Studieaansoeke vir 2025 is reeds oop

Search
Close this search box.

Wil jy jouself verder as vakspesialisonderwyser bekwaam?

Gepubliseer op: 26 April 2021

Akademia bied op Saterdag 15 Mei ʼn aanlyn inligtingsessie aan wat handel oor een van die instelling se gewildste kwalifikasies, die Nagraadse Onderwyssertifikaat (ook bekend as NGOS) vir Senior Fase- en Verdere Onderwys en Opleiding-onderwys. Hierdie kwalifikasie, wat sedert vanjaar aangebied word, bied die ideale geleentheid vir persone wat reeds ʼn kwalifikasie voltooi het en hulleself verder as hoërskoolonderwyser wil bekwaam.

Die sessie bied ʼn kort maar kragtige oorsig oor die NGOS-kwalifikasie en kan Saterdag vanaf 10:00-11:00 vanuit jou rusbank by die huis meegemaak word. Die program is propvol gepak met waardevolle inligting sodat jy met ʼn geruste hart ʼn ingeligte besluit kan neem. ʼn Blik word geneem op waarom jy NGOS moet oorweeg, die toelatingsvereistes tot die program, hoe die proeftydperke en klasbywoning werk, asook hoe die aanlyn aansoekproses. Boonop is daar meer as genoeg tyd om kwelvrae in die kletsgedeelte aan die aanbieder te vra.

As jy nog altyd die onderwys wou betree en ʼn roeping ervaar om ʼn bydrae te lewer om ons kosbare jeug se lewens te verryk, dan is hierdie kwalifikasie vir jou. Daar is tans ʼn hoë aanvraag vir vakspesialisonderwysers by skole, wat hierdie Akademia-kwalifikasie aantreklik maak. Die goeie nuus is dat NGOS nauurs aangebied word, wat ideaal is vir studente wat reeds bedags werk of ander verpligtinge het. Buiten die nauurse klasbywoning, is daar ʼn proeftydperke wat by skole voltooi moet word om te verseker dat NGOS-studente met die nodige praktiese vaardighede toegerus word. Nuuskierig om meer oor hierdie kwalifikasie te lees? Besoek die Akademia-webblad om verder te lees.

Voornemende studente wat belangstel om die NGOS-inligtingsessie by te woon moet teen 14 Mei om 12:00 registreer om toegang tot die sessie te verkry. Klik hier om jou virtuele sitplek te bespreek. Aansoeke vir studie in 2022 open 1 Mei. Akademia, jou Afrikaanse studietuiste!