Kampusopedag op 10 en 11 Mei is in

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Akademia-mediasentrum bied meer as net boeke

Gepubliseer op: 26 April 2021

Met die opening van Akademia se voltydse Centurion-kampus vanjaar het die instelling ʼn netjiese mediasentrum ingerig. Hierdie sentrum beloof om ʼn betekenisvolle rol te speel in die kweking van kennis en wysheid, en natuurlik om ʼn liefde vir lees by studente aan te wakker! Die mediasentrum, met ʼn gesoute bibliotekaris aan die stuur, se dienste is aan voltydse en nauurse studente, sowel as aan personeel, beskikbaar.

Die mediasentrum is toegespits daarop om meer as net toegang tot hardekopieboeke te verskaf. Ondersteuningsdienste soos hulpe met bronverwysings en die uitleg van werkstukke word ook verskaf. Studente kan ook in die studielokaal op kampus in ʼn rustige en gemaklike omgewing studeer.

Die sentrum het egter ook ʼn sterk aanlyn teenwoordigheid aangesien studente van regoor die land, en selfs die wêreld, aan Akademia studeer. Die mediasentrum se aanlyn platform het reeds meer as 40 000 elektroniese boeke vir studente beskikbaar om optimale bystand aan studente te bied – ongeag hulle ligging.

Volgens die bibliotekaris, Lianda Coetzer, is die mediasentrum die hart van ʼn student se akademiese reis. “Daar word juis by Akademia onderskeid getref tussen ʼn biblioteek en ʼn mediasentrum omdat daar ʼn groot verskeidenheid van leesstof en navorsingsoplossings aan studente verleen word.” Sy noem dat daar binnekort nuttige video’s op die aanlyn platform beskikbaar gestel word om die mediasentrum se aanbod verder uit te brei.

Boonop het die mediasentrum onlangs ʼn innoverende nuwe inisiatief op die been gebring om terug in die gemeenskap te ploeg. Boeke wat laat terug besorg word, sal in die vorm van nie-bederfbare produkte beboet word. Hierdie produkte word dan aan Helpende Hand besorg om aan minder bevoorregte persone te skenk. “Akademia – gebore vanuit die Afrikaanse gemeenskap, vir die Afrikaanse gemeenskap – kan met ʼn inisiatief soos dié ook ʼn bydrae aan gemeenskappe lewer,” vertel sy.

Daar word verder beplan aan opwindende leeskringe waar studente elke kwartaal ʼn nuwe boek kan ontdek, lees en met entoesiasme bespreek. Plaaslike skrywers sal mettertyd betrek word om boeke by die mediasentrum bekend te stel, of selfs net om oor hulle nuutste publikasies en ervarings te kom gesels.

Die mediasentrum se hoofdoelwit vanjaar is om ʼn groter en voller mediaversameling te bou. Coetzer meen dat enige boekskenkings en navorsingstukke van die publiek beslis ʼn waardige tuiste by Akademia kan vind om hierdie doelwit te verwesenlik. “Mens weet nooit watter skatte in die skenkings opgesluit lê nie.”

As mens terugdrink aan jou ervaring by ʼn biblioteek dink mens aan ʼn rustige plek waar mens kan studeer, met ʼn vriendelike bibliotekaris wat jou bystaan, en rakke en rakke vol kennis, vertel sy. “Die mediasentrum by Akademia beloof om dít en soveel meer te wees.”

Lianda Coetzer is vanjaar by Akademia as bibliotekaris aangestel. Sy het ʼn meestersgraad in Inligtingkunde en is reeds ʼn groot aanwins tot Akademia se mediasentrum. Sy het ʼn passie vir boeke en die reuk van ʼn nuwe boek is altyd vir haar die begin van ʼn nuwe avontuur en reis in haar verbeeldingswêreld.
Een van die vertrekke van die nuut-ingerigte mediasentrum op die Centurion-kampus waar studente kan studeer, ontspan en kennis ontgin.