Kampusopedag 10 en 11 Mei 2024

Search
Close this search box.

Akademia hou weer suksesvolle gholfdag ten bate van Skenkingsfonds

Gepubliseer op: 1 Augustus 2022

Op 26 Julie 2022 het Akademia sy tweede gholfdag by die Wingate-buiteklub, in Pretoria aangebied. Die gholfdag is ʼn jaarlikse instelling om fondse ten bate van Akademia se skenkingsfonds in te samel. Vanjaar was weereens ʼn sukses met byna R75 000 wat tydens die gholfdag vir dié fonds ingesamel is.

In totaal het daar 144 spelers in 36 vierballe gespeel en het die 17 bemande putjies gesorg vir vermaak en verversings. Die aand, ná ʼn goeie dag van perfekte weer en gholfpret, is afgesluit met ʼn prysuitdeling en ete met Rika Nieuwoudt as seremoniemeester, en MJ Nel het as gaskunstenaar opgetree.

Akademia is trots daarop dat die gholfdag op hierdie wyse die gemeenskap bymekaar kan bring om by te dra om die Skenkingsfonds sterker te maak. “In 2021 het ons die eerste gholfdag gehou met die doel om geld in te samel vir ons studente en toekomstige kampus, sowel as om bewusmaking te skep oor ons skenkingsfonds,” het Mareli Swanepoel, bestuurder van projekte by Akademia gesê. “Weens die sukses van die gholfdag, is ons bly dat ons die dag ʼn jaarlikse instelling op die Akademia-kalender gemaak het.”

Daar was wonderlike pryse en lootjies op die spel. “Baie dankie aan ons borge, en in die besonder die borge: Spoil Concepts, Saai, Sol-Tech, Sabaan, Quality Parts en Ukilima Ezinkiule Farming wat die dag moontlik gemaak het,” sê Swanepoel verder. Te danke aan borge kon elke speler wegstap met ʼn prys. Die wenvierbal, AfriForum Sport, kon elk ʼn prys kies wat wynsakke was. Dié is geborg deur Matt and Milly. Daar was ook pryse uitgedeel vir die langste hou, beste bemande putjie (gewen deur AfriForum Jeug) en vir die slaan van ʼn kolhou (hole-in-one). Die langste hou, gewen deur Nieuwoudt, het ʼn Wildebeest Brandewyn-geskenkpak gekry, en die kolhouwenner, Ian Lubbe, het ʼn elektriese fiets gewen (geborg deur Sakeliga). Niemand anders as AfriForum Jeug het die prys gewen vir die beste bemande putjie.

Die koshuis het ook die geleentheid gehad om fondse vir hulle huise in te samel deur lootjies te verkoop vir ʼn skaap, die jag van blouwildebeeste en rooibokke, asook ʼn kruiwa volgepak met bederfitems. ʼn Naweekwegbreek by Ukilima Ezinkiule Farming was ook deel van die lootjietrekking.

“Die gholfdag bied sterk verbondenheid en bring mense bymekaar vir ʼn goeie saak. Dit is ʼn baie lekker jaarlikse geleentheid wat elke vriend of ondersteuner van Akademia moet bywoon,” het Swanepoel gesê. “Ná aanleiding van die positiewe terugvoer wat ons ontvang het van almal betrokke, die ongelooflike gees van die dag en die feit dat die skenkingsfonds nog sterker hierdeur staan, sien ons uit na wat volgende jaar se gholfdag inhou”. Indien jy in die toekoms by Akademia se gholfdag betrokke wil raak, stuur gerus ʼn e-pos na leah@akademia.ac.za.

As jy graag meer wil uitvind oor Akademia se skenkingsfonds, klik hier en vind uit hoe jy ʼn bydrae kan maak om Akademia as studietuiste verder vir Fonties uit te bou.

Akademia se tweede gholfdag is vanjaar deur personeel, vriende en Fonties bygewoon ten bate van die Akademia-skenkingsfonds.
AfriForum Jeug het die prys tydens Akademia se gholfdag gewen vir die beste stalletjie.
Rika Nieuwoudt, dosent by Akademia, en haar span het goed gevaar tydens Akademia se gholfdag.