*Die Paarl-kampus is voorlopig goedgekeur

Akademia-kuberkraakwerkswinkel laat leerders anders na die digitale wêreld kyk

Gepubliseer op:  21 Julie 2026

Kubermisdaad is lank nie meer net ʼn gonswoord van ons tyd nie, maar eerder ʼn realiteit wat almal raak. Het jy jouself al egter afgevra hoe jy kuberaanval sal ondersoek? Hoe volg jy digitale leidrade op? En meer nog, hoe beskerm jy jouself in ʼn wêreld waar kubermisdadigers al hoe slimmer te werk gaan?

Dít is van die vrae waarmee graad 11- tot 12-leerders tydens Akademia se eerste kuberkraakwerkswinkel op 20 Julie 2026 op die instelling se Paarl-kampus hulself gebesig het. Deur praktiese uitdagings en vindingryke probleemoplossingsvaardighede is hulle aan die beginsels van kuberveiligheid bekendgestel, ʼn vakgebied wat wêreldwyd al hoe belangriker word.

Onder leiding van Christo Croucamp, dosent: Rekenaarwetenskappe aan die instelling se Fakulteit Natuurwetenskappe, is leerders van meet af uitgedaag om soos kuberveiligheidsontleders te dink. Hulle het digitale leidrade opgevolg, versteekte boodskappe ontsyfer, oopbronintelligensiehulpbronne (OSINT) gebruik, eenvoudige kriptografie toegepas asook logiese probleme opgelos. Só het hulle eerstehands ervaar hoe kuberveiligheid in die praktyk lyk. Die aktiwiteite het voorts deurentyd kritiese denke en nuuskierigheid aangewakker, terwyl deelnemers op ʼn toeganklike manier met die intreebeginsels van kuberveiligheid kennis gemaak het.

Kuberveiligheid as ʼn  waardevolle lewensvaardigheid

Volgens Croucamp behoort kuberveiligheid vandag as ʼn basiese lewensvaardigheid beskou te word. “Hoërskoolleerders word in ʼn wêreld groot waar konnektiwiteit nie meer ʼn keuse is nie, maar ʼn gegewe,” verduidelik Croucamp. “Kuberveiligheid kan daarom nie meer as ʼn gespesialiseerde of opsionele vaardigheid beskou word nie, maar eerder as ʼn basiese lewensvaardigheid, vergelykbaar met verkeersveiligheid.”

Hy voeg by dat jongmense reeds vroeër eerder as later moet leer om risiko’s soos uitvissingsaanvalle, identiteitsdiefstal en manipulasie deur sosiale ingenieurswese te herken.

Bedryfskennis bring die werklikheid in perspektief

Nadat die leerders die oggend se uitdagings voltooi het, het die kuberveiligheidspraktisyn van MWR CyberSec, Tinus Green, die dag afgesluit met ʼn aanbieding waarin hy werklike voorbeelde van kuberaanvalle bespreek het. Green het verduidelik hoe kubermisdadigers te werk gaan, waarom gewone mense dikwels niksvermoedend geteiken word en hoe goeie veiligheidsgewoontes ʼn groot verskil kan maak.

Vir baie deelnemers was dit hul eerste kennismaking met kuberveiligheid as moontlike studierigting en loopbaan. “Vir baie leerders is hul enigste blootstelling aan hierdie veld dit wat hulle in films of nuusberigte sien, waar kuberveiligheid dikwels as ontoeganklik of hoogs tegnies uitgebeeld word,” sê Croucamp verder. “Deur hulle in ʼn praktiese en ontspanne omgewing daarmee kennis te laat maak, word daardie persepsie afgebreek en met ʼn gevoel van vermoë en prestasie vervang.”

Praktiese vaardighede vir ʼn digitale wêreld

Die werkswinkel het ook gefokus op praktiese kuberveiligheidsbeginsels wat leerders onmiddellik in hul eie digitale lewe kan toepas. Onderwerpe soos sterk wagwoorde, verskillende tipes aanvalle, identiteitsdiefstal en die veilige hantering van persoonlike inligting is bespreek om deelnemers beter toe te rus.

Volgens Croucamp is sosiale ingenieurswese en uitvissingsaanvalle van die grootste kuberveiligheidsbedreigings waarmee Suid-Afrikaners tans te make het. “ʼn Enkele oortuigende e-pos, teksboodskap of telefoonoproep kan voldoende wees om selfs die mees gesofistikeerde tegniese verdedigingsmaatreëls te omseil. Daarom behoort kuberveiligheidsbewustheid reeds op skoolvlak ontwikkel te word,” sê Croucamp.

Belangstelling in die tegnologie van môre

Kuberveiligheid bied vandag uiteenlopende loopbaangeleenthede, van etiese kuberkraakwerk en digitale forensiese ondersoeke tot sekuriteitsanalise, sagtewareontwikkeling en gepaardgaande risikobestuur. Die behoefte aan hierdie vaardighede neem eksponensieel toe namate organisasies en individue toenemend van digitale tegnologie afhanklik is.

Vir Akademia se Fakulteit Natuurwetenskappe vorm dié werkswinkel deel van ʼn groter strewe om belangstelling in rekenaarwetenskap, kuberveiligheid en ander tegnologievelde reeds op skoolvlak aan te wakker. Daarmee wil die fakulteit nie net toekomstige tegnologiekundiges toerus nie, maar ook jongmense vorm wat tegnologie met wysheid, verantwoordelikheid en onderskeidingsvermoë gebruik.

“Ons hoop leerders gaan huis toe met ʼn nuutgevonde nuuskierigheid oor hoe digitale stelsels werk en hoe hulle beskerm kan word. As hulle terselfdertyd meer bewus raak van hoe om veiliger besluite in hul eie digitale lewe te neem, het die werkswinkel sy doel bereik,” sluit Croucamp af.

Akademia is daartoe verbind om die volgende geslag tegnologiekundiges en rekenaarwetenskaplikes vir ʼn toenemend digitale wêreld toe te rus. Klik hier om meer te wete te kom van die fakulteit se programverskeidenheid. Aansoeke vir die 2027- akademiese jaar word reeds ingewag.

Tinus Green, kuberveiligheidspraktisyn by MWR CyberSec,(links) en Christo Croucamp, dosent: Rekenaarwetenskappe by Akademia (regs), het die werkswinkel aangebied.
Deelnemers aan Akademia se onlangse kuberkraakwerkswinkel het die geleentheid gehad om hulself van die beginsels van kuberveiligheid te vergewis en só meer te wete te kom oor ʼn vakgebied wat wêreldwyd al hoe belangriker word.

Direkte inbetaling: Bankbesonderhede

Akademia-skenkingsfonds

Eerste Nasionale Bank

Rekeningnommer: 62857561445

Takkode: 210554

Verwysing: Jou selfoonnommer

Testamentêre bemaking

Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)

Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.

Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak. 

Zander Botha: Skenkingsfondsbestuurder

083 254 0142
skenking@akademia.ac.za

Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.