Kampusopedag 10 en 11 Mei 2024

Search
Close this search box.

Internasionale Projekbestuurdag 2019: Die (r)evolusie van projekbestuur

Gepubliseer op: 7 November 2019

Projekbestuur is ʼn dissipline wat van toepassing is op elke individu, of dit nou deel vorm van jou beroep en of jy projekte in jou persoonlike hoedanigheid uitvoer. Vanjaar vier Akademia Internasionale Projekbestuurdag ter erkenning van projekbestuurders se waardevol bydraes in die moderne wêreld. Hierdie dag vind jaarliks op die eerste Donderdag van November plaas, wat vanjaar op 7 November val.

Projekbestuur in die werksplek is ʼn dinamiese dissipline. Jaun Kriel, programkoördineerder van die Gevorderde Diploma in Projekbestuur by Akademia, meen dat ʼn belangrike invloed vir hierdie veranderende tendense toegeskryf kan word aan die evolusie van projekbestuur. Volgens Kriel kan die evolusie van hierdie dissipline duidelik gesien word in die fokusverskuiwings oor die dekades. “Byvoorbeeld, in die 1980’s was die fokus op gehalte, in die 1990’s was die aandag op globalisering, terwyl projekbestuurders in die 2000’s gekonfronteer word met korter tyd-tot-mark-vensters en kruisfunksionele kundigheid om ʼn mededingende voordeel te behou.”

Vandag is die gonsterm “Vierde Industriële Revolusie”, op almal se lippe en word talle dissiplines reeds hierdeur geraak. “Projekbestuur is geen uitsondering nie,” reken Kriel. “Hierdie verskuiwing gaan projekbestuur, soos dit vandag bekend is, heeltemal verander.”

Digitale transformasie in projekbestuur is nie ʼn nuwe tendens nie. “Projekbestuurders wat die behoefte aan innovasie en verbeterde resultate op progressiewe maniere wil sien, pas reeds digitale transformasie in die praktyk toe”, vertel Kriel. “Digitale transformasie handel oor projekbestuurders wat die behoefte aan innovasie erken en ʼn raamwerk gebruik om bedryfsprosesse en sakemodelle op innoverende maniere te benader. ʼn Belangrike komponent hiervan is die integrasie van tegnologie en data om uitnemende strategiese en taktiese metodes te identifiseer en te implementeer, menslike welstand te maksimeer, en ratse beginselbesluite in alle fasette van ʼn organisasie te omhels.”

Dit blyk dan duidelik te wees dat projekbestuur ʼn dissipline is wat met die nodige akademiese onderbou, aanpasbaarheid en praktiese vaardighede berge kan versit. Aansoeke vir die 2020-opname van Akademia se Gevorderde Diploma in Projekbestuur is nog oop. Vind meer kwalifikasie-inligting hier op die Akademia-webblad, of WhatsApp die instelling by 0861 222 888.