*Die Paarl-kampus is voorlopig goedgekeur
Gepubliseer op: 13 Oktober 2026
Op 50 het Akademia-alumnus Helmien Bezuidenhout besluit om weer agter die boeke in te skuif. Nie omdat sy moes nie, maar omdat sy wou. Wat as ʼn doelbewuste tree buite haar gemaksone begin het, het uiteindelik veel meer geword as die verwerwing van ʼn kwalifikasie. Dit het vir haar ʼn reis van selfontdekking geword – en ʼn bewys dat dit nooit te laat is om iets nuuts aan te pak nie.
Bezuidenhout het aan die Hoërskool Nuwerus gematrikuleer en onthou haar destydse tuisdorp as ʼn klein Namakwalandse dorpie met ʼn kerk, ʼn skool en ʼn koshuis. Dekades later het sy haarself in ʼn heel ander leeromgewing bevind toe sy in 2024 haar studiereis aan Akademia begin het. Sy het die Hoër Sertifikaat in Kantooradministrasie in 2025 suksesvol voltooi – en is boonop as die toppresteerder in haar studieprogram erken. Dié prestasie is tydens Akademia se jaarlikse akademiese prestigefunksie gevier.
Vir Bezuidenhout was dié erkenning egter veel meer as ʼn goeie prestasie. Dit was ʼn bevestiging van iets wat sy tydens haar studie geleer het, naamlik dat ouderdom nie noodwendig ʼn beperking is nie en dat ʼn mens dikwels tot veel meer in staat is as wat jy self dink.
Die Bezuidenhout-gesin het onlangs ná 23 jaar in die Goudstad na Bellville in die Kaap verhuis. Hoewel Bezuidenhout nog nie weer tot die arbeidsmark toegetree het nie, dra sy iets kosbaars uit haar studietyd saam: ʼn nuutgevonde selfvertroue en ʼn opgewondenheid oor wat nog voorlê.
ʼn Studietuiste waar taal en waardes byeenkom
Vir Bezuidenhout was die geleentheid om in haar moedertaal te studeer van die belangrikste redes waarom sy Akademia as haar studietuiste gekies het. Afrikaans is vir haar veel meer as bloot ʼn kommunikasiemiddel. Dit is fyn verweef met haar taalbelewenis, haar kultuur en uiteindelik haar menswees. Op die koop toe het Akademia se waardes en goeie reputasie vir gehalteonderrig haar keuse verder bevestig.
Die nauurse afstandsmodel het boonop vir Bezuidenhout die buigsaamheid gebied om studie by haar leefstyl en -tempo in te pas. Die e-leeropsie het dit moontlik gemaak om lesings by te woon, met dosente te kommunikeer én kontak met haar medestudente te behou – alles sonder dat sy haar bestaande verpligtinge heeltemal op sy kop hoef te gekeer het.
Bezuidenhout erken dat dissipline, beplanning en selfverantwoordelikheid die fondament van haar studiesukses was. Net so belangrik was die ondersteuning van haar familie. Sy kom immers uit ʼn gesin waarin leer en persoonlike ontwikkeling hoog aangeslaan word.
Haar raad aan ander wat dit oorweeg om nauurs oor afstand te studeer, is eenvoudig: Gryp elke geleentheid aan en maak die meeste daarvan. “Dit verg toewyding en moeite, maar jy belê in jou eie toekoms, en dit maak al die opoffering beslis die moeite werd,” sê sy.
Van “ek kan nie” na “ek kan”
Die terugkeer na studie was aanvanklik nie vir Bezuidenhout maklik óf natuurlik nie. As ʼn ouer student het sy haarself skielik in ʼn nuwe wêreld bevind: een wat haar op verskeie vlakke uitgedaag het.
“Daar is min dinge wat die gevoel oortref wanneer jy ouer is en iets aanpak wat jou totaal buite jou gemaksone plaas,” vertel sy en erken dat sy aan die begin feitlik geen selfvertroue gehad het nie. Met elke toets en eksamen het dié onsekerheid egter begin wegkwyn.
“Hierdie program het my opnuut laat glo dat ‘waar daar ʼn wil is, daar ʼn weg is’. Met elke uitslag ná ʼn toets of eksamen het ek ʼn persoonlike oorwinning ervaar,” sê sy. En, nêrens het dié nuwe selfvertroue duideliker na vore gekom as in die Sakeberekeninge-module nie.
Ná 34 jaar het Wiskunde weer ʼn rol in Bezuidenhout se lewe gespeel – en sy was vas oortuig daarvan dat sy eenvoudig nie dié module sou kon baasraak nie. Haar dosent, Johann Smith, het egter van die begin af ʼn ander boodskap gehad: Enigiemand kan Wiskunde doen en verstaan mits hulle bereid is om te oefen en hard te werk.
“Dit klink na sulke eenvoudige raad, maar dit het my hele perspektief verander,” sê Bezuidenhout en voeg by dat sy die wêreld se waardering vir Smith se professionele, maar terselfdertyd vriendelike en ondersteunende manier van klasgee het.
Hierdie ervaring het haar uiteindelik met ʼn belangrike insig gelaat: Soms is die grootste beperking nie wat ons kan óf nie kan doen nie, maar wat ons glo ons kan óf nie kan doen nie.
Moenie dat ouderdom jou kniehalter nie
Dit is juis dié boodskap wat Bezuidenhout graag aan ander ouer mense wil oordra wat nog ʼn studiedroom koester.
“Moenie toelaat dat jou ouderdom jou terughou nie. Om verder te studeer hoef nie bloot ʼn droom te bly nie,” meen Bezuidenhout. Volgens haar bring ouer studente iets besonders na die leeromgewing: lewenservaring, perspektief en ʼn groter waardering vir die geleentheid om te mag leer. Hierdie is almal eienskappe wat nie uit ʼn handboek aangeleer kan word nie.
Vir Bezuidenhout het die onsekerheid van die eerste paar maande daarom uiteindelik plek gemaak vir iets heel anders, naamlik trots. En saam met dié trots het die gewaarwording gekom dat haar potensiaal nie noodwendig kleiner geword het wat ouderdom betref nie. Nee. Dit het bloot ʼn nuwe gedaante aangeneem.
Meer as net ʼn kwalifikasie
Vandag beskryf Bezuidenhout haar verbondenheid tot Akademia as iets wat veel verder strek as die kwalifikasie wat sy verwerf het.
Vir haar is die instelling ʼn ware studietuiste waar mense die geleentheid kry om hulself te ontwikkel, hul potensiaal te ontdek en met groter selfvertroue die toekoms tegemoet te stap.
“Persoonlik vereenselwig ek Akademia met hoop en is ek trots om my identiteit as ʼn alumnus uit te leef. Ek is ʼn beter gevormde individu danksy die instelling en daarom skaar ek myself by die vele professionele alumni wat nie skaam is vir hulle taal of kultuur nie,” sê Bezuidenhout.
Haar wens vir haar alma mater is dat elke student wat deur Akademia se deure stap, met meer as net ʼn kwalifikasie sal wegstap. “Mag elke student met meer selfvertroue, hernieude hoop en ʼn standvastige geloof in dit wat moontlik is, na die toekoms uitsien. Mag die instelling nog vir baie jare ʼn ligpunt en ʼn bron van hoop vir ons gemeenskap wees,” meen Bezuidenhout.
Miskien lê die waardevolste les van Bezuidenhout se studiereis juis daarin opgesluit dat die belangrikste bousteen wat ʼn mens tydens jou studie ontdek, nie ʼn nuwe vaardigheid of selfs ʼn kwalifikasie is nie, maar eerder iets veel meer persoonlik: die vertroue dat jy kan.
Vir Bezuidenhout was haar studie op 50 dus nie die afsluiting van ʼn hoofstuk nie. Dit was die begin van ʼn nuwe een waarin die woorde “ek kan nie” stadig, maar seker, plek gemaak het vir “ek weet ek kan!”
Wil jy soos Bezuidenhout jou studiedroom in 2027 verwesenlik? Studieaansoeke is nog oop. Besoek gerus die Akademia-webblad vir meer inligting.

Akademia-skenkingsfonds
Eerste Nasionale Bank
Rekeningnommer: 62857561445
Takkode: 210554
Verwysing: Jou selfoonnommer
Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)
Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.
Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak.
083 254 0142
skenking@akademia.ac.za
Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.