Kampusopedag 10 en 11 Mei 2024

Search
Close this search box.

Akademia-aansoeke vir 2020-studies nog oop

Gepubliseer op: 8 Januarie 2020

Met die matriekuitslae wat pas bekendgemaak is oorweeg duisende matrieks hulle finale opsies voordat hulle studies aanpak of die werksmag betree. Terwyl talle hoër­onderwysinstellings se aansoeke vir studies in 2020 reeds gesluit het, bied Akademia nog die geleentheid aan vanjaar se skoolverlaters om aansoek te doen en hulle loopbaanreise te begin.

“Akademia het spesiaal laat-aansoeke vir studies in 2020 verleng na 29 Januarie om aan die 2019-matrieks vergunning te bied om steeds studies aan te pak,” vertel Paul Vogel, operasionele bestuurder by Akademia. “Talle matrieks is nog onseker oor hulle toekomsplanne en daarom is dit belangrik vir Akademia, as gemeenskapsinstelling, om hierdie matrieks te akkommodeer.

Dié hoëronderwysinstelling bied geakkrediteerde grade, hoër sertifikate en ʼn gevorderde diploma (vir gekwalifiseerde werkendes wat graag verdere studies wil aanpak). “Die hoër sertifikate in Rekeningkunde en Kantooradministrasie dien as ʼn gewilde studiekeuse vir toelating tot grade,” sê Vogel. Wanneer studente ʼn hoër sertifikaat voltooi het, ontvang hulle ʼn volwaardige kwalifikasie tydens ʼn formele plegtigheid, en kan hulle ook aansoek doen vir toelating tot graadstudies by Akademia.

Vogel meen dat die instelling se onderrigmodel uiters gepas is vir diegene wat oorweeg om te studeer en tegelyk te werk of ander belangstellings na te jaag. “ʼn Werkende student ontvang ʼn inkomste en kan solank aan studies afbetaal wat latere druk van studieskuld verminder, maar doen ook waardevolle werkservaring op, wat hulle meer aantreklik vir die arbeidsmark maak.”

Akademia se model gebruik gevorderde tegnologie om kontaksessies aan te bied, en studente word in ʼn virtuele leerruimte regstreeks oor dertien studiesentrums met mekaar verbind. Dosente, wat in die ateljee in Centurion gesetel is, saai kontaksessies nauurs of in bloksessies uit. Die keuse tussen twee roosters maak studies toeganklik en gerieflik vir studente wat óf deurlopend wil klas draf óf wat weens ander verpligtinge slegs vir enkele sessies per kwartaal beskikbaar is.

Verlede jaar se matrieks en ouers word uitgenooi om hulle eerste virtuele klas by Akademia te kom ervaar tydens ʼn inligtingsessie wat op 18 Januarie vanaf 10:00-11:00 by verskeie studiesentrums gehou word. Vir meer inligting oor die instelling, of om jou plek vir die sessie te bespreek, besoek www.akademia.ac.za of skakel 0861 222 888.