Nuwe program vir 2025 | BA (Taalstudies)

Search
Close this search box.

Weerdiens betrek Akademia by klimaatnavorsing

Gepubliseer op: 21 Januarie 2020

Akademia is nie net trots daarop om onderrig van die hoogste gehalte in Afrikaans aan te bied nie, maar streef ook daarna om haar posisie as ʼn navorsingsinstansie binne die groter Suid-Afrikaanse konteks te versterk. Die doel hiermee is om ʼn wesenlike bydra te lewer tot welvaartskepping binne die groter plaaslike gemeenskap.

Daarom het Akademia ʼn uitnodiging om aktief betrokke te raak by toonaangewende klimaatsveranderingsnavorsing deur die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWeerdiens) met ope arms ontvang.

Teen hierdie agtergrond het dr. Abiodun Adeola, hoofwetenskaplike van klimaatsverandering, en mnr. Thabo Makgoale, navorser in klimaatsverandering, van die SAWeerdiens op 17 Januarie 2020 ʼn besoek gebring aan prof Hannes Rautenbach, dekaan van die Fakulteit Natuurwetenskappe aan Akademia. Gedurende hierdie ontmoeting is daar besluit om Akademia se Fakulteit Natuurwetenskappe te betrek by verskeie nasionale en internasionale navorsingsprojekte, terwyl dié fakulteit ook ʼn leidende rol sal speel in die opstel van ʼn uitgebreide nuwe klimaatsveranderingverwysingsatlas vir Suid-Afrika.

Gesamentlike navorsing sal onder meer plaasvind deur ʼn Waternavorsings­kommissie-gesteunde projek tussen Suid-Afrika en Kenia, ʼn Thuthuka-navorsingsprojek oor klimaat en malariavoorkoming wat befonds word deur die Nasionale Navorsingstigting, en verskeie ander ondersoeke soos verlang deur die Suid-Afrikaanse Departement van Omgewingsake. Akademia se bydrae sal veral fokus op die publikasie van wetenskapsartikels.

Mnr. Thabo Makgoale (SAWeerdiens-navorser,), dr. Abiodun Adeola (SAWeerdiens-hoofwetenskaplike) en prof. Hannes Rautenbach (Akademia-dekaan: Fakulteit Natuurwetenskappe) tydens ʼn ontmoeting op 17 Januarie 2020.