Kampusopedag 10 en 11 Mei 2024

Search
Close this search box.

Elitebeursstudente sluit af met studietoer in Europa

Gepubliseer op: 17 Desember 2019

Akademia se uitgesoekte studente wat vanaf 2017 deel van die Elitebeursprogram vorm, het hulle studiereis in BCom (Ondernemingsbestuur) afgesluit met ʼn akademiese toer na Europa. Vyf finalejaarstudente (Marlette Smit, Minette Nel, Nadine Slump, Franco Smith en Yolandi Kruger), tesame met die koördineerder van die Sentrum vir Onderrig en Leer, het vanaf 2 tot 17 Desember bande in die buiteland gesmee.

Die internasionale studietoer is die finale aflewerbare wat hierdie groep studente moes voltooi om die program af te sluit. “Die doel van hierdie toer was om aan die studente die geleentheid te bied om buitelandse blootstelling op te doen en sodanig hulle wêreldbeskouings te verbreed,” sê Elize-Mari Coetzer, koördineerder van die Elitebeursprogram by Akademia. “ʼn Propvol reisplan het verskeie besoeke aan universiteite en ondernemings in België en Nederland ingehou.”

Tydens die eerste week van hulle toer het hul in Brussel en Gent vertoef, waar die Vlerick Besigheidskool en Artevelde Kollege besoek is. Verder het hulle tyd spandeer om die stad Gent beter te verken deur besoeke aan instellings soos die VOKA-ondernemersnetwerk, De Krook-biblioteek, EROV-ekonomieraad, die Poëziecentrum en die Universiteit Gent. Die laaste week het ook vele avontuur en verkenning in Antwerpen en Rotterdam ingehou, wat bestaan het uit besoeke aan ondernemings soos Vynke, Coca-Cola, die Antwerpenhawe asook universiteitsbesoeke aan die Breda Universiteit van Toegepaste Wetenskappe en die Universiteitskollege van Utrecht.

“Hierdie studietoer was ʼn eens-in-ʼn-leeftyd-ervaring,” reken Kruger. “Wat ʼn wonderlike voorreg om ons finalejaar op so ʼn hoë noot af te sluit!” Die groep studente beskryf die toer as insiggewend en meen dat dit ʼn wonderlike leerervaring ingehou het. “Ons het so baie geleer van besigheid en hoe teorie in die praktyk toegepas word,” vertel Kruger verder.

Hierdie studentegroep is die laaste van drie wat die Elitebeursprogram voltooi het. Hierdie program, wat in 2015 aanvang geneem het, was so gestruktureer dat studente buiten die voltooiing van hulle studies verskeie uitkomstes moes voltooi om die teorie wat hulle geleer het met praktiese ervaring aan te vul. Oor die afgelope drie jaar het hierdie groep verskeie gemeenskapsprojekte aangepak, internskappe by ondernemings voltooi en innovasie­voorleggings met nuwe produkte, idees en prosesse aangebied.

Al vyf studente is vinnig opgeraap deur verskeie ondernemings waar hulle vanaf volgende jaar gaan aansluit. Coetzer meen dat dit as ʼn bewys dien dat hierdie studente die nodige teoretiese onderbou en beroepsrelevante ervaring opgedoen het om suksesvolle werknemers by enige instelling te wees. Akademia wens hulle alle voorspoed toe met hul opwindende loopbaanreis.

Die laaste groep Elitebeursstudente tydens ʼn akademiese besoek aan die Artevelde Hogeschool (kollege) in Gent gedurende ʼn studietoer in Desember 2019.
Die groep studente lê besoek af aan Vlerick Besigheidskool tydens hulle Europese studietoer.
Die Elitebeursstudente, Marlette Smit, Minette Nel, Nadine Slump, Franco Smith en Yolandi Kruger, in Rotterdam.