Om ʼn Fontie te wees
Gepubliseer op: 25 Mei 2021
Geskryf deur Marthinus Visser, besturende direkteur van Akademia
Die studentekorps aan universiteite het in meeste gevalle ʼn kollektiewe eienaam. Plaaslik word byvoorbeeld studente wat aan die Universiteit Stellenbosch studeer Maties genoem. Dan is daar (of was daar) Pukke, Kovsies, Tukkies en nog meer. Dieselfde gebruik kry mens by bekende oorsese universiteite. Studente van Yale word Yalies genoem, die van Harvard heet Vardians en aan Oxford is jy ʼn Oxonian.
Dis moeilik om te sê of hierdie eiename spontaan ontstaan het of doelbewus deur universiteite gevestig is. Wat belangriker is, is dat hierdie “noemnaam” deel word van studente se identiteit. Studente sal byvoorbeeld begin sê dat hulle ʼn Matie is, eerder as om te sê dat hulle aan die Universiteit Stellenbosch studeer. Wat hier gebeur is dat die student so identifiseer met haar universiteit dat sy laasgenoemde deel van haar identiteit maak. Hierdie diep verbintenis tussen student en universiteit is lewenslank. Mense sal tot op hul oudag hulself ʼn Tukkie, Kovsie of Matie noem.
Daar bestaan uiteraard ʼn noue verband tussen hierdie identiteitsvorming en die aard en wese van die universiteit. Slegs wanneer studente hulself vereenselwig met die karakter, waardes en kultuur van die universiteit, kruip laasgenoemde in die student se selfkonsep in. Die universiteit het daarom ʼn enorme verantwoordelikheid om ʼn gesonde karakter te ontwikkel en uit te leef. Meer nog het die universiteit die verantwoordelikheid om hierdie karakter in beskerming te neem ter wille van duisende alumni wat hulself lewenslank vrywillig daaraan verbind.
Studente wat aan Akademia studeer word Fonties genoem. Hierdie eienaam is afgelei uit ons leuse, Ad futurum per fontes – na die toekoms deur die bronne. Vrylik vertaal beteken fontes ook fonteine. Om ons studente Fonties te noem is dus nie bloot net ʼn afleiding van die naam van die instelling nie, maar dra ook betekenis. Soos goeie fonteine standhoudende skoon water gee aan die omgewing daarvan, is die ideaal dat Akademia-studente (Fonties) só sal wees vir hul gemeenskap. Hierin lê ʼn groot opgawe, maar een wat ons met mening opneem. Mag ons studente oor tien, twintig en vyftig jaar hulself met trots Fonties noem en mag Akademia haarself waardig aanbied om dit te verdien.