Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

2020 die jaar van sonsvernuwing

Gepubliseer op: 19 Januarie 2020

Geskryf deur prof. Hannes Rautenbach, Dekaan: Fakulteit Natuurwetenskappe by Akademia

Die jaar 2020 word nie net gekenmerk deur die aanbreek van ʼn nuwe jaar, of selfs die aanbreek van ʼn nuwe dekade nie, maar ook deur die aanbreek van ʼn nuwe periode in sonsaktiwiteite. Die twee nuwe sonvlekke wat op 24 Desember 2019 deur ʼn NASA-satelliet – wat sonsaktiwiteite op ʼn hoogte van 35 000 kilometer bo die aarde se oppervlakte monitor – opgespoor het, is aanduidend tot die aanvang van ʼn nuwe elfjaarsiklus van sonvlekaktiwiteite.

Dit verbreek dan ook ʼn lang stil periode van uitsonderlik min sonsaktiwiteite wat oor die afgelope tyd voorgekom het. Daar word verwag dat sonsaktiwiteite, wat gepaard gaan met ʼn toename in die aantal sonvlekke en sonfakkels, oor die volgende vyf jaar gaan toeneem om ʼn maksimum in 2024 te bereik, waarna dit weer sal afneem tot ʼn minimum in 2031.

Die son word nie net gesien as die bron van lig wat ons slaappatrone bepaal nie, maar ook as die bron van energie wat feitlik alle vorme van beweging en lewe op die aarde moontlik maak. Energie van die son beïnvloed dus ook ons weerstelsels, en met die uitmergelende droogte wat tans oor Suid-Afrika voorkom, word die vraag dikwels gevra of sonsaktiwiteite aan reënvalpatrone gekoppel kan word.

Die sonoppervlak bestaan uit vloeiende elektriesgelaaide gasse met magnetiese velde, wat die frekwensie van sonsaktiwiteite bepaal. Dit beteken dat die oppervlak van die son somtyds meer aktief is. Die wisseling van ʼn meer aktiewe sonsoppervlak tot ʼn minder aktiewe een kom in ʼn siklus van ongeveer elf jaar voor. Dit het ook tot gevolg dat die son se magnetiese veld elke elf jaar omkeer, wat beteken dat die son se noord- en suidpool oor ʼn periode van elf jaar plekke wissel.

Die elfjaarsiklus van sonsaktiwiteite beïnvloed natuurlik ook die voorkoms van sonvlekke wat gevorm word deur die son se magnetiese velde. Sonvlekke is gebiede wat donker vertoon op die sonoppervlak omdat die vlekke kouer is as die omringende gebiede. Hierdie kouer vlekke word gekenmerk deur sterk magnetiese velde wat verhoed dat hitte-energie deurdring na die son se oppervlak. Daar word algemeen aanvaar dat meer sonvlekke voorkom namate sonsaktiwiteite toeneem, terwyl die aantal sonvlekke afneem met ʼn afname in sonsaktiwiteite.

Die sterk magnetiese velde wat voorkom in sonvlekke gee dikwels aanleiding tot energieuitbarstings in die vorm van sonfakkels. Sonfakkels kan groot hoeveelhede stralingsenergie in die ruimte instuur. Noemenswaardig is dat sonfakkels gevorm word deur die grootste vorm van ontploffings wat in ons sonnestelsel voorkom.

Wanneer die stralingsenergie vanaf sonfakkels die aarde bereik kan dit aanleiding gee tot die vorming van auroras wat oor beide die noord- en suidpoolgebiede voorkom, maar wat in die noordelike halfrond aanskou kan word as die noorderlig of aurora borealis – ʼn asemrowende kleurspel van wisselende ligpatrone wat in die hoër atmosfeer voorkom. Laasgenoemde word veral goed verbeeld in C. Louis Leipoldt se “Kersnaglegende”.

Die stralingsenergie vanaf sonfakkels kan egter ook die aarde se kommunikasiestelsels versteur, en kan in uiterste gevalle selfs kragonderbrekings veroorsaak. Daarbenewens is satelliettegnologie ook kwesbaar vir uitsonderlike hoë vorme van straling.

Etlike studies is al gedoen in ʼn poging om verbande te vind tussen sonsaktiwiteite en reënvalpatrone. So is daar byvoorbeeld onlangs bevind dat ʼn toename in sonvlekke wel kan bydra tot ʼn hoër intensiteit van reënval in Oos-Afrika. Reënvalpatrone word egter ook beïnvloed deur ʼn magdom van ander faktore, wat dit meestal moeilik maak om die gedeeltelike invloed van sonsaktiwiteite op reënval te isoleer. In Suid-Afrika is daar egter wel in die verlede voorlopige verbande opgespoor tussen riviervloei en sonsaktiwiteite, alhoewel baie meer navorsing steeds nodig is voordat sonsaktiwiteite as ʼn bykomende faktor in langtermynvoorspellings bygevoeg kan word.

Dit is uniek en verblywend dat die aanbreek van 2020 ook gepaard gegaan het met verskeie vorme van vernuwing, wat aan ons die geleentheid bied om die verlede agter te laat en met nuwe oë na ʼn uiteenlopende nuwe toekoms te kyk. Daarmee saam moet ons ook hoopvol wees dat dit die jaar gaan wees waar die uitmergelende droogte wat oor die afgelope paar jaar in Suid-Afrika voorgekom het verbreek gaan word. Die goeie en wydverspreide reënval wat sedert die begin van 2020 voorgekom het gee ons nuwe hoop, maar net die tyd sal leer.