*Die Paarl-kampus is voorlopig goedgekeur
Gepubliseer op: 12 Oktober 2026
Die jaar het met oorgawe afgeskop. Januarie se uitbundige energie het jou laat glo dat vanjaar een vir die boeke gaan wees. Doelwitte gaan bereik word, nuwejaarsplanne gaan verwesenlik word, die veelbesproke balans tussen werk en lewe gaan uiteindelik gevind word en daar gaan weliswaar selfs tyd vir selfsorg wees. Maar helaas, teen die aanbreek van Oktober voel die vooruitsig na Desember bitter ver.
Die middel-van-die-jaar-moegheid
Jy word wakker en is reeds moeg. Dinge wat jou normaalweg nie pla nie, irriteer jou. Jou motivering verdwyn, jou konsentrasie is op ʼn laagtepunt en die gedagte aan nóg weke se volhou voel by tye oorweldigend. Indien jy jouself hierin herken skep moed in die wete dat die middel-van-die-jaar-moegheid ʼn algemene verskynsel is.
Volgens dr. Mandie Dubery, maatskaplike werker by Akademia se Studenteondersteuning-span, is dit belangrik om te besef dat dit natuurlik én vanselfsprekend is dat die energievlakke waarmee ons die jaar begin het, nie noodwendig dwarsdeur die jaar volgehou kan word nie. Méér nóg: Dit is nie iets om oor oordrewe skuldig óf bekommerd te wees nie.
“Januarie word vereenselwig met ʼn opwindende gevoel van nuwe moontlikhede en daarom maak ons planne vir ons werk, ons persoonlike lewe en ons gesinne – en dikwels ook ʼn hele rits bykomende verwagtinge van onsself,” verduidelik Dubery. Sy voeg by dat dié entoesiasme teen die middel van die jaar egter begin kwyn en take wat vroeër interessant of maklik gevoel het, kan skielik oorweldigend voorkom. In hierdie proses daal energievlakke, selfmotivering neem af en in baie gevalle kan produktiwiteit ook hieronder ly.
Die impak van onvoorsiene gebeure
Dubery meen een van die sleutelredes waarom dié tyd van die jaar soms so uitdagend voel is omdat daar in die voorafgaande maande passievol en doelgerig gelééf is, en die lewe soms onvoorsiene draaie maak. “Wanneer ons aan die begin van die jaar doelwitte en voornemens formuleer, neem ons nie altyd hierdie onvoorsiene dinge in berekening nie,” sê sy en voeg by dat almal in ʼn mindere of meerdere mate deur hierdie onvoorsienigheid geraak word.
Voorbeelde sluit in ʼn toename in werksdruk, nuwe professionele uitdagings of selfs werksverlies. In ʼn gesinsopset kan daar ook gebeure wees wat niemand voorsien het nie: Die toevoeging van ʼn nuwe gesinslid, verhuising of selfs die dood van ʼn geliefde. Sulke ervarings verg emosioneel baie van ʼn mens en Dubery verduidelik dat wanneer ʼn mens aan diesulke uitdagings blootgestel word, daar dikwels gereageer word vanuit ʼn plek van veg, vlug of vries.
Gedagtig hieraan is ʼn mens dan, volgens Dubery, effektief minder besig om te skep, te droom of te presteer en meer met blote aanhou en oorleef. “Dit beteken dat die mens wat in Januarie ʼn lang lys doelwitte neergeskryf het, teen Oktober dalk nie dieselfde mens – met dieselfde kapasiteit – is nie,” sê Dubery. Sy voeg by dat hierdie realiteit soos die twee kante van ʼn muntstuk beskou moet word. Die teenkant is dat dit bloot nie realisties is om te verwag dat jy deur die verloop van die jaar teen dieselfde energievlak en produktiwiteit moet handel nie. Jy moet voortdurend aanpasbaar kan wees.
Dubery beklemtoon dat dit egter nie beteken dat jy jou doelwitte en drome moet laat vaar nie. Dit beteken eerder dat daar ruimte geskep moet word om jou aanvanklike plan aan te pas wanneer die lewe anders verloop as wat jy verwag het. “Daar is steeds genoegsame tyd om te besluit waaraan jy vanjaar nog wil werk en wat jy graag wil bereik, maar terselfdertyd moet jy jouself toestemming gee om moontlik van roete te kan verander,” meen Dubery. Sy som dié advies op deur te noem dat dit nie ʼn kwessie van harder probeer is nie, maar eerder van ʼn anderse benadering.
Neem bestek van jou eie energievlakke
Wanneer jou tot die besef kom dat jou energievlakke laag is, is die eerste stap volgens Dubery om jouself goed genoeg te ken om te besef wanneer die gevaarligte flikker.
Wat gebeur met jou wanneer jy onder druk is? Wat help jou om weer perspektief te kry? Wanneer het jy nodig om deur te druk, en wanneer moet jy erken dat jou plan van aksie verander moet word?
“Wanneer daar uitdagings kom, is dit belangrik om te weet wat jy nodig het om daardie uitdaging na die beste van jou vermoë te hanteer, maar ook wanneer jy vir jouself moet afvra of jy nie dalk van plan moet verander nie?” sê Dubery.
Dit kan beteken dat ʼn mens byvoorbeeld jou werksdag effens anders struktureer, ʼn enkele prioriteit op ʼn slag aanpak óf bloot vir jouself ʼn bietjie meer asemhaalruimte skep. Die doel is nie volgens Dubery om minder te doen bloot omdat jy moeg is nie. Dit is om jou energie só te bestuur dat jy nie jouself uitput in ʼn poging om aan onrealistiese verwagtinge te voldoen nie.
Belê in ʼn emosionele diensbeurt
Volgens Dubery kan die noodsaaklikheid van emosionele selfsorg vergelyk word met die aksie om jou motor gereeld vir ʼn diensbeurt te neem.
Maar die vraag bly staan, wanneer laas het jy jouself ʼn emosionele diensbeurt gegee?
Dubery is oortuig daarvan dat almal hul emosionele kapasiteit doelgerig moet bestuur. Dit beteken dat rus en herstel nie iets is wat verdien word nadat alles op jou doenlysie afgehandel is nie. Dit is ʼn kerndeel van wat jy nodig het om volhoubaar te kan funksioneer.
Vir haar speel die natuur ʼn besondere rol hierin.
Dubery vertel van ʼn onlangse vyfdagse stapervaring in die Tsitsikamma-woud, waartydens geen slimfone of sosiale media beskikbaar was nie. Weg van die stadsgeraas en voortdurende aansprake op haar aandag, het sy weer intens bewus geword van die rustigheid wat die natuur kan bring.
“God het die natuur só geskep dat elke deeltjie, elke beweging, elke element, elke reuk –ʼn natuurlike kalmerende effek op ons senuweestelsel het,” verduidelik sy. Vir iemand wat moeg, ongemotiveerd en minder produktief as gewoonlik voel, het Dubery daarom ʼn eenvoudige boodskap: spandeer tyd in die natuur.
Dit hoef nie noodwendig ʼn vyfdagse staproete te wees nie. Dit kan ʼn kort wandeling wees, ʼn paar minute in die tuin, om naby water te sit óf bloot om buite te wees sonder jou foon in jou hand. Die geheim lê daarin om dit doelbewus te doen. Luister na die wind deur die bome. Let op die geluid van ʼn knetterende vuur. Voel die son op jou vel. Ruik die reën of vars grond. Kyk werklik na wat rondom jou gebeur.
Jy hoef nie Januarie se mens te bly wees nie
Miskien is die belangrikste teenvoeter vir die middel-van-die-jaar-moegheid die besef dat jy nie dieselfde energievlak as in Januarie hoef te hê om steeds vorentoe te beweeg nie.
“Die jaar het intussen gebeur en jy het gewerk, liefgehad, verloor, aangepas, probleme opgelos en waarskynlik dinge hanteer wat jy nooit in Januarie op jou lysie kon voorsien nie,” sê Dubery. Sy voeg by dat dit daarom nie as ʼn mislukking gesien moet word as jy nou teen ʼn stadiger pas beweeg nie.
Dit is dalk bloot tyd vir ʼn diensbeurt.
En wanneer jy weer jou kapasiteit begin aanvul, sal jy dalk ontdek dat produktiwiteit nie altyd daaroor gaan om nóg meer te doen nie, maar om genoegsaam asem te haal sodat jy weer met aandag, energie en vreugde kan doen wat werklik saak maak.

Akademia-skenkingsfonds
Eerste Nasionale Bank
Rekeningnommer: 62857561445
Takkode: 210554
Verwysing: Jou selfoonnommer
Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)
Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.
Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak.
083 254 0142
skenking@akademia.ac.za
Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.