*Die Paarl-kampus is voorlopig goedgekeur

Wat is ’n universiteit veronderstel om te wees?

Gepubliseer op:  30 Julie 2026

Geskryf deur Marthinus Visser, besturende direkteur: Akademia

Wat is ʼn universiteit veronderstel om te wees? Dié vraag is opnuut aan die orde van die dag ná ʼn meningsartikel waarin daar aangevoer word dat Afrikaans- private universiteite ʼn gevaar vir Suid-Afrika se demokrasie kan inhou. Die argument word gemaak dat instellings soos Akademia integrasie – en daarom by uitstek nasiebou – aan bande lê deur studente se blootstelling aan diversiteit, kritiese denke en uiteenlopende perspektiewe te beperk.

Volgens die skrywer van die genoemde meningsartikel, prof. Jonathan Jansen, beperk instellings soos Akademia studente se blootstelling aan diversiteit, kritiese denke en uiteenlopende perspektiewe. Hy voer aan dat sulke universiteite daarom nie net jongmense benadeel nie, maar uiteindelik ook Suid-Afrika se demokratiese projek.

ʼn Mens sou maklik baie tyd kon bestee om die talle oorhaastige veralgemenings, onbeweerde aannames en historiese assosiasies in sy argument stap vir stap te weerlê. Dit is egter waarskynlik nie waar die kern van die debat lê nie. Die werklike verskil tussen professor Jansen en Akademia gaan nie in die eerste plek oor Afrikaans nie. Dit gaan oor twee fundamenteel verskillende opvattings van die universiteitswese self.

Elke universiteit verrig minstens twee take. Eerstens ontwikkel dit akademiese kennis en professionele kundigheid. Tweedens vorm dit mense – hulle denke, karakter, oordeelsvermoë en uiteindelik ook hulle wêreldbeskouing. Geen universiteit is in hierdie opsig neutraal nie. Elke instelling funksioneer vanuit bepaalde normatiewe vertrekpunte, hetsy dit eksplisiet geformuleer word of stilweg aanvaar word.

Hierin lê ʼn belangrike verskil. Akademia maak sy vertrekpunte openlik bekend. Ons verklaar sonder omhaal dat ons vanuit ʼn Christelike en klassieke opvoedingsfilosofie werk. Studente en ouers weet vooraf waarvoor hulle hulself inlaat. By baie ander universiteite is daar eweneens sterk normatiewe vertrekpunte, maar dit word dikwels voorgestel asof dit bloot neutraal of vanselfsprekend is. Tog is ook waardes soos sekularisme, nasionalisme, transformasie of sosiale geregtigheid nie wêreldbeskouingsvry nie; dit is normatiewe vertrekpunte wat die karakter van ʼn instelling en sy studente vorm.

Hier verskil Akademia en professor Jansen waarskynlik die diepste. Uit sy artikel blyk dit dat hy die universiteit hoofsaaklik sien as ʼn instrument vir nasiebou – ʼn plek waar studente deur demografiese diversiteit en gedeelde ervarings gevorm word tot burgers van ʼn postapartheid-demokrasie. Dit is ʼn eerbare ideaal, maar dit is nie die enigste moontlike verstaan van die universiteit nie.

Akademia verstaan die universiteitswese anders. Vir ons is die universiteit in die eerste plek ʼn akademiese gemeenskap wat die waarheid soek, studente intellektueel vorm en hulle toerus om verantwoordelike professionele mense en burgers te wees. Diversiteit is waardevol, maar dit is nie die hoogste doel van ʼn universiteit nie. Akademiese uitnemendheid, intellektuele integriteit en karaktervorming bly die kern.

Hiermee saam kom ʼn tweede belangrike punt. Professor Jansen maak die aanname dat demografiese diversiteit vanself tot intellektuele diversiteit lei, en dat ʼn meer homogene studentegroep noodwendig intellektueel eng gevorm word. Dit is egter nie ʼn vanselfsprekende gevolgtrekking nie.

Intellektuele diversiteit word nie in die eerste plek bepaal deur die ras, taal of kultuur van die mense in ʼn klas nie, maar deur die gehalte van die vrae wat gevra word, die uiteenlopende teorieë waarmee studente worstel, die argumente wat hulle moet evalueer en die akademiese standaarde waaraan hulle gemeet word. ʼn Universiteit kan demografies baie uiteenlopend wees en tog ideologies opvallend eenders dink. Omgekeerd kan ʼn relatief homogene studentekorps voortdurend uitgedaag word deur uiteenlopende idees, wêreldbeskouings en intellektuele tradisies.

Dieselfde geld vir taal. Suid-Afrika se grootste opvoedkundige krisis is nie dat sommige studente in hul moedertaal studeer nie, maar dat miljoene kinders reeds op skool deur niemoedertaalonderrig benadeel word. Internasionale navorsing wys herhaaldelik dat moedertaalonderrig, veral in die vroeë fases van onderwys, leerprestasie en begripsvorming bevorder. Om ʼn universiteit te kritiseer omdat dit een van Suid-Afrika se inheemse tale as onderrigtaal gebruik, vra ernstige besinning.

Die kritiek op Akademia se Christelike identiteit verdien eweneens nuansering. Dat sommige Christene in die verlede apartheid teologies probeer regverdig het, beteken nie dat elke Christelike universiteit vandag daardie nalatenskap voortsit nie. Die vraag behoort nie te wees of ʼn instelling ʼn wêreldbeskouing het nie – elke universiteit het een. Die vraag is eerder of daardie wêreldbeskouing openlik verklaar word, akademiese integriteit bevorder en ruimte laat vir eerlike ondersoek en debat.

Miskien is die belangrikste vraag uiteindelik hierdie: Het ʼn grondwetlike demokrasie ruimte vir meer as een tipe universiteit?

ʼn Pluralistiese demokrasie behoort juis plek te maak vir openbare én private universiteite; sekulêre én geloofsgebaseerde instellings; meertalige én taalgefokusde universiteite. Om te verwag dat alle universiteite dieselfde missie, dieselfde wêreldbeskouing en dieselfde begrip van burgerskap moet nastreef, is nie pluralisme nie. Dit is sentralisme.

Akademia vra nie dat alle universiteite soos Akademia moet wees nie. Ons verdedig juis die beginsel dat verskillende universiteite vanuit verskillende opvoedkundige tradisies kan funksioneer, mits hulle akademiese gehalte handhaaf, die Grondwet respekteer en studente toerus om verantwoordelike burgers te wees.

Die debat gaan dus uiteindelik nie nét oor Afrikaans nie. Dit gaan oor die vraag of Suid-Afrika se demokrasie ruimte laat vir werklike institusionele verskeidenheid. Ironies genoeg is dit dalk juis daardie pluraliteit – en nie uniformiteit nie – wat die sterkste waarborg vir ʼn gesonde demokrasie bied.

Marthinus Visser, besturende direkteur: Akademia, meen dat ʼn grondwetlike demokrasie ruimte vir meer as een tipe universiteit laat. Dit is volgens hom juis hierdie pluraliteit wat stukrag aan ʼn gesonde demokrasie bied.

Direkte inbetaling: Bankbesonderhede

Akademia-skenkingsfonds

Eerste Nasionale Bank

Rekeningnommer: 62857561445

Takkode: 210554

Verwysing: Jou selfoonnommer

Testamentêre bemaking

Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)

Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.

Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak. 

Zander Botha: Skenkingsfondsbestuurder

083 254 0142
skenking@akademia.ac.za

Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.