Kampusopedag 10 en 11 Mei 2024

Search
Close this search box.

Wysigings in belastingwetgewing

Gepubliseer op: 27 Januarie 2021

Geskryf deur Michelle Coetzee, dosent in Ouditkunde en Belasting by Akademia

President Cyril Ramaphosa het op 24 Maart 2020 tussentydse belastingverligtingsmaatreëls teen Covid-19 aangekondig. Sedertdien is die volgende belastingmaatreëls bekragtig by wyse van die ondertekening van die Wet op Skale en Monetêre Bedrae en Wysiging van Inkomstewette, die Wysigingswet op Belastingwette en die Wysigingswet op Belastingadministrasiewette.

1. Belastingramings

Jan Taks se beraamde aanslag geld voorts namate ʼn belastingpligtige versuim om te reageer op kennisgewings of uitreikings vanaf die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID).

2. Bona fide-beurse wat deur werkgewers toegeken word

Indien ʼn werknemer se vergoedingspakket onderhewig is aan ʼn element van salarisopoffering, sal geen belastingvrystelling voortaan voorsien word ten opsigte van ʼn studiebeursbyvoordeel nie.

3. Dag-tot-dag-uitgawes

Die Inkomstebelastingwet het voorheen voorsiening gemaak vir ʼn belastingverligting as ʼn werknemer noodgedwonge een of meer aande weg van die huis af moes deurbring. Maatskappye mag voortaan hulle eie beleid omtrent dag-tot-dag-uitgawes formuleer ten einde die uitgebreide belastingverligting optimaal te benut.

4. Kriminele vervolging vir geringe belastingoortredings

ʼn Belastingpligtige kan in die toekoms strafregtelik vervolg word vir ʼn onbeduidende belastingoortreding ondanks blote nalatigheid.

5. Onttrekking van aftreefondse met emigrasie

Vanaf 1 Maart 2021 sal emigrante slegs toegang tot aftreevoordele verkry indien hulle vir ʼn ononderbroke tydperk van drie jaar vir belastingdoeleindes as ʼn nie-inwoner beskou word.

6. Twyfelagtige skuld

Die twyfelagtige skuldtoelaag sal voortaan bereken word ná die berekening van enige sekuriteit wat beskikbaar is ten opsigte van daardie skuld. Hierdie oorweging belyn die belastinghantering van twyfelagtige skuld tussen ʼn belastingbetaler wat IFRS 9 toepas en ʼn belastingbetaler wat dit nie toepas nie.

7. Verligting vir Suid-Afrikaners in die buiteland

ʼn Suid-Afrikaner wat in die buiteland werksaam is en meer as R1,25 miljoen inkomste gedurende die 2021- jaar van aanslag gegenereer het, sal steeds kwalifiseer vir ʼn belastingvrystelling mits hulle minstens 117 dae buite Suid-Afrika deurgebring het. Hierdie tussentydse toegewing vanweë internasionale reisbeperkinge te midde van die grendelstaat geld met voorbehoud dat die bedoelde persoon minstens 60 van die 117 dae aaneenlopend buite Suid-Afrika moes deurbring.

8. Oordraagbaarheid van belastingaansporing vir indiensnemingseise (Employment Tax Incentive – ETI)

Geen oortollige nie-belastingvrye ETI-eise sal aan die einde van die lopende betaalstelselversoeningstydperk oorgedra word nie.

9. Weerhouding van terugbetaling

Die SAID mag ʼn belastingpligtige se verskuldigde terugbetaling weerhou indien hulle strafregtelik ondersoek word.

Akademia se Nagraadse Diploma in Belasting is ideaal vir individue wat hulle loopbane in belasting verder wil ontwikkel. Ontsluit jou toekoms en besoek die webblad vir meer inligting omtrent hierdie beroepsrelevante kwalifikasie.

Michelle Coetzee is ʼn geoktrooieerde rekenmeester. Sy doseer Ouditkunde en Belasting by Akademia en is die Vakhoof: Belasting, Finansiële Rekeningkunde en Ouditkunde.

Bron:

Businesstech. Ramaphosa has signed new tax and finance rules into law – here are the changes you should know about https://businesstech.co.za/news/finance/463196/ramaphosa-has-signed-new-tax-and-finance-rules-into-law-here-are-the-changes-you-should-know-about/ [Datum van gebruik: 26 Januarie 2021].