Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Akademia se kampusopedag is op almal se lippe

Geskryf deur Juné Jordaan, adjunkredakteur by die Fontiepos

Die gees by vanjaar se kampusopedag, wat op 12 en 13 Mei in Centurion plaasgevind het, was aansteeklik! Honderde voornemende Fonties se oë het in afwagting geglinster, terwyl huidige Fonties as ’t ware vlerke gegee het aan Akademia se studentwees-ervaring deur te sing, te dans en heelhartig aan die program deel te neem.

Tydens die verrigtinge in die markiestent het die Akademia-koor trots die universiteitslied vir  opedaggangers gesing en almal is dit eens: Dit was hoendervleis-mooi! Ná afloop van die formele gebeure in die tent was dit tyd vir voornemende Fonties om meer oor Akademia se verskillende studierigtings te wete te kom by wyse van verskillende inligtingsessies wat deur die onderskeie fakulteite aangebied is.

Verskillende stalletjies, wat ook dié van ʼn aantal buite-instellings soos AfriForum Jeug, Helpende Hand en Wolkskool ingesluit het, het tot die feestelike atmosfeer bygedra.

Die koshuise het groot gegaan met hul stalletjies! Huis Hennops het ʼn olifant-gelukbringer gehad wat behoorlik die aandag getrek het. Huis Strelitzia se giggelgroen VolkswagenKewer het die koppe laat draai, om nie eens van hul stylvolle uitstalling te praat nie. Huis Valorem was gehul in die reuk van vars springmielies en het voornemende Fonties se monde behoorlik laat water.

Tussendeur al die opwinding, het Spys gesorg dat oud en jonk iets te drinke en te ete kon geniet. Die gratis ysdrankies, oftewel “slush puppies”, was ook beslis ʼn treffer. Die koffiesleepwa wat boeretroos en kolwyntjies te koop aangebied het, was baie gewild en het reeds van douvoordag af ʼn lafenis teen die koue (en hongerpyne) gebied.

Dit was baie lekker om te sien hoe die Akademia-kultuur en -waardes in al die aktiwiteite van die opedag deurgeskemer het. Vanjaar se opedag was werklik ʼn groot sukses en een vir die boeke, met meer as 1 200 gaste wat die dag bygewoon het.

Volgens Demarco Robinson, waarnemende SR vir Bemarking en Kommunikasie, kan die sukses van die geleentheid nie aan enkele individue toegereken word nie, maar eerder aan ieder en elk wat saam gewerk het om ʼn impak te bewerkstellig.

Elana Kriel, dosent by die Fakulteit Opvoedkunde, verduidelik die sukses agter Akademia se  opedag as volg: “Almal werk saam, dink saam en doen saam. Uitstekende beplanning en rolverdeling is enkele van die sukses-elemente, maar die gedeelde betrokkenheid van personeel en studente skep voorwaar ʼn wonderlike en trotse eenheidsgevoel. Voornemende studente wil by huidige studente weet waarna hul kan uitsien, wat op hul wag en hoe die studentelewe is. By die Fakulteit Opvoedkunde word ons studente deel van die proses en neem hulle verantwoordelikheid om as Akademia-ambassadeurs op te tree.”

Akademia is werklik besig om sy merk op die groter gemeenskap te maak; hiervan getuig die oorweldigende sukses van die 2023-kampusopedag. “Hier by Akademia staan ons almal saam as een, ons kyk uit vir mekaar en gee om vir mekaar!” verduidelik Annemé Kriel, eerstejaarstudent in BEd (Grondslagfase).

Ná vanjaar se opedag is dit duidelik dat Akademia nie net nóg ʼn hoëronderwysinstelling is nie, maar wel dié hoëronderwysinstelling is waar studente graag wil wees.

Die Fontiepos-stalletjie by die kampusopedag van 2023. Leani Smith (redakteur) en Kayla Roets (joernalis) het die stalletjie help beman.
Voornemende Fonties en hul ouers by die opedag.

Alle Fontiepos-artikels is deur studente vir studente geskryf en weerspieël nie noodwendig Akademia se mening of standpunt nie.