*Die Paarl-kampus is voorlopig goedgekeur
Gepubliseer op: 12 Oktober 2026
Geskryf deur dr. Zydèlia Venter, hoof: Bemarking en Kommunikasie by Akademia
ʼn Mens kan Akademia se groei vandag oraloor gade slaan. In ʼn toename in studentegetalle, in nuwe programme wat voortdurend tot die instelling se programverskeidenheid gevoeg word, én in kampusse wat in die Paarl en in Pretoria gedy. Sommige van die belangrikste tekens van groei kan egter nie met die oog gesien word nie. Dit lê opgesluit in die mense wat Akademia se verhaal verder vertel en doelgerig uitleef.
Gedagtig hieraan verteenwoordig die instelling se alumni-gemeenskap soveel meer as net ʼn groep dinamiese afgestudeerde studente. Akademia-alumni is mense wat toegewyd saam bou aan die toekoms.
Veertien jaar gelede het die instelling met slegs ʼn handjievol studente (42 om presies te wees) en vier programme ʼn reis na ʼn hoopvolle toekoms onderneem. Vandag strek die instelling se voetspoor danksy die nauurse afstandsmodel oor die ganse wêreld heen, terwyl Fonties voltyds op kampusse in die Paarl en in Pretoria klasdraf.
Wat die programaanbod betref, word nuwe programme voortdurend tot die vyf dinamiese fakulteite gevoeg en word daar reikhalsend uitgesien na steeds verdere akademiese toevoegings in die toekoms. Laasgenoemde verwys onder meer na uitbreiding in velde soos die gesondheidswetenskappe, ingenieurswese, landbou en teologie.
Só word die instelling se groei fisies vergestalt
Die vestiging van die Paarl-kampus in 2026 is ʼn treffende voorbeeld van hierdie groei. Dié voltydse kampus het vanjaar sy deure vir 173 studente oopgeswaai, en dit word voorsien dat daar in 2027 tussen 350 en 400 nuwe eerstejaarstudente hulself hier sal vestig. Hierdie kampus is egter nie net beperk tot ʼn plek waar lesings aangebied word nie. Koshuise en daghuise verleen stukrag aan ʼn ontwikkelende, maar reeds uiters dinamiese studentelewe. Hiermee saam verteenwoordig verenigings en klubs, sportdeelname, ʼn propvol kuns-en-kultuurprogram asook die onlangse verkiesing van die kampus se eerste volwaardige studenteraad (SR) belangrike boustene in die vestigingsproses.
En dit is maar net die begin.
Akademia het vroeër vanjaar die nuus bekendgemaak dat hy 105 hektaar grond in die Boschenmeer-omgewing in die Paarl bekom het, met die oog op ʼn toekomstige kampusontwikkeling. Hierdie terrein bied ruimte vir die langtermynontwikkeling van ʼn volwaardige Akademia-kampus wat uiteindelik ʼn studietuiste vir ongeveer 3 000 studente in die Wes-Kaap sal wees.
Wat die ontwikkeling van die instelling se wêreldklas kampus in die ooste van Pretoria betref, is alle oë op 2028 gerig wanneer dié kampus sy deure sal open. Die omvang van hierdie ontwikkeling op die Mooiplaats-terrein is indrukwekkend en strek oor 220 hektaar. Dit word voorsien dat 5 000 voorgraadse studente en 2 000 nagraadse studente hier sal studeer, terwyl 1 500 studente hulself in kampuskoshuise sal vestig.
Met beide hierdie kampusontwikkelingsprojekte in gedagte, is die instelling se 2026-jaartema, Boustene vir ons toekoms, uiters gepas. In die geval van die Pretoria-kampus sal sowat 7,1 miljoen boustene fisies neergelê word. Hierdie syfer vertel iets van die omvang van die ontwikkeling, terwyl dit op ʼn simboliese manier ook spreek tot die instelling se vele ander boustene. Laasgenoemde spreek tot gehalte, gemeenskap, uitnemendheid en ook die hartklop van Akademia, naamlik mense. Alumni, personeel, studente en ondersteuners dra elk op ʼn eiesoortige manier by tot die bou van die instelling en sy toekoms.
Dit is daarom duidelik dat Akademia nie nét bloot kampusse en infrastruktuur bou nie, maar eerder ruimtes skep waarin toekomstige geslagte sal kan leer, groei en gevorm word.
Akademia in gesprek
Daar is egter ook ʼn ander dimensie aan Akademia se groei, naamlik toenemende gespreksvoering. Die instelling is op almal se lippe en sy impak op die gemeenskap – in die verlede, die hede en die toekoms – vertel ʼn storie van impak.
Wat mense van Akademia sien, wakker bewustheid aan, maar dit is deur wat hulle hoor en deur ander beleef wat begrip en vertroue inboesem. En dit is juis hier waar alumni ʼn sleutelrol speel.
Wanneer ʼn student sy of haar studie voltooi, is dit nie die einde van hul verbondenheid tot hul alma mater nie. Inteendeel, afgestudeerde Fonties neem iets van Akademia saam met hulle die wye wêreld in, by wyse van herinneringe, kennis, waardes, vriendskappe en vorming.
Op dieselfde manier voeg elke alumnus ook ʼn nuwe dimensie tot die instelling by. Alumni se ervaring, kundigheid, netwerke, sukses en studentweesstories dien as inspirasie en motivering vir diegene wat in hul voetspore volg.
Akademia se alumni-gemeenskap het reeds die 3 000-kerf oorgesteek en dit is verblywend om te weet dat die instelling reeds soveel ambassadeurs het wat doelgerig aan ʼn hoopvolle toekoms bou – nie net vir hulself nie, maar vir die instelling en die gemeenskap. Alumni-lede is daarom nie slegs bloot deel van die sigbare beeld van ʼn groeiende Akademia nie, maar ook die gesprekvoerders en storievertellers wat betekenis ontsluit en die instelling vorm.
ʼn Verbondenheid wat voortbou
Vanjaar se fokus op boustene spreek egter tot meer as net bakstene en sement, dit is ook ʼn uitnodiging aan elke lid van die Akademia-gemeenskap, alumni ingesluit, om hulself as toekomsbouers te besig.
Deur hierdie daad van verbondenheid dien elke alumnus nie net as ʼn simboliese bousteen waarop die instelling voortbou nie, maar word boustene ook vir die toekoms neergelê. Namate Akademia se sigbare voetspoor steeds groter word, moet alumni die gesprek oor die instelling met geloofwaardigheid, trots en toekomsgerigtheid aanwakker en voer.
Die doel is nie dat alumni bloot moet terugkyk en sê: Ek het aan Akademia gestudeer nie. Nee. Dit is ons wens dat elke afgestudeerde student met oortuiging sal kan sê dat hy of sy ʼn trotse deel van hul alma mater se verhaal is en opgewonde help skryf aan die volgende hoofstuk. Daar is talle maniere waarop dié voortgesette betrokkenheid gestalte kry: Deur ʼn huidige Fontie te mentor, geleenthede (soos internskappe en skaduwerk) vir studente te skep, Akademia se verhaal in werksomgewings en gemeenskappe te vertel, professionele netwerke vir ander oop te stel óf om eenvoudig betrokke te bly.
Dit is ʼn bewese feit dat die sterkste instellings nie gekenmerk word aan geboue en programme alleen nie, maar eerder deur mense wat glo dat dit waaraan hulle saam bou en werk, groter is as hulself.
ʼn Woord van dank
Akademia is ewig dankbaar vir sy alumni-gemeenskap en betuig daarom graag, en gereeld, sy dank teenoor dié groeiende groep afgestudeerde studente.
Dankie vir die rol wat jy as alumnus in die instelling se verhaal speel, vir dit wat jy reeds bygedra het en bowenal vir jou taak as toekomsbouer. Die 7,1 miljoen bakstene wat op die Mooiplaats-terrein neergelê word, gaan aan Akademia ʼn indrukwekkende nuwe adres verseker. Dit is egter jy, as gewaardeerde alumnus, wat aan die instelling ʼn stem, ʼn reputasie en ʼn gesonde hartklop gee.
Mag Akademia daarom nie net toenemend in beeld groei en uitbrei nie, maar ook deur elkeen van sy alumni met hoop, trots en oortuiging deel van die groter gesprek bly.

Akademia-skenkingsfonds
Eerste Nasionale Bank
Rekeningnommer: 62857561445
Takkode: 210554
Verwysing: Jou selfoonnommer
Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)
Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.
Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak.
083 254 0142
skenking@akademia.ac.za
Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.