*Die Paarl-kampus is voorlopig goedgekeur

Eerste Fontie-spele in die Boland: ’n ware studentesportfees!

Gepubliseer op:  17 Augustus 2026

ʼn Sonnige wintersdag met die Bolandse berge as agtergrond het die toneel geskets vir Akademia se eerste Fontie-spele in die Paarl. Spanne van vier hoëronderwysinstellings (Akademia, Hugenote Kollege, Eduvos Tygervallei en ETA Kaapstad) en twee professionele sportklubs (Dragons-hokkieklub en Rosendal-rugbyklub) het die naweek van 8 Augustus 2026 by Hoërskool Labori in die Paarl in onder meer 10’s-rugby, halfveldhokkie (dames en mans) en netbal (dames en gemeng) meegeding.

Ná afloop van dié geleentheid is almal betrokke dit eens: Die Paarl-kampus se eerste Fontie-spele was ʼn dawerende sukses. Wat twee jaar gelede in Pretoria as ʼn sporttradisie begin het, het nou ook in die Wes-Kaap wortel geskiet.

Vir Kobie Krause, beampte: Sport van die Paarl-kampus, verteenwoordig die instelling se sportuitbreiding na die Wes-Kaap die neerlegging van ʼn belangrike bousteen binne die groter Akademia-prentjie. Volgens Krause is Akademia se sportstrategie nie nét op elitespelers gerig nie, maar op vorming en om aan studente geleenthede te bied om hulself – op en van die sportveld – te ontwikkel. “Soos Akademia se Paarl-kampus groei, wil ons verseker dat studente ʼn bruisende studentelewe ervaar, en sport is ʼn groot deel van hierdie belewenis,” sê Krause.

Die goeie sportmansgees tussen die studente van die onderskeie deelnemende instellings was een van die groot hoogtepunte van die naweek. Hierbenewens ontsluit die tusseninstellingblootstelling nie net mededinging nie, maar ook die geleentheid om netwerke en vriendskappe te vorm en verder uit te bou.

Buiten die sport het stalletjies en musiek deur die loop van die dag tot die feestelike atmosfeer bygedra.

Vir Akademia was die geleentheid meer as net ʼn sportdag. “Die Fontie-spele vorm deel van ons breër visie vir die instelling se studentelewe, waar studente ook buite die lesinglokaal aan mekaar, aan tradisie en aan hul gemeenskap verbind word,” sê Douard d’Assonville, bestuurder: Studentesake van die Paarl-kampus. Hy voeg by dat verskillende aktiwiteite deel uitmaak van die suksesvolle vestiging van ʼn eie kampuskultuur waarin Akademia se gesonde studentelewe hoogty vier.

ʼn Hartlike woord van dank word aan Hoërskool Labori gerig vir die gebruik van hul sportfasiliteite. Akademia bedank ook die deelnemende instellings, die spelers en almal wat die dag bygewoon het en sien uit daarna om by die volgende Fontie-spele weer almal – en nog vele meer – te verwelkom.

Akademia en Rosendal-rugbyklub het mekaar die stryd aangesê op die rugbyveld.
ETA Kaapstad se damesnetbalspan (links) en gemengde netbalspan (regs) is as wenners in hul onderskeie afdelings aangekondig.
Akademia se dames het op die hokkieveld geseëvier.
Studente, ondersteuners en gesinne het die dag se feestelike atmosfeer by Hoërskool Labori geniet.

Direkte inbetaling: Bankbesonderhede

Akademia-skenkingsfonds

Eerste Nasionale Bank

Rekeningnommer: 62857561445

Takkode: 210554

Verwysing: Jou selfoonnommer

Testamentêre bemaking

Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)

Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.

Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak. 

Zander Botha: Skenkingsfondsbestuurder

083 254 0142
skenking@akademia.ac.za

Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.