Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Covid-19 belemmer Akademia nie

Gepubliseer op: 20 Januarie 2021

Ten spyte van die ontwrigtende tyd waarin die wêreld tans verkeer is Akademia reeds goed op dreef om hierdie akademiese jaar op ʼn hoë noot af te skop. Terwyl daar wêreldwyd onsekerheid by talle studente heers oor wanneer hulle akademiese jaar afskop, sal Akademia-studente ongesteurd gehalte onderrig en opvoeding in hulle moedertaal kan ontvang.

“In 2020 kon 1 283 Akademia-studente oor nege programme steeds voortgaan met studies om vir hulle ʼn blink toekoms te skep”, vertel Marthinus Visser, besturende direkteur van die instelling. Akademia se gevorderde tegnologie, wat deel vorm van haar nauurse onderrigleermodel, is van so aard dat die aanpassing na klasbywoning tuis redelik soomloos kon gebeur. “Hierdie model is goed geposisioneer en het sigself verlede jaar tydens die pandemie reeds oor en oor bewys,” meen Visser. Akademia bou vanjaar voort op suksesse en lesse geleer in 2020 om die nuwe akademiese jaar selfs beter in te rig.

Akademici se voorbereiding en beplanning vir kontaksessies is in kanne en kruike, met seniors wat op 23 Januarie vir oriëntering verwelkom word. Akademia se dosentekorps vergroot ook vanjaar met 21 deeltydse dosente, 9 voltydse dosente en ʼn departementshoof vir professionele studies. Dr. Rachel Maritz, voorheen verbonde aan die Universiteit van Pretoria, sluit ook as dekaan van die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe by Akademia aan.

“Hierdie posaanstellings is daargestel om bykomende akademiese ondersteuning te bied vir die groei wat Akademia in haar akademiese aanbod ervaar,” sê Visser. “Vyf splinternuwe kwalifikasies word vanjaar vir die eerste keer aangebied.” Een hiervan is die Nagraadse Onderwyssertifikaat (Senior Fase- en VOO-onderwys), wat reeds aanvang geneem het. Verdere kwalifikasie-ontwikkelings is ook in die pyplyn.

ʼn Verdere eerste is die voltydse kampus wat onlangs ingerig is om vanjaar voltydse studies by die Centurion-kampus aan te bied. Visser noem dat die instelling gerat is om voort te gaan, ongeag die twee scenario’s wat vanjaar kan uitspeel. “Indien daar inperkingsmaatreëls in plek is, sal voltydse studente vir solank dit nodig is aanlyn kan voortgaan weens die gevorderde tegnologie en onderrigmodel wat reeds in plek is. Sou die inperkingsmaatreëls opgehef word, sal studente op ons nuut-ingerigte kampus kan klasdraf en word maatreëls in plek gestel sodat studente in ʼn veilige en gesonde omgewing hulle studies kan voortsit.”

Aansoeke vir voorgraadse studies is nog tot 2 Maart oop om voornemende studente verder in onsekere tye te akkommodeer. Vanweë die matriekuitslae wat vanjaar later bekendgemaak word, sal voorgraadse eerstejaars op 15 Maart oriëntering bywoon en klasse daarna aanvang neem. Die akademiese roosters is nougeset verpak om steeds te verseker dat studente suksesvol deur die akademiese jaar kan beweeg.

Om eerstejaars te akkommodeer wat later met die akademiese jaar begin, bied Akademia reeds vanaf Februarie waardetoevoegende ondersteuning aan studente. Studente kan in die gerief en gemak van hulle eie huis ʼn gratis kursus bywoon om die kuns van studentwees baas te raak – selfs nog voordat hulle akademiese reis by Akademia begin. Hier word nuttige temas soos basiese rekenaarvaardighede, hoe om vir die akademiese jaar voor te berei, akademiese taal- en skryfvaardighede, basiese akademiese navorsing en wenke vir die aflê van assesserings hanteer.

Ongeag wat vanjaar gebeur is Akademia gereed om weer soos in die verlede wêreldklas onderrig aan studente te bied.

Hou hierdie spasie dop, want daar is nog groot dinge op pad. Vir meer inligting oor Akademia, besoek www.akademia.ac.za, of stuur ʼn WhatsApp aan 0861 222 888. Akademia, jou Afrikaanse studietuiste!