Kampusopedag 10 en 11 Mei 2024

Search
Close this search box.

Akademia hou vanjaar weer gholfdag ten bate van Skenkingsfonds

Gepubliseer op: 30 Mei 2022

Akademia is opgewonde om vanjaar weer eens ʼn gholfdag ten bate van die Akademia-skenkingsfonds aan te bied. ’n Eerste Akademia-gholfdag is in 2021 aangebied en daar is besluit om dit ʼn jaarlikse instelling te maak. Vanjaar se gholfdag vind op Dinsdag 26 Julie by die Wingate Park Buiteklub in Pretoria plaas.

Tydens verlede jaar se gholfdag is ʼn groottotaal van R80 000 ingesamel wat aan die Akademia-skenkingsfonds oorhandig is. Die instelling het egter vanjaar ten doel om R10 miljoen (vir die instelling se tiende verjaarsdag) in te samel om studente se drome te kan bewaarheid. Dié gholfdag is een van die fondsinsamelingsaksies wat die instelling vanjaar loods as bydrae om die doelwit te bereik.

“Die jaarlikse gholfdag is ʼn reusegebeurtenis op die Akademia-kalender. Die fondse wat vir die Akademia-skenkingsfonds ingesamel word, maak ʼn wesenlike verskil in Akademia-studente se lewens. Die dag is ook propvol gepak met opwindende aktiwiteite, heerlike stalletjies en dit bied ʼn wonderlike netwerkgeleentheid aan spelers en almal betrokke,” vertel Leah van Heerden, projekkoördineerder by Akademia.

Verlede jaar se gholfdag was ʼn groot sukses met 35 vierballe wat verkoop is. Al die putjies was ook volbespreek en Pieter Smith het gaste by die aandfunksie vermaak. Van Heerden noem ook dat verskeie bekendes en vriende van Akademia verlede jaar die gholfdag bygewoon het, soos dr. Theuns Eloff, Dricus du Plessis en Riaan Benadé. Daar is ook verlede jaar lieflike pryse tydens die aandfunksie uitgedeel, wat vanjaar weer die geval gaan wees.

Vanjaar word weer toekennings gemaak en sal daar ook deur die loop van die prysuitdelingsaand ʼn veiling wees om die Akademia-skenkingsfonds verder te ondersteun. ʼn Gaskunstenaar gaan ook sorg vir vermaak.

“Ons is baie opgewonde oor vanjaar se gholfdag en glo dat dit weer eens een vir die boeke gaan wees. Saam kan ons die Akademia-skenkingsfonds help groei en so ook ʼn werklike verskil in studente se lewens maak,” sluit Van Heerden af.

Indien jy nie ʼn kranige gholfspeler is nie, maar steeds by die gholfdag betrokke wil raak, is daar verskeie borgskapopsies waarby jy of jou ondernemings betrokke kan raak. Kontak gerus vir Leah van Heerden by leah@akademia.ac.za vir meer inligting oor die borgopsies.

Klik hier om jou vierbal in te skryf. Kyk hier na die hoogtepunte van verlede jaar se gholfdag! Onthou – ʼn slegte dag op die gholfbaan is steeds beter as ʼn goeie dag op kantoor. Sien jou daar!

Akademia bied op 26 Julie vanjaar weer ʼn gholfdag aan ten bate van die Akademia-skenkingsfonds.