Nuwe program vir 2025 | BA (Taalstudies)

Search
Close this search box.

Akademia vier Afrikaans se 96ste jaar as amptelike taal

Gepubliseer op: 7 Mei 2021

Op 8 Mei 1925 is Afrikaans as amptelike taal van Suid-Afrika erken. Vandag, 96 jaar later, is Afrikaans saam met tien ander tale steeds ʼn amptelike taal. Alhoewel Afrikaans en die veelheid van ander amptelike tale vandag vanweë ʼn strakke eentaligheidsbeleid misken word, toon Afrikaans ʼn besondere lewenskragtigheid – met Akademia as ʼn voorbeeld daarvan. Te midde van die eentaligheidsbeleid is Akademia ʼn trotse Afrikaanse instelling wat haar akademiese werk met groot sukses in haar moedertaal doen. In die besonder bied Akademia sowel opleiding as opvoeding op ʼn uitstaande wyse in Afrikaans – ʼn ontwikkelde en moderne universitêre taal – aan. Gemeet aan universele standaarde staan Akademia nie vir ander universiteite in die wêreld terug nie.

Hier is ʼn paar blitsfeite oor Afrikaans:

  • Afrikaans is die enigste Germaanse taal wat in Arabiese skrif getranskribeer is.
  • Afrikaans is die derde jongste Germaanse taal wat amptelik erken word. Faroërs is die tweede jongste en Luxemburgs die jongste.
  • Afrikaans het net meer as ses miljoen moedertaalsprekers.
  • Afrikaans is die derde grootste taal in Suid-Afrika, naas Zoeloe (11,5 miljoen) en Xhosa (8,1 miljoen).
  • Daar is meer Suid-Afrikaners met Afrikaans as hulle huistaal as Engels.
  • Afrikaans is die 140ste grootste taal ter wêreld uit die sowat 6 000 tale.
  • Meer as 95% van Afrikaans se woordeskat is van Nederlandse oorsprong. Grammatikaal gesproke is Afrikaans ook skatpligtig aan haar Nederlandse erfenis.
  • Die Afrikaanse Taalmonument is op 10 Oktober 1975 onthul, 50 jaar vandat Afrikaans in 1925 ʼn amptelike landstaal geword het. Die monument verteenwoordig die ontstaan, groei en prestasies van Afrikaans.
  • Spore van ʼn vroeë Afrikaans kan sover as die 1500’s teruggevoer word, met die taalkontak wat destyds tussen die Nederlandse seevaarders en die Khoi-Khoi ontstaan het.
  • Afrikaans is in 1914 as amptelike skooltaal erken.
  • Die eerste amptelike Afrikaanse Bybelvertaling het in 1933 verskyn.
  • Afrikaans is slegs een van vier tale wat tydens die twintigste eeu vanuit ʼn sogenaamde kombuistaal tot ʼn universitêre taal ontwikkel het. Sonder die ontwikkeling van Standaardafrikaans sou dit nie moontlik gewees het nie.
  • As gevolg hiervan handhaaf Afrikaans haarself op die talle terreine van die lewe (in die letterkunde, onderwys, universiteite, navorsingsentra, staatsdiens, ekonomie, polisie, weermag ens.) met uitnemendheid en selfvertoue.
  • Die prestasies wat Afrikaans tydens die 20ste eeu in die letterkunde behaal het, word as ʼn literêre wonderwerk beskryf. Vandag is Afrikaans steeds ʼn lewenskragtige taal in die prosa, digkuns en drama.

 

Akademia is ʼn onafhanklike hoëronderwysinstelling vanuit en vir Afrikaanse taal- en kultuurgemeenskap. Akademia bevorder Afrikaans as akademiese taal en vier saam met alle Afrikaanssprekendes hierdie spesiale dag.

Bronne:

https://www.wereldwyd.co.za/wereldwye-feite-oor-afrikaans/

https://www.taalmuseum.co.za/afrikaans-2/

http://www.mieliestronk.com/afrikboor.html

https://voertaal.nu/afrikaans-10-kitsfeite/