Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Hoe werk akademiese krediete?

Gepubliseer op: 27 Januarie 2021

Geskryf deur Liana Venter (registrateur) en dr. Paul Steyn (provost)

Akademia kry dikwels navrae oor die betekenis en hantering van akademiese krediete en kredietoordrag tussen verskillende hoëronderwysinstellings. Hier volg ʼn bondige uiteensetting.

Wat is krediete en hoekom verskil die totale krediete van programme?

Krediete is waardes wat aan programme toegeken word soos in die Raad vir Hoër Onderwys (RHO) se Hoëronderwys­kwalifikasiesubraamwerk (HOKSR) geformuleer. Dit het twee doelwitte, naamlik om ʼn aanduiding te gee van die verwagte onderrig- en leertyd wat toegeken is aan ʼn kwalifikasie, asook om standaarde van verskillende kwalifikasievlakke (bekend as NKR-vlakke) voor te skryf. Daar word ʼn tydsduur van 10 onderrig- en leerure aan een krediet toegeken. Dit bied ʼn aanduiding van die gemiddelde tyd wat ʼn deursnee student sou bestee om die kwalifikasie te voltooi. Byvoorbeeld ʼn kwalifikasie wat bestaan uit 120 krediete behoort binne 1 200 studie-ure voltooi te word. Hierdie tyd sluit kontak-, assessering en selfstudie in. ʼn Voltydse akademiese jaar word bereken as ʼn periode van 1 200 uur, alhoewel daar uitsonderings hierop kan wees.

Ofskoon die kwalifikasie se aantal krediete deur die Suid-Afrikaanse Kwalifikasieowerheid (SAKO) geregistreer word teen die minimum krediete daaraan toegeken deur die HOKSR, dui die HOKSR aan dat die krediete gesien word as minimum krediete en staan dit die betrokke hoëronderwysinstelling vry om meer krediete (binne ooreengekome perke) aan ʼn kwalifikasie toe te ken en dit dienooreenkomstig te laat akkrediteer. ʼn Kwalifikasie kan dus byvoorbeeld geakkrediteer word met 410 krediete (soos die BCom [Ekonomie en Regte] by Akademia) en so aangebied word, terwyl dit by SAKO geregistreer is as ʼn graad met 360 krediete as die minimum krediete soos per die HOKSR.

Wat is kredietaansoeke en is dit dieselfde by alle universiteite?

Studente wat voorheen aan ʼn ander hoëronderwysinstelling  studeer het en ʼn aantal modules daar geslag het, doen dikwels aansoek by Akademia om sulke krediete te laat erken en dus vrystelling van soortgelyke modules in die kursus waarvoor hulle wil inskryf te kry.

Universiteite het outonomie om kredietaansoeke te hanteer volgens die instelling se goedgekeurde interne beleide. Daar is geen algemene voorskrif of nasionale beleid wat hierdie oorwegings rig nie, alhoewel die RHO wel riglyne vir universiteite in hierdie verband verskaf. Hierdie riglyne bepaal egter slegs wanneer krediete nié oorgedra mag word nie. Universiteite kan dus ʼn kredietaansoek weier al voldoen dit aan die RHO se minimum vereistes. Studente wat aansoek doen om sulke krediete vir erkenning voor te lê is onderhewig aan die voorwaardes van die betrokke universiteit waarby aansoek gedoen word.

Hoekom word krediete partykeer nie toegestaan nie?

Omdat die modulestrukture, -inhoude en -uitkomste, assesserings en krediettoekenning van modules op verskillende maniere deur verskillende universiteite verwerk word, is die oordrag van krediete tussen instellings nie eenvoudig nie. Sekere universiteite het ʼn semesterstelsel met semestermodules, terwyl ander jaarvakke het. Semestermodules het gewoonlik kredietwaardes van 8 tot 12 krediete, terwyl jaarmodules meestal ʼn minimum van 20 krediete dra. Studente neem dikwels slegs ʼn enkele semestermodule (8-12 krediete) en kan dus nie die krediete daarvoor aanbied vir ʼn soortgelyke jaarmodule (20-40 krediete) nie. Om dit verder te kompliseer het so ʼn student waarskynlik nie presies dieselfde kurrikulum gevolg as by die instansie waarheen die krediete oorgedra wil word nie. Krediete kan slegs oorgedra word indien daar 80% se oorvleueling in die module-inhoud van die twee modules is.

Wanneer kan voornemende studente oorweeg om vir krediete aansoek te doen?

Studente kan aansoek doen vir krediete wanneer hulle van mening is dat hulle aansoek aan die volgende voldoen:

  • Die module is deel van ʼn geakkrediteerde program by die universiteit waar dit aangebied word. Nie-geakkrediteerde kortkursusse of modules wat nie formeel geassesseer is nie, kan nie oorweeg word nie.
  • Die programme is op dieselfde NKR-vlak. Diploma-krediete kan nie aangebied word vir graadstudie nie.
  • Die kredietwaarde van die voltooide module is dieselfde of groter. Krediete vir semestermodules kan nie vir jaarvakke aangebied word nie.
  • Daar is 80% se ooreenstemming met die module-inhoude van die module waarin die krediete verwerf is en die module waarvoor aansoek gedoen word.

 

Kan studente in enige van ons programme vir krediete aansoek doen?

Studente kan vir enige program vir krediete aansoek doen, mits hulle aan die toelatings­vereistes van die betrokke program voldoen. Die feit dat ʼn vorige universiteit hulle toelating vir ʼn program gegee het, beteken nie dat hulle by byvoorbeeld Akademia aanvaar sal word nie. Behalwe die minimum statutêre vereistes om toelating tot ʼn program te verkry, behou hoëronderwysinstellings ook die reg voor om addisionele vereistes te stel.

Klik hier vir meer inligting oor aansoek om krediete by Akademia.