Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Akademia en ADK smee bande met deeltydse dramakursus vir studente

Gepubliseer op: 25 Januarie 2021

Akademia is opgewonde oor ʼn ooreenkoms vir 2021 met die Akademie vir Dramakuns (ADK) om ʼn buitekurrikulêre dramakursus vir studente aan te bied. Hierdie samewerking het ten doel om ʼn studenteaktiwiteit te bied wat ook bydra daartoe om afgeronde studente te lewer wat met selfvertroue die samelewing kan binnegaan.

Die ADK, wat al reeds 80 jaar bestaan, bied ʼn hoogstaande Cathsseta-geregistreerde lisensiaatkursus in drama, radio en film aan wat op ʼn NKR-vlak 4 erken word. Hierdie kursus is ideaal vir volwassenes wat ʼn passie het vir drama en toneelspel, en graag ʼn deeltydse kwalifikasie in hierdie rigting wil voltooi.

Franciska van der Merwe, direkteur van die ADK, meen dat Akademia-studente beslis gaan baat by die kursus. “Drama kweek selfvertroue, en selfvertroue kweek sukses. Studente word toegerus om ʼn loopbaan in toneel te beoefen, of selfs net hulle gekose beroepe af te rond met nuttige lewensvaardighede soos selfvertroue en kreatiwiteit om hulleself in veral bestuurshoedanighede te handhaaf.”

Die kursus strek oor drie jaar en behels weeklikse klasse van een uur elk. Aanbiedings vir afstandonderrigstudente sal in ʼn kombinasie van elektroniese onderrig en kontaksessies by die aangewese ADK-takke landswyd aangebied word. Studente wat by Akademia se Centurion-kampus studeer sal weekliks ʼn kontaksessie op die perseel bywoon.

“Hoewel die kursus nie deel van Akademia se kurrikulum uitmaak nie, word studente wat belangstel in toneel, maar ook openbare optrede, aangemoedig om die kursus vir hulle rekening te neem,” sê prof. Pieter Duvenage, dekaan van die Fakulteit Geesteswetenskappe. “Uiteindelik kan sulke opleiding studente se akademiese opleiding mooi komplementeer.”

Vir meer inligting oor die dramakursus, stuur gerus ʼn e-pos aan info@adk-drama.co.za of besoek www.adk-drama.co.za.