*Die Paarl-kampus is voorlopig goedgekeur

Akademia-alumnus Christa Joubert: ʼn Goeie ingesteldheid maak alles moontlik

Gepubliseer op:  12 Oktober 2026

Vir Akademia-alumnus, Christa Joubert, van Villieria in Pretoria het die besluit om ná meer as drie dekades in die belastingveld wéér agter die boeke in te skuif, aanvanklik na ʼn onwaarskynlike opsie gelyk. Op 51-jarige ouderdom het sy immers reeds ʼn omvangryke skat van beroepservaring opgebou. Tóg het sy besef dat ʼn mens nooit te oud is om te leer nie. Trouens, nuwe kennis kan selfs ʼn gevestigde loopbaan met vars perspektiewe verryk.

Dié ingesteldheid het haar in 2025 na Akademia gelei, waar sy die Nagraadse Diploma in Belasting by wyse van die nauurse afstandsmodel voltooi het. Vandag is sy ʼn konsultant in die Belastingkontroversie- en Dispuutresolusie-afdeling van PwC Suid-Afrika.

ʼn Studietuiste wat by my skedule pas

Vir Joubert was die buigsaamheid van Akademia se nauurse afstandsmodel van die begin af ʼn belangrike oorweging. Die geleentheid om steeds klasse by te woon en aktief aan gesprekke deel te neem, terwyl sy voltyds kon werk, het die besluit om die instelling as studietuiste te kies, aansienlik vergemaklik.

Die e-leeropsie het haar verder in staat gestel om haar studie naatloos met ʼn veeleisende beroepslewe te verweef. Omdat haar werk as konsultant nie noodwendig ʼn vaste agt-tot-vyf-roetine behels nie, kon sy op stiller werksdae studietyd inruim. Die werkslading was egter steeds groot en het beteken dat aande en naweke dikwels aan studie afgestaan is.

Wat haar keuse van studieprogram betref, het Joubert gesoek na iets wat haar bestaande belastingkennis kon opskerp en uitbrei. Sy noem dat sy aangenaam verras was met die omvang van die Nagraadse Diploma in Belasting. Hierdie program het haar nie nét aan omvattende kursusinhoud blootgestel nie, maar ook die lig gerig op areas van belasting waarmee sy minder vertroud was. Die sterk fokus op die praktiese toepassing van kennis – nuwe en bestaande – het haar verder beïndruk.

As iemand wat reeds lank in die belastingveld werksaam is, het Joubert veral die praktiese aard van die program waardeer. Volgens haar word daar nie bloot aandag gegee aan wat belastingwetgewing behels nie, maar ook aan hoe dié wetgewing in die werksplek toegepas en aan kliënte verduidelik moet word. “Belastingwette is oor die algemeen moeilik om te interpreteer en nóg moeiliker om toe te pas,” verduidelik Joubert en voeg by dat dit daarom van onskatbare waarde is om geleer te word wat die wetgewing in praktyk behels én hoe om dit prakties in die werksplek toe te pas.

Haar gunstelingmodule was Gevorderde Belasting, juis omdat dit nou aansluit by haar huidige beroepsfokus. Sy het ook besondere waardering vir Nikki Kennedy, dosent:
Rekeningkundige Wetenskappe, se onderrig gehad. “Jy kan haar (Kennedy) oor enige onderwerp uitvra en haar passie en benadering tot die aanbieding van elke klas was baie goed. Sy het ʼn natuurlike manier van verduidelik wat die verstaan van moeilike konsepte vergemaklik het,” sê Joubert.

Uitdagings kweek volharding

Joubert het haar dit ten doel gestel om die program binne een jaar te voltooi, ʼn uitdaging wat volgens haar ʼn groot mate van toewyding vereis het. Haar familie se ondersteuning het hierin ʼn belangrike rol gespeel, met gesinslede wat huishoudelike verantwoordelikhede oorgeneem het sodat sy op haar studie kon fokus.

Joubert se studiejaar het boonop ʼn onverwagse wending geneem toe sy gedurende die tweede semester met borskanker gediagnoseer is. Sy beskryf dit as ʼn uiters uitdagende tyd, maar sy het met die onderskraging van haar gesin, dosente en medestudente steeds met haar studie voortgegaan.

“Ek dink my studieverantwoordelikhede het in hierdie tyd my juis gehelp om my gedagtes besig te hou en my fokus te rig,” sê Joubert en voeg by dat sy gevolglik nie tyd gehad het om oor haar kankerdiagnose te tob nie. “Daar was baie moeilike dae, maar ek kyk vandag, ʼn jaar later, met groot dankbaarheid terug. Hierdie ervaring het my ʼn kragtige lewensles geleer, naamlik dat ʼn gesonde ingesteldheid wondere kan verrig. Niemand kan namens jou besluite neem en jou motiveer om aan te gaan nie. Elkeen is sy eie grootste kritikus én motiveerder,” vertel Joubert.

Jy is nooit te oud om te leer nie

Joubert vertel dat haar terugkeer na studentwees haarself aanvanklik ook verras het. Sy het immers ná skool gaan studeer en was tevrede met die manier waarop haar loopbaanreis ontvou het.

Haar raad aan ander ouer studente is eenvoudig: Moenie ouderdom as ʼn beperking beskou nie. Terselfdertyd waarsku sy dat verdere studie realisties benader moet word. Voornemende studente moet deeglik oorweeg hoeveel tyd en energie hulle tot hul beskikking het, veral wanneer studie met werk en gesinsverantwoordelikhede gekombineer word. “Enigiets is egter moontlik as jy jou hart daarop sit en jou ingesteldheid positief is,” sê Joubert.

Sy beklemtoon ook dat studente hulself nie onnodig hoef aan te jaag nie. Waar programme die geleentheid bied om oor ʼn langer tydperk te studeer, kan dit ʼn wyse keuse wees om die werkslading meer volhoubaar te bestuur.

Daag jouself voortdurend uit

Joubert se harde werk en uitsonderlike deursettingsvermoë is uiteindelik op ʼn besondere wyse vereer. Sy is tydens Akademia se jaarlikse akademiese prestigefunksie as die topstudent in haar gekose program aangewys.

“Dié erkenning beteken vir my ongelooflik baie. Dit span die kroon op die tyd en werk wat ek ingesit het, asook die familietyd wat ek opgeoffer het ten einde hierdie prestasie te behaal,” sê Joubert. Terugskouend het die studiejaar haar dus nie net professioneel verder toegerus nie; dit het haar ook herinner aan wat moontlik is wanneer ʼn mens bereid is om jouself uit te daag, nuwe kennis te omarm en voort te bou op die fondament wat reeds gelê is.

Vir hierdie geduldige, hardwerkende, kunstige, deernisvolle en eerlike beroepsvrou – die vyf eienskappe waarmee sy haarself beskryf – is leer duidelik nie iets wat ophou wanneer ʼn mens ʼn sekere ouderdom bereik óf ’n bepaalde vlak in jou loopbaan behaal nie.

Dit is ʼn ingesteldheid. En soms is dit juis hierdie ingesteldheid wat deure na opwindende nuwe hoofstukke oopmaak.

Wil jy soos Joubert jou beroepservaring met nuwe kennis en perspektief verder uitbou? Studieaansoeke vir die 2027- akademiese jaar is oop. Vir meer inligting, besoek die Akademia-webblad.

Akademia-alumnus, Christa Joubert (51), meen dat ʼn goeie ingesteldheid die sleutel tot sukses is. Sy is vroeër vanjaar as die top- presterende student in die Nagraadse Diploma in Belasting-program vir 2025 aangewys.

Direkte inbetaling: Bankbesonderhede

Akademia-skenkingsfonds

Eerste Nasionale Bank

Rekeningnommer: 62857561445

Takkode: 210554

Verwysing: Jou selfoonnommer

Testamentêre bemaking

Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)

Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.

Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak. 

Zander Botha: Skenkingsfondsbestuurder

083 254 0142
skenking@akademia.ac.za

Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.