Boeiende boek oor Afrikaanse media verskyn by Akademia Uitgewery
Die boek van die akademikus, prof. Johannes D. Froneman, Ter wille van oorlewing, ideologie en geld: Perspektiewe op die geskiedenis van die Afrikaanse media het onlangs by Akademia Uitgewery verskyn.
Volgens Karien Brits van die Akademia Uitgewery is dit nie net nóg ʼn gewone geskiedenishandboek waarin ʼn mens oor oorsake en gevolge leer nie en dit is ook nie net vir studente of akademici bedoel nie. “Hierdie boek is vir enige leser wat in Afrikaans en die geskiedenis van die media belangstel. Die titel is gepas, want onderliggend is daar drie temas wat in sirkelgang na vore kom, naamlik oorlewing, ideologie, en geld,” sê sy.
Froneman stel al van kindsbeen af in koerante belang en hy het self ook in die praktyk gestaan. Sy loopbaan in die joernalistiek en akademie strek oor meer as veertig jaar en hy spesialiseer in mediahistoriese navorsing en bedryf die webblad Mediamense.com. Volgens Brits is die boek geskryf deur iemand wat in die bedryf sowel as die akademie gestaan het. “Daar is dus perspektiewe van buite en binne. Sy filosofiese onderbou – hy het ook ʼn honneursgraad in filosofie – kom ook duidelik in die boek na vore. Dit is nie net ʼn feiteversameling van alles wat in die geskiedenis gebeur het nie. Die gebeure word in konteks gestel en vandaar die perspektiewe.”
Die doel van die boek was volgens Froneman nie net om alles in die geskiedenis op te teken nie, maar om die samehang van die gebeure uit te lig. “Dit is egter ʼn boek wat ook vorentoe kyk. Telkens kom die vraag na vore oor hoe ons uit die verlede kan leer om joernalistiek en veral dan ook Afrikaanse joernalistiek, te laat blom,” sê Brits.
Die boek is die vergestalting van lewenslange werk en is die produk van drie jaar se ontwikkeling van die manuskrip wat aan ewekniebeoordeling deur akademici in die veld onderwerp is. Froneman verwoord die ontwikkelingsproses soos volg: “Terwyl ek besig was om aan die manuskrip te werk, het ek die hele tyd van ‘my boekie’ gepraat, maar toe ek die boek in my hande hou het ek besef dat dit ʼn boek in die ware sin van die woord is.”
Wat kan die leser verwag? Dit begin met die hoofstuk wat ’n voëlvlug oor die geskiedenis van massamedia bied. Daarin is ʼn grafiese uiteensetting van hoe die massamedia van 59 v.C. tot vandag toe ontwikkel het. Die tweede hoofstuk handel oor die rol van redakteurs en dit is ook hier waar die ideologiese vraagstukke na vore tree: Het die redakteurs altyd na pype van die politici gedans of is die status quo uitgedaag? Dit gaan nie net oor die redakteurs van die groter publikasies nie, maar ook oor die redakteurs van gemeenskapskoerante.
In hoofstuk 3 word daar stilgestaan by die redes waarom koerante hul fleur verloor en die rol van die digitale rewolusie. Die vraag word ook tereg gevra oor hoe die geloofwaardigheid van digitale stemme getoets kan word deur gebruikers “wat […] nie noodwendig bedag is op die slaggate van ongereguleerde stemme nie”. Volgens Froneman sal dit in die toekoms ʼn selfs groter kwessie wees as die oorlewing van papierkoerante.
Hoofstuk 4 sluit by hoofstuk 2 aan waar daar gefokus word op ʼn soeke na vrede deur geregtigheid en die rol wat redakteurs en joernaliste tydens politieke woelinge in die vorige eeu, veral in die jare negentigs voor en tydens die 1994-verkiesing, gespeel het.
Daar word in hoofstuk 5 gekyk hoe die media ʼn venster op kerk en geloof bied en hierdie hoofstuk begin soos volg: “Die temas ‘kerk’ en ‘geloof’ is reeds dekades lank ʼn belangrike tema in Afrikaanse dagblaaie. Die veranderende politieke, kulturele, geestelike en mediakontekste het die dekking van hierdie temas nie onaangeraak gelaat nie.”
In hoofstuk 6 “Plaaslik en aanpasbaar” word daar spesifiek na twee gemeenskapskoerante gekyk en hoe hulle aangepas het om relevant en winsgewend te bly, maar ook hoe die digitale rewolusie en die Covid-19-pandemie uitdagings aan streekskoerante gestel het.
Iets wat nie altyd die nodige aandag in publikasies kry nie is die rol van studentekoerante. In hoofstuk 7 word daar gekyk na die geskiedenis van twee universiteite se studentekoerante en hoe geld, ideologie en ook oorlewing daar ʼn rol gespeel het.
ʼn Tydskrif wat al so baie gedaantes verwissel het, is die Huisgenoot. Daar om word ʼn hoofstuk net aan hierdie tydskrif toegewy. Daar word veral gekyk na hoe die voorblaaie verander het en die foto’s uit die argief maak dit ook ʼn plesier vir die oog.
Alhoewel die rol van swart en bruin joernaliste deurlopend in die boek uitgelig word, fokus hoofstuk 10 spesifiek op die bruin joernaliste in die verkillende media.
In die laaste vier hoofstukke word daar van die gedrukte media wegbeweeg. Daar is drie hoofstukke wat aan die geskiedenis van Afrikaans radio gewy word. Die laaste hoofstuk oor televisie sluit dan die boek af.
“Die redaksionele versorging en foto’s wat uit verskillende argiefbronne kom, het ʼn groot verskil gemaak,” sê Froneman oor die besonderse volkeurhardebandboek van 338 bladsye. Die boek is propvol feite, maar dit is verteerbaar afgebreek, en die foto’s en seldsame voorblaaie van koerante en tydskrifte maak dit ʼn plesier vir die oog. Dit is volgens Froneman ʼn boek wat selfs ook op skoolvlak met groot vrug gebruik kan word.
Hierdie publikasie is moontlik gemaak deur die ruim finansiële ondersteuning van die Suid-Afrikaanse Akademia vir Wetenskap en Kuns. Bestel gerus jou boek teen R780 by Die Winkel, Akademia se aanlyn winkel.