*Die Paarl-kampus is voorlopig goedgekeur

Taalstudies as ʼn toekomsboublok: ʼn Taal lewe waar mense dit laat leef

Gepubliseer op:  14 Augustus 2026

ʼn Taal het nie longe nie, tog haal dit asem. Dit het nie ʼn hartklop nie, tog bruis dit ononderbroke in die are van die sprekers daarvan. Gedagtig aan Afrikaanse Taaldag, 14 Augustus 2026, vier Akademia opnuut die toekomsmoontlikhede wat ʼn taal soos Afrikaans vir voornemende studente kan ontsluit.

Jo-Ann Scholtz, senior taalpraktisyn by Akademia, meen dat ʼn lewende taal meer as ʼn versameling woorde, taalreëls en historiese ontwikkelinge omvat. Dit is, volgens haar, ʼn taal wat deur mense gebruik, bevraagteken, bestudeer, aangepas, gekoester en oorgedra word en wat op allerlei wyses – prakties en professioneel – gestalte kry. Laasgenoemde sluit gesprekke, literatuur, akademiese begronding in die lesingsale, in die dinamika van die werkplek, asook digitale ruimtes en die manier waarop mense hulself en die wêreld rondom hulle probeer verstaan in.

Dit is juis hierdie lewende aard van taal wat die grondslag vorm van Akademia se BA (Taalstudies)-program – ʼn program wat dit nie nét ten doel het om studente oor taal te leer nie, maar hulle ook toerus om betekenisvolle rolle in die taalwêreld te speel.

Dié program word by wyse van die instelling se voltydse kampusmodel in Pretoria aangebied, en bied aan studente die keuse om Afrikaans en Nederlands as hoofmodule te neem. Gevolglik kan Engels, Duits, Frans of Sepedi as tweede taal tot op derdejaarsvlak geneem word. Studente kan hul studie verder verbreed met ʼn keusemodule in Geskiedenis, Filosofie, Joernalistiek of Taalpraktyk.

Volgens prof. Danie Goosen, uitvoerende hoof: Akademie by Akademia, verteenwoordig die BA (Taalstudies)-program terselfdertyd ʼn tuiste én ʼn venster vir studente met ʼn hartstog vir tale. “Tale gee ons plekke waar ons behoort, maar stel ons ook in staat om oor die bekende te beweeg en die onbekende te verken,” verduidelik Goosen. Hy voeg by dat die bestudering van tale veel meer behels as net die bewaring van die geskiedenis en die hedendaagse stand van tale. Met ons tale gee ons ook vorm aan die toekoms. Die loopbaanmoontlikhede wat die program ontsluit, strek van taalopleiding, vertaling en tolking tot teksredigering, taalbeplanning en -ontwikkeling, kreatiewe skryfkuns, toerisme en diplomasie, advertensiewese, openbare skakeling, joernalistiek en digitale media en inhoudskepping.

Scholtz sluit af deur te sê dat ʼn taal se wonder nie net opgesluit lê in die wete dat dit deur mense gebruik word nie, maar ook gelééf word. “Solank as wat taal brandend in mense se strewe voortleef en hulle dit praat, lees, skryf, aan instellings studeer, bevraagteken, versorg en ontwikkel, sal taal se hartklop ritmies en gesond bly.”

Studieaansoeke vir die 2027- akademiese jaar is oop. Besoek Akademia se webblad vir meer inligting oor die BA (Taalstudies)-program.

Akademia se BA (Taalstudies)-program het dit ten doel om nie net studente oor taal te leer nie, maar hulle ook toekomsgerig toe rus om betekenisvolle rolle in die taalwêreld te speel.

Direkte inbetaling: Bankbesonderhede

Akademia-skenkingsfonds

Eerste Nasionale Bank

Rekeningnommer: 62857561445

Takkode: 210554

Verwysing: Jou selfoonnommer

Testamentêre bemaking

Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)

Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.

Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak. 

Zander Botha: Skenkingsfondsbestuurder

083 254 0142
skenking@akademia.ac.za

Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.