Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Akademia-student styg uit bo struikelblokke

Gepubliseer op: 28 April 2021

Desiré Wehmeyer, ʼn gedrewe eerstejaarstudent by Akademia, deel haar storie van hoop. Sy is na ʼn uitmergelende 2020 ʼn inspirasie vir ander na sy met rumatoïede artritis en lupus gediagnoseer is, en boonop haar pa – tans in sy vierde stryd teen kanker – moes ondersteun.

Wehmeyer moes as hoofdogter van Hoërskool Bastion in Roodepoort onder andere met krukke skool toe gaan en het baie pyn in haar knie gehad. Dit het gelei tot haar diagnose van rumatoïede artritis, wat baie ongewoon is vir iemand van haar ouderdom. Na verskeie toetse was sy en haar ouers geskok toe hulle hoor dat hierdie siekte veroorsaak is deur lupus, ʼn immuniteitsgebreksiekte. Intussen het Wehmeyer se pa se kanker vir die vierde keer teruggekeer, waarna hy geopereer moes word en vir chemoterapie moes gaan. “Dit het my net nog meer negatief gemaak as wat ek al klaar was. Dit was regtig ʼn baie rowwe jaar”, vertel sy.

Dié baanbrekerstudent het haar egter nie van stryk laat bring nie, en sy is nou een van die eerste voltydse studente wat by die nuutingerigte Centurion-kampus studeer. Wehmeyer noem dat sy gekies het om BCom (Ondernemingsbestuur) by Akademia te studeer omdat dit haar die vaardighede sal gee om haar eie besigheid te begin en ʼn sukses van haar toekoms te maak. Sy was vanaf die eerste inligtingsessie wat sy bygewoon het verlief op Akademia en haar waardes, en sy het sonder twyfel Akademia haar studietuiste gemaak.

Na alles wat verlede jaar met haar gebeur het, glo sy dat 2021 ʼn beter jaar vir haar sal wees ten spyte van haar siekte. Sy was egter in die begin van die jaar uiters onseker oor of sy voltydse of deeltydse studies moet oorweeg. “Alles het egter uitgewerk soos dit moes en ek is nou voltyds op kampus. Nou gaan dinge baie beter as wat ek verwag het en dit gaan ook goed met my gesondheid.”

“My geloof speel ʼn baie groot rol in my ondersteuningstelsel. Ek glo dat die Here elke liewe oomblik saam my is,” sê sy. Sy noem ook dat ouers en vriendinne haar ondersteun het deur elke dag net daar te wees vir haar. “Hulle het my gehelp deur elke keer toe ek wou opgee my te wys hoekom ek nie moet nie. Hulle inspireer my deur in my te glo en my te druk om elke dag beter te wees as gister.”

Wehmeyer se raad aan ander wat deur moeilike tye gaan is om te onthou dat daar altyd ʼn uitweg sal kom, al lyk dit nie so nie. Sy noem dat God nie iets oor jou pad sal bring as Hy nie dink dat jy daardeur sal kan kom nie.

Haar groot droom is om eendag ʼn suksesvolle besigheidsvrou te wees wat ʼn verskil in ander se lewens kan maak. “Ek sê gereeld vir myself ek is nie wat my uitdagings sê ek is nie. Ek laat nie toe dat my uitdagings my onderkry nie. Ek voel dat die hindernisse in my pad my sterker gemaak het, en dit het my ook gedryf om nog harder te werk om sukses te bereik,” sluit sy af. Akademia is trots op Wehmeyer se suksesse en glo sy gaan alle verwagtinge oortref.

Desiré Wehmeyer is ʼn inspirerende Akademia-student wat haar nie deur die lewe laat onderkry nie.