*Die Paarl-kampus is voorlopig goedgekeur
Gepubliseer op: 19 Maart 2026
Op 27-jarige ouderdom staan Akademia-alumnus, Christian Heuer, reeds stewig geanker in sy beroep én sy gemeenskap. Meer nog, dié boorling van Warmbad in die Limpopo-provinsie ontsluit die toekoms vir homself een Akademia-kwalifikasie ná ʼn ander en versinnebeeld só sy alma mater se jaartema, Boustene vir ons toekoms.
ʼn Onsekere begin lei tot ʼn stewige grondslag
Heuer se Akademia-storie begin in Januarie 2018 toe hy as skoolverlater onseker oor sy toekomsmoontlikhede was. “Ek het pas matriek geslaag en ek het eerlikwaar nie geweet wat die volgende stap op my lewensreis moet wees nie,” vertel Heuer en voeg by dat hy op sy ma, Charnell Boshoff, se aandrang by Akademia aangeklop het.
Hy vertel dat hy nog altyd ʼn aanleg vir besigheid gehad het, maar dat sy matriekpunte hom nie onmiddellike toegang tot die instelling se BCom (Ondernemingsbestuur)-program gebied het nie. Alles was egter nie verlore nie, en danksy die praktiese én hoopvolle raad wat hy van die instelling ontvang het, kon hy sy studie by wyse van die Hoër Sertifikaat in Kantooradministrasie-program aanpak. Min sou hy weet dat dié eerste tree oor die bestek van die volgende agt jaar die grondslag van ʼn toegewyde én toekomsgedrewe studie- en loopbaanreis sou word.
Sedertdien het Heuer, wat tans die Nagraadse Diploma in Skoolleierskap en -bestuur-program volg, die volgende kwalifikasies aan sy alma mater verwerf:
Nagraadse Onderwyssertifikaat (Senior Fase- en Verdere Onderwys en Opleiding-onderwys), 2023 tot 2024.
Gedurende sy eerste studiejaar het Heuer twee keer per week die pad vanaf Warmbad na Pretoria aangepak, en by familie oorgeslaap om sy klasverpligtinge by die Centurion-sentrum na te kom. “Dit was ʼn langsame proses, dié heen-en-weer-ryery, maar dit was absoluut die moeite werd,” onthou Heuer. Sedertdien het hy oorgeskakel na die e-leeropsie wat hom in staat stel om voltyds te werk terwyl hy studeer.
Van ʼn familiesaak na ʼn loopbaan in die onderwys
Vir Heuer, ʼn onderwyser by Hoërskool Nylstroom, het die roete na loopbaanvervulling hom aanvanklik grondpadlangs gelei na die Heuer-familieplaas. Dié familiesaak het hom egter waardevolle lewenslesse geleer, waaronder dié van harde en toegewyde werk.
Hoewel die skuif vanaf die plaas na die onderwyssektor ʼn aanpassing was, meen Heuer dat elke stap op sy loopbaanreis hom toerus vir nuwe uitdagings. Een van die vaardighede wat hy byvoorbeeld as onderwyser moes bemeester is tydsbestuur – ʼn vaardigheid wat in kombinasie met sy vorige akademiese en lewenservaringe baie waardevol is. Hierbenewens speel balans ʼn baie belangrike rol, nie net wat professionele uitsette betref nie, maar óók wat karaktervorming betref.
Waar daar ʼn wil is, is daar ʼn weg
Wanneer dit kom by raad aan huidige en selfs voornemende Fonties*, is Heuer se advies eenvoudig, maar diep deurleef:
Wees aktief betrokke by aktiwiteite, soos byvoorbeeld sport, wat jou help om te ontspan en spanning teen te werk.
“Elke klas en module help om jou as student te vorm, terwyl dit jou ook doelgerig voorberei vir die beroepswêreld. En ja, enige iets wat werklik waardevol is vereis moeite en harde werk. Onthou dat jy elke dag aan jouself en jou toekoms bou,” sê Heuer.
Terugskouend onthou Heuer hoe daar slegs ses studente in sy kontakklas was, en is dit vir hom, as alumnus, verblywend om te sien hoe die instelling sedertdien gegroei het – nie net wat studentegetalle betref nie, maar ook in terme van geografiese uitbreiding en programverskeidenheid. “Akademia maak my baie opgewonde, want dié instelling bied hoop en ʼn vooruitsig aan soveel Afrikaanse studente,” sê Heuer. Vir hom is die keuse van moedertaalonderrig nie ʼn politieke stelling nie, maar eerder ʼn praktiese en diep persoonlike keuse. “Om in Afrikaans te studeer is nie net gerieflik nie, maar ook kernbelangrik tot my leerervaring en sukses. Omdat my hartstaal ʼn diepe begrip ontsluit, word ek telkens toegerus met kennis en vaardighede wat waarde toevoeg, selfs in meertalige omgewings,” vertel Heuer.
ʼn Lewenslange leerder
“Ek het oor die bestek van die afgelope agt jaar ʼn baie belangrike les geleer, naamlik dat opleiding en vorming nie iets is met ʼn eenmalige doeldatum nie,” meen Heuer en voeg by dat dit eerder as ʼn leefwyse gesien moet word. Heuer beliggaam hierdie wysheid deur homself voortdurend – by wyse van kennis, toepassing en passie – te verbeter.
“Moenie net studeer omdat jy die geleentheid het nie. Bekwaam jouself in iets wat jou opgewonde maak en die passie in jou na vore bring. Op dié manier word jy nie net vir ʼn beroep toegerus nie, maar leer jy jouself beter ken. Ek weet wie ek is, danksy Akademia,” sê Heuer. Hy sluit af deur sy alma mater voortgesette sukses toe te wens, ten einde generasies wat volg met dieselfde selfvertroue en bewustheid vir die toekoms te vorm.
*Fonties is die gegewe naam vir studente wat aan Akademia studeer. Dit is afgelei van Akademia se leuse, Ad Futurum per Fontes – vanuit die bronne na die toekoms.

Akademia-skenkingsfonds
Eerste Nasionale Bank
Rekeningnommer: 62857561445
Takkode: 210554
Verwysing: Jou selfoonnommer
Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)
Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.
Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak.
083 254 0142
skenking@akademia.ac.za
Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.