*Die Paarl-kampus is voorlopig goedgekeur

Administratiewe druk en buitensporige verwagtinge: só word dienende skoolleierskap uit die oog verloor

Gepubliseer op:  22 Julie 2026

Geskryf deur Susan O’Reilly, departementshoof: Opvoedkundestudies, en dr. Anton Pretorius, dosent: Opvoedkundestudies, aan Akademia se Fakulteit Opvoedkunde

Dit is reeds 21:00. Die skoolterrein is donker en stil en die leerders is lank reeds tuis. In die skoolhoof se kantoor brand die lig egter nog omdat die Departement van Basiese Onderwys (DBO) vóór twaalfuur môreoggend dringende papierwerk vereis. Ja, dieselfde papierwerk wat verlede week óók voltooi en ingestuur is, net met ʼn ander opskrif.

Hierdie prentjie is nie die uitsondering op die reël nie, maar eerder die daaglikse werklikheid van tienduisende skoolhoofde in Suid-Afrika.

Skoolhoofde steier onder administratiewe druk

Volgens ʼn onlangse verslag van die Governing Body Foundation (GBF), soos gepubliseer in die Daily Maverick, is byna 60% van skoolhoofde in die openbare sektor gereed om die tuig neer te lê. Die tydsberekening van die bekendmaking van dié verslag is betekenisvol, omdat dit in dieselfde week as die SOS-Nasionale Kongres 2026,  FEDSAS se nasionale konferensie vir skoolbeheerliggame én die driejaarlikse SAOU-kongres verskyn het.

Tydens hierdie geleenthede het skoolhoofde openlik gepraat oor die verpletterende administratiewe druk en die diepe ongelykhede wat daar bestaan tussen wat van hulle verwag word en wat hulle in werklikheid behoort te doen. Wat hierdie krisis selfs nog meer veelseggend maak, is dat dit nie sonder voorafgaande erkenning plaasvind nie.

Ongeveer vyf weke voor die verskyning van die GBF-verslag het die minister van basiese onderwys, Siviwe Gwarube, tydens Budget Vote 16 (op 26 Mei) aangekondig dat die DBO die administratiewe las op onderwysers wil verminder. Sy het voorts aangedui dat die Nasionale Onderwys- en Opleidingsraad aanbevelings ingedien het om onnodige burokrasie te verminder en dat provinsies binnekort riglyne sal ontvang om verslagdoeningsprosesse meer vaartbelyn te maak.

Ander fokuspunte van die verslag het die toewysing van ʼn beduidende bedrag – R38,2 miljard – aan die onderwyssektor ingesluit, sowel as die erkentenis deur die minister dat die genoemde toenemende druk en burokrasie ʼn daadwerklike probleem is wat by wyse van konkrete stappe opgelos moet word. Hoewel hierdie fokuspunte positiewe tekens verteenwoordig, herinner die GBF-verslag daaraan dat erkenning en oplossings nie kante van dieselfde muntstuk is nie.

Nakomingsvereistes en die hoë prysetiket daaraan verbonde

Die skokstatistiek wat in die verslag vervat is, spreek duidelik en is die gevolg van jare se geleidelike en ongekoördineerde ophoping van nakomingsvereistes. En meer nog – dit sal nie gou reggestel kan word nie, al volg direktiewe eersdaags. Die statistiek sluit in:

  • 84% van skoolhoofde werk ná ure;
  • 71% se vermoë om hul skole effektief te bestuur, word ernstig geraak; en
  • 60% van skoolhoofde is gereed om te bedank.

Een van die mees onthullende bevindinge is dat die skoolhoofde wat die laagste kapasiteitspassing-tellings aangeteken het, dié in Gauteng is, waar 89% van die steekproef kwintiel 5-skole verteenwoordig. Hierdie is die welvarendste skole in die land, met die grootste begrotings en die meeste administratiewe ondersteuning.

ʼn Krisis wat spreek tot meer as net ʼn hulpbronprobleem

Die skrif is aan die muur en dit moet duidelik en eerlik belig word: Hierdie krisis is nie bloot ʼn hulpbronprobleem nie; dit is in wese ʼn stelselprobleem. Agter die statistiek en ontoereikende stelsels skuil daar egter ʼn dieper en meer kritiese vraag: Waarvoor is ʼn skoolhoof eintlik aangestel? Wat is sy of haar primêre roeping? Is daar in die gejaag na nakoming en verantwoording vergeet van die hart van skoolleierskap?

Dienende leierskap as ʼn antwoord

Robert Greenleaf, wat in 1970 die begrip dienende leierskap gemunt het, bied ʼn pasgemaakte antwoord vir die huidige krisis. Die dienende leier, skryf Greenleaf, is eers ʼn dienaar. Iemand wie se diepste oriëntering in die wêreld dié van diens is.

Die dienende leier lei omdat hy omgee, vanweë sy diepe bewustheid van sy verantwoordelikheid teenoor diegene wat aan hom toevertrou is. Verder herinner dienende leierskap ons daaraan dat ʼn leier se eerste verantwoordelikheid teenoor mense is, nie administrasie nie. Aan die einde van die dag is dit nie papierwerk wat ʼn skool suksesvol maak óf ʼn kind se toekoms verander nie, maar eerder die mense wat elke dag daar diens lewer.

Hierdie gedagte is nie vreemd aan die Suid-Afrikaanse onderwyslandskap nie. Dit is ingeweef in die tradisionele Afrika-filosofie van ubuntu, naamlik medemenslikheid, respek en gemeenskap. In kort: Ek is omdat ons is. Hierin lê die begrip en verstaan van die onderwyser as ʼn gemeenskapsdienaar wat lank voor Greenleaf se werk reeds na vore getree het.

Die vraag is nie of ons hierdie waardes ken nie, maar eerder of ons dit nog uitleef en of die stelsel waarbinne ons skoolhoofde werk dit nog moontlik maak om dit uit te leef. Ubuntu herinner ons dat leierskap nie in beheer lê nie, maar in verantwoordelikheid teenoor ander.

In die skoolkonteks beteken dienende leierskap een ding met kristalhelder duidelikheid: Die skoolhoof se primêre lojaliteit behoort nie aan die departement se verslagdoeningstelsel nie; dit behoort aan die leerder in die klas, die onderwyser in die gang, en die gemeenskap buite die skoolhek.

Ken Blanchard, wat die konsep van dienende leierskap verder uitgebou het, stel dit só: Die dienende leier se eerste funksie is om ʼn visie te skep, en dan om alle energie te wy aan die toerusting van ander om daardie visie gesamentlik te verwesenlik. Greenleaf ondersteun hierdie siening en stel dat die doel nie is om te bepaal hoeveel prosesse ʼn leier voltooi het nie, maar eerder of mense in die proses ontwikkel het.

Dienende leierskap vereis bo alles teenwoordigheid – fisieke, emosionele en relasionele teenwoordigheid – by die mense wat jy, as skoolhoof, lei. Dit vereis dat jy van jou skerm af op kan kyk en die menslike en emosionele behoeftes van die skoolgemeenskap kan raaksien. Dit vereis dat jy beskikbaar is vir die onderwyser wat sukkel, vir die leerder wat verlore voel, en vir die ouer wat ʼn gesprek broodnodig het.

Die uurglas loop (vinnig) leeg

In ʼn stelsel waarin ongeveer 84% van skoolhoofde gedwing word om administratiewe werk ná ure te doen, ontaard dienende leiers ongelukkig in gevange leiers. En ʼn gevange leier kan nie dien nie.

Elke uur wat aan onnodige administrasie bestee word, is ʼn uur minder vir klasbesoeke, gesprekke met onderwysers, ondersteuning aan leerders en die bou van vertrouensverhoudinge met ouers en die skoolgemeenskap.

Die GBF-verslag waarsku dat die skoolhoofde wat neig om eerste te bedank, dié tussen 60 en 65 jaar oud, die mees ervare leiers in die stelsel is, asook diegene verteenwoordig wat oor dekades se praktiese wysheid, gemeenskapsverhoudinge, en onderrigkennis beskik.

Buiten die verlies van individuele leiers is daar iets nóg dieper op die spel: die verlies van ʼn leierskapskultuur wat op diens gegrond is. Elke jaar wat ʼn skoolhoof moet kies tussen die behoeftes van sy mense en die eise van administrasie, is ʼn jaar waarin dienende leierskap verder op die agtergrond skuif. Elke bedanking van ʼn ervare hoof is nie nét die verlies van een persoon nie, maar die verlies van ʼn lewende voorbeeld van wat skoolleierskap kan en behoort te wees. Juis hierin lê die werklike krisis opgesluit: dat ons as samelewing stilweg toegelaat het dat ʼn stelsel van nakoming die plek inneem van ʼn kultuur van diens en teenwoordigheid. Die gevolg hiervan is dat dienende leierskap geleidelik onmoontlik gemaak word.

Die gemeenskap speel ʼn belangrike rol

Die lig wat ná 21:00 nog in die skoolhoof se kantoor brand, is daarom nie net ʼn aanduiding van ʼn gebroke stelsel nie. Dit is tekenend van ʼn leier wat wil dien, maar wat deur ʼn onsimpatieke en ongekoördineerde administratiewe klimaat verhoed word om dit te doen.

Ten einde oplossings daar te stel, moet ons – as die gemeenskap – onsself ʼn eenvoudige, maar eerlike vraag vra: Is ons bereid om die stelsel só te help hervorm dat die skoolhoof weer kan doen waarvoor hy of sy aangestel, geroep en toegerus is?

Indien ons werklike dienende leierskap wil bevorder of opwek, moet administrasie weer ʼn hulpmiddel word en nie die hoofdoel van die skoolhoof se werk nie. Elke administratiewe vereiste behoort dus getoets te word aan een eenvoudige vraag: Neem dit waardevolle tyd weg van die mense wat die skool dien? Verder behoort effektiewe aanspreeklikheid eerder op uitkomste as op oormatige verslagdoening te fokus.

Dienende leierskap beteken nie dat die skoolhoof alles self moet doen nie. Inteendeel, dit vra dat verantwoordelikheid gedeel word en ander op hierdie manier toegerus word. Waar moontlik, behoort administratiewe funksies na administratiewe personeel of digitale stelsels verskuif te word sodat skoolhoofde hul aandag weer op mense kan vestig. Laastens, indien administratiewe prosesse nie uiteindelik beter onderrig, sterker onderwysers en meer effektiewe ondersteuning vir leerders moontlik maak nie, behoort dit in geheel heroorweeg te word.

Die oplossing lê nie daarin om aanspreeklikheid prys te gee nie, maar om dit anders te verstaan. Dienende leierskap vra dat administrasie weer diensbaar aan mense word, eerder as wat mense diensbaar aan administrasie word. Wanneer skoolhoofde weer die tyd en ruimte het om teenwoordig te wees – by onderwysers, leerders en ouers – sal ons nie net sterker skole bou nie, maar ook ʼn onderwysstelsel daarstel wat sy oorspronklike doel vier en uitbou.

Susan O’Reilly, departementshoof: Opvoedkundestudies, en dr. Anton Pretorius, dosent: Opvoedkundestudies, aan Akademia se Fakulteit Opvoedkunde, is van mening dat plaaslike skoolhoofde onder administratiewe druk steier. Hulle is dit eens dat dié realiteit ʼn daadwerklike gevaar vir dienende skoolleierskap inhou.

Direkte inbetaling: Bankbesonderhede

Akademia-skenkingsfonds

Eerste Nasionale Bank

Rekeningnommer: 62857561445

Takkode: 210554

Verwysing: Jou selfoonnommer

Testamentêre bemaking

Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)

Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.

Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak. 

Zander Botha: Skenkingsfondsbestuurder

083 254 0142
skenking@akademia.ac.za

Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.