Studieaansoeke vir 2025 is reeds oop

Search
Close this search box.

Ontmoet die nuwe Fontiepos-redaksiespan

Geskryf deur Megan Ferreira, joernalis en fotograaf by die Fontiepos

Die Fontiepos sprei vanjaar behoorlik sy vlerke met ʼn span toegewyde joernaliste, fotograwe en redakteurs wat voorwaar hul passie lééf. Hierdie span sluit sedert vanjaar weer voltydse sowel as nauurse studente in om te verseker dat die lief en leed van alle Fonties aandag geniet.

Om deel te vorm van die Fontiepos is volgens my soos om deel te wees van ʼn groot groep hegte vriende. Ons ondersteun mekaar in alles: toetse, uitdagende opdragte en streng sperdatums! Hiermee stel ek graag die lede van die Fontiepos voor.

Leani Smith
Hoofredakteur van die Fontiepos
Tweedejaar in BA (Kommunikasie en Joernalistiek)

Smith is ʼn groot liefhebber van die kunste, en woon graag teater-opvoerings by. Sy geniet dit om enigiets te skep wat ʼn kunstige element bevat. Sy het haar termyn as nuusredakteur verlede jaar baie geniet, en wou graag deel wees van nóg ʼn Fontiepos-jaar. “Die Fontiepos het baie plek vir groei aangesien ons nog so nuut is. As redakteur kan ek veranderinge bewerkstellig en help om te bou aan die fondasie van die Fontiepos.”

Juné Jordaan
Adjunkredakteur
Tweedejaar in BEd (Grondslagfase)

Jordaan beskou haarself as ʼn mense-mens en hou baie daarvan om tussen mense te wees. Sy geniet dit om tyd saam met haar gesin te bestee, veral om yskoffie saam met haar ma te drink. As onderwysstudent pas sy graag kinders op en geniet dit om tyd saam met hulle te spandeer. Sy is deel van die Fontiepos-span omdat sy baie daarvan hou om te skryf, en stories vas te vang wat herinneringe skep.

Jana Swanepoel
Subredakteur
Tweedejaar in BA (Kommunikasie en Joernalistiek)

Swanepoel hou baie van musiek; sy speel graag kitaar en baskitaar in haar vrye tyd. Sy is ook baie geïnteresseerd in die Koreaanse kultuur en leer reeds die afgelope twee jaar om Koreaans te praat. Sy geniet dit om naaldwerk te doen en handgemaakte juwele te maak. Sy het aansoek gedoen vir die posisie as subredakteur by die Fontiepos omdat sy baie  van redigering hou en graag meer daaroor wil leer. Verder is sy baie lief vir Afrikaans en wil graag bydra tot die toekoms van die taal. Sy glo dat die Fontiepos die perfekte plek is om saam met eendersdenkende mense te werk om die Fontie-kultuur te bevorder.

André Muller
Subredakteur
Tweedejaar in BCom (Ondernemingsbestuur)

Muller is ʼn berghardloper, boekleser, kitaarspeler, fietsryer, vleisbraaier, natuur-avonturier, feiteversamelaar, denker, geselser en getroue vriend. Hy vertel dat dit ʼn eer, voorreg en verantwoordelikheid is om deel van die Fontiepos-span te wees. Hy het ʼn groot liefde vir sy taal, want dit kan baie kleurvol en verbeeldingryk aangewend word. “Taal is veel meer as net die klanke en woorde wat deur jou mond gevorm word. Taal het ʼn dieper inhoud. Taal het gevoel. Taal vorm en taal bind,” vertel hy.

Marisha Hermann
Joernalis
Derdejaar in BA (Kommunikasie en Joernalistiek)

Hermann het ʼn groot liefde vir toer en geniet dit om die langpad vrou-alleen aan te durf. Sy sal graag in restaurante gaan sit en stories skryf oor die mense wat sy om haar sien. Sy is ook ʼn impulsiewe kunstenaar en geniet dit om kunswerke te maak wat vir haar betekenis dra. Verder sal sy graag nuwe kursusse wil volg en alles aanpak wat haar interesseer.

Kayla Roets
Joernalis
Eerstejaar in BA (Kommunikasie en Joernalistiek)

Roets doen al vir 10 jaar karate en het haar swart gordel ontvang. Sy skryf graag gedigte en kort stories, en hou ook baie van lees. Sy stel baie belang in joernalistiek, veral nuusstories wat baie drama en aksie bevat. Sy is deel van die Fontiepos omdat sy met haar mede-Fonties die aktiwiteite wil deel wat by Akademia plaasvind. Sy wil vir die breë publiek wys hoe lekker dit is om by Akademia te studeer, sowel as ervaring verkry in die joernalistiekveld.

Megan Ferreira
Joernalis en fotograaf
Tweedejaar in LLB

Ferreira hou baie daarvan om kort stories, gedigte en toesprake te skryf en geniet dit om in haar vrye tyd te lees en self gedigte te skryf. Sy hou ook baie daarvan om te leer, en glo dat kennis en integriteit jou wêreld sal verbreed. Sy is ʼn mense–-mens en wil altyd seker maak dat elke persoon wat sy ontmoet, gelukkig is. Sy stel ook belang in trompoppies. Sy het as joernalis en fotograaf vir die Fontiepos aansoek gedoen omdat sy baie hou van skryf, redigeer en, bowenal, om die mooiste lig en foto’s vas te vang met haar kamera.

Anien van Niekerk
Eerstejaar-NGOS-student
Joernalis

Van Niekerk hou baie daarvan om te lees, skryf, tennis te speel en daagliks te swem. Sy stel ook belang in stories, die wetenskap en in ʼn goeie potgooi. Sy het vir die Fontiepos aansoek gedoen omdat sy baie uitgesien het na ʼn lekker, nuwe, uitdagende skryf-avontuur.

Frances Dreyer
Fotograaf
Eerstejaar in LLB

Dreyer het ʼn groot belangstelling in mense en hulle goedheid – dit is vir haar mooi om te sien hoe mense mekaar help. Haar stokperdjies is foto’s en kunswerke, en sy hou daarvan om nuwe dinge uit te vind en oor nuwe dinge te leer. Sy het by die Fontiepos aangesluit om Akademia aan meer mense bekend te stel, en om ʼn positiewe studentelewe te help skep.

Danet van Wijk
Fotograaf
Tweedejaar in BA (Kommunikasie en Joernalistiek)

Van Wijk geniet dit om te teken en om nuwe vaardighede aan te leer. Sy het vir die Fontiepos as fotograaf aansoek gedoen omdat sy graag die mooi in die lewe wil vasvang, en omdat foto’s stories kan oordra wat woorde nie altyd kan nie.

Mari-Louise Botha
Fotograaf
Eerstejaar in BCom (Finansiële en Bestuursrekeningkunde)

Botha se stokperdjies is om perd te ry en na musiek te luister. Sy stel belang in kuns en om te reis. Sy het by die Fontiepos aangesluit omdat sy meer ondervinding as fotograaf wil opbou.

Die Fontiepos-span sien baie uit na toekomstige geleenthede wat by Akademia gaan plaasvind sodat ons nóg meer interessante stories met julle kan deel. Op hierdie manier kan ons Fonties opgewonde maak oor Akademia se bruisende studentelewe! Hou die webblad en julle e-posse dop vir nog stories en gebeure.

Alle Fontiepos-artikels is deur studente vir studente geskryf en weerspieël nie noodwendig Akademia se mening of standpunt nie.