Studieaansoeke vir 2025 is reeds oop

Search
Close this search box.

Akademia bied vanaf 2020 LLB aan

Gepubliseer op: 11 November 2019

Die Afrikaanse hoëronderwysinstelling Akademia het op Maandag 11 November 2019 aangekondig dat ʼn tweede regskwalifikasie vanaf 2020 aangebied sal word. Akademia bied reeds sedert 2017 ʼn BCom (Ekonomie en Regte)-graad aan, wat nou aangevul word deur die instelling se jongste kwalifikasie – Baccalaureus Legum (LLB).

Die akkreditasie van hierdie kwalifikasie is ʼn groot mylpaal vir Akademia, aangesien dit deel vorm van die instelling se toekomsplanne om na steeds meer studierigtings uit te brei. Volgens Liana Venter, registrateur by Akademia, is die instelling veral trots op hierdie suksesvolle akkreditasie nadat LLB-programme op nasionale vlak onlangs by alle openbare hoër­onderwys­instellings hersien is. “Die volwaardige akkreditasie van ons LLB-program is ʼn aanduiding van die gehalte, sowel as die vernuwende samestelling, van hierdie kwalifikasie aan Akademia.”

Navrae oor die aanbieding van LLB by Akademia het toenemend ingestroom. “Nou kan Akademia uiteindelik, na die deeglike akkreditasieproses by die Raad op Hoëronderwys voltooi is, hierdie gesogte kwalifikasie aanbied,” sê Venter.

Akademia se LLB-graad is daarop gerig om bekwame, vaardige en dinamiese regsgraduandi te lewer wat toegerus is met ʼn deeglike kennis en begrip van toepaslike regsbeginsels. “Dié kurrikulum is so saamgestel dat dit ook die daadwerklike behoefte van dissipline-gebaseerde nie-regsmodules aanspreek. Hierdie modules sluit onder andere die sosiale, ekonomiese en politieke werklikhede waarbinne die reg funksioneer in,” meen Venter.

Akademia se LLB-kwalifikasie sal studente voorberei vir toegang tot die regspraktyk, maar ook vir ʼn wye verskeidenheid ander loopbane wat die toepassing van regsbeginsels vereis. Boonop bied dit die nodige voorbereiding vir verdere meestersgraadstudies in die regte. “Teorie en die toepassing van regsbeginsels is ʼn deurslaggewende komponent van die program en sodoende word verseker dat studente die vermoë het om intellektueel te ontwikkel en te groei,” sê Venter.

Dr. René de Klerk, programkoördineerder van die BCom (Ekonomie en Regte)-program by Akademia, reken dat regsstudies altyd gesog en relevant sal bly. “Om regte te studeer is ʼn integrale deel van die klassieke mensdom se ontwikkeling. Suid-Afrika het juis regsgeleerdes met ʼn stewige morele kompas nodig vir die verdere ontwikkeling en uitbou van ʼn stabiele en vooruitstrewende samelewing.”

Volgens De Klerk word LLB-studies by Akademia van ander instellings onderskei deurdat Afrikaanse studente onderrig in hul moedertaal kan ontvang en daardeur ʼn beter begrip van komplekse idees vorm. “Die Akademia-student is uiteindelik uitnemend gekwalifiseer omdat hierdie regspraktisyns hulle kliënte in Afrikaans sal kan adviseer en bystaan, maar steeds toegerus is om in Engels te praktiseer.”

Besoek Akademia se webblad vir meer inligting oor hierdie kwalifikasie, asook om aanlyn aansoek te doen vir toelating tot die LLB-program in 2020.