*Die Paarl-kampus is voorlopig goedgekeur

Akademia-sakeplankompetisie: van sakeplan tot besigheidsukses

Gepubliseer op:  22 Julie 2026

Die volgende onderneming wat werk skep, ʼn gemeenskap versterk, ʼn nisbedryf aanvuur óf selfs ʼn besigheidsektor in geheel verander, het dalk vanjaar sy ontstaan te danke aan die Akademia-sakeplankompetisie*. Hierdie kompetisie, ʼn inisiatief vanuit die BCom (Ondernemingsbestuur)-program, bied vanaf 2018 aan entrepreneurs die geleentheid om hul idees in volhoubare ondernemings te omskep en só die boustene vir toekomssukses neer te lê.

Die kompetisie behels egter veel méér as net ʼn gulde geleentheid om pryse te wen. Dit bied aan deelnemers die kans om hul entrepreneuriese potensiaal te ontwikkel, hul besigheidsidees te verfyn en toegang te verkry tot waardevolle mentorskap, professionele terugvoer en betekenisvolle netwerke.

Gedagtig aan vanjaar se kompetisieslagspreuk, “Kom lê die bousteen vir jou toekoms”, dra die kompetisie ʼn eenvoudige, maar kragtige boodskap uit: dat elke suksesvolle onderneming met ʼn enkele aksie (idee) begin. Hierdie neerleggingsaksie kan uiteindelik ʼn blywende verskil in toekomstige generasies se lewens, asook in gemeenskappe, maak.

Entrepreneurskap bou aan meer as net ondernemings

By Akademia word entrepreneurskap nie slegs as ʼn toekomsgedrewe loopbaanmoontlikheid beskou nie, maar ook as ʼn manier om verantwoordelike leiers te ontwikkel wat vindingryk oplossings skep, waarde toevoeg en nuwe geleenthede ontsluit. Wanneer entrepreneurs waag om nuwe ondernemings te begin, word hulle nie net werkgewers nie, hulle word bouers van sterker gemeenskappe, aldus dr. Rachel Maritz, dekaan: Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe.

Die sakeplankompetisie is gevolglik daarop gemik om hierdie ingesteldheid verder te ontwikkel deur deelnemers toe te rus om nie bloot ʼn goeie idee te hê nie, maar om daardie idee in ʼn uitvoerbare en volhoubare onderneming te omskep.

Van idee tot besigheidsukses

Deelnemers ontvang die geleentheid om hul sakeplanne met die hulp en ondersteuning van akademici en bewese praktyksmentors te ontwikkel en te verfyn. Benewens blootstelling aan ervare beoordelaars, bied die kompetisie ook ʼn platform waar waardevolle terugvoer ontvang kan word en professionele netwerke gesmee kan word. Alles noodsaaklike hulpbronne wat dikwels net so waardevol, indien nie meer, as die pryse self is nie.

Vir bestaande entrepreneurs bied die kompetisie die geleentheid om hul ondernemings krities te evalueer en met ʼn sterker strategiese grondslag na die volgende groeifase te beweeg. Vir nuwe entrepreneurs verteenwoordig die kompetisie ʼn geleentheid om die toekoms op ʼn praktiese manier te visualiseer en te realiseer.

Geleenthede vir studente én bestaande entrepreneurs

Die kompetisie bestaan uit drie kategorieë:

  • Kategorie 1: Nuwe ondernemings, idees en konsepte vir geregistreerde Akademia-studente wat ʼn nuwe besigheidsidee wil ontwikkel.
  • Kategorie 2: Bestaande ondernemings vir Akademia-studente én lede van die publiek met ondernemings wat reeds tussen een en vier jaar lank bedryf word.
  • Kategorie 3: Ontwikkel ʼn sakeplan vir Udolpho Rivierplaas in Parys. In hierdie kategorie sal Akademia-studente as onafhanklike besigheidskonsultante oplossings vir werklike besigheidsuitdagings ontwikkel.

Hierdie uiteenlopende kategorieë weerspieël die kompetisie se doel om entrepreneurs in verskillende stadiums van hul reis te ondersteun – van daardie eerste opgewonde ideevonk tot die uitbreiding en vestiging van ʼn bestaande onderneming.

Praktiese leer wat ʼn verskil maak

Die sakeplankompetisie is gegrond in Akademia se uitgangspunt dat kennis die grootste waarde het wanneer dit prakties en toekomsgedrewe toegepas word.

Deur die ontwikkeling van ʼn professionele sakeplan leer deelnemers om markgeleenthede te ontleed, risiko’s te bestuur, finansiële beplanning te doen en strategies oor hul ondernemings na te dink. Hierdie vaardighede bly waardevol, ongeag of hulle uiteindelik hul eie onderneming begin al dan nie.

Skryf nou in

Inskrywings vir die Akademia-sakeplankompetisie 2026 is reeds oop en sluit op 31 Julie.

Die topdriefinaliste in elke kategorie sal op 19 Augustus aangekondig word, waarna hul sakeplanne tydens die finaal op 27 Augustus by Akademia se Leriba-kampus in Pretoria aan ʼn paneel beoordelaars voorgelê sal word. Die algehele wenners sal ook tydens hierdie geleentheid aangewys word.

“Die jaarlikse sakeplankompetisie is uiteindelik veel meer as ʼn kompetisie. Dit is ʼn belegging in mense met visie; mense wat bereid is om geleenthede raak te sien, probleme op te los en ondernemings te bou wat nie net hul eie toekoms verander nie, maar ook dié van hul gemeenskappe. Elke sterk gemeenskap word gebou deur mense wat bereid is om die eerste bousteen neer te lê,” sluit Maritz af.

*Vergewis jouself hier van die bepalings en voorwaardes. Besoek gerus die Akademia-webblad om meer te lees oor die vorige wenners.

Dassie, die besigheidskonsep van Iewan Struwig en Chantelle Pieterse, is as die wenner van kategorie een in 2025 aangekondig. Van links is Monique Visser, programkoördineerder: BCom (Ondernemingsbestuur), Struwig, Pieterse en dr. Rachel Maritz, dekaan: Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe.
Mincke Krige se bestaande besigheid, VleisHuis, het in 2025 met die louere in kategorie twee weggestap. Hier is sy saam met Albert van Wyk, een van die beoordelaars.
Dewald Strydom se besigheid, Zortex Baits, is verlede jaar as die wenner van kategorie drie aangewys. Van links is Monique Visser, programkoördineerder: BCom (Ondernemingsbestuur), Strydom en dr. Rachel Maritz, dekaan: Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe.

Direkte inbetaling: Bankbesonderhede

Akademia-skenkingsfonds

Eerste Nasionale Bank

Rekeningnommer: 62857561445

Takkode: 210554

Verwysing: Jou selfoonnommer

Testamentêre bemaking

Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)

Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.

Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak. 

Zander Botha: Skenkingsfondsbestuurder

083 254 0142
skenking@akademia.ac.za

Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.