wat sedert 600 miljoen jaar gelede plaasgevind het, en dit vergelyk met die mensgemaakte aardverwarming wat ons tans beleef. Daarna is praktiese wenke gegee oor hoe om by klimaatsverandering aan te pas.

Akademia beskou dit as noodsaaklik om op die speerpunt van nuutste ontwikkelinge in haar akademiese dissiplines te bly deur deelname aan internasionale simposiums soos hierdie.

Prof. Hannes Rautenbach, dekaan van die Fakulteit Natuurwetenskappe, hersien sy voorafopgeneemde referaataanbieding wat aanlyn gedurende die Kunsmisvereniging van Suidelike Afrika se jaarsimposium op 20 Augustus 2020 aangebied is.