*Die Paarl-kampus is voorlopig goedgekeur

Hoogleraarintreerede: twee dekades in diens van waarheid en geregtigheid

Gepubliseer op:  13 Julie 2026

By Akademia is uitnemendheid en akademiese diepgang ʼn volgehoue ingesteldheid met beduidende ewigheidswaarde. Dit verteenwoordig ʼn bewuste keuse asook ʼn passievolle verbintenis om te vorm, diensbaar na vore te tree en met oortuiging gestalte te gee aan die dag van môre. Hierdie klassieke ingesteldheid word by Akademia beliggaam deur die toekenning van die titel hoogleraar – die hoogste akademiese amp by dié instelling.

Op Woensdag 8 Julie 2026 het dr. Willem Gravett, departementshoof: Publiek- en Prosesreg in die Fakulteit Regsgeleerdheid, sy intreerede as hoogleraar by Akademia se Pretoria-kampus gelewer. Tydens hierdie prestigegeleentheid, die derde in ʼn reeks intreeredes wat vir die jaar beplan word, is Gravett erken vir sy uitnemende akademiese loopbaan. Laasgenoemde getuig van diepgaande en kritiese navorsing, prinsipiële regsdenke en ʼn fyn begrip van en ontsag vir die rol van die reg.

Ná afloop van sy intreerede, getiteld “Die liggaam as leuenaar: gedragsgetuienis, klassieke retoriek en die misleiding van die feitebeoordelaar”, is ʼn spesiale oorkonde aan Gravett oorhandig. Hierdie oorkonde dien as formele erkenning van sy amp as hoogleraar. Die instelling het ook hiermee opnuut sy waardering vir Gravett se omvangryke navorsingsbydraes, deelname aan nasionale en internasionale regsgesprekke en -projekte asook sy outeurskap van verskeie publikasies te kenne gegee.

Twee dekades in diens van waarheid en geregtigheid

Volgens Gravett verteenwoordig sy intreerede as hoogleraar ʼn besonderse loopbaanhoogtepunt en spreek dit tot sy groter roeping, naamlik om in diens van die waarheid en geregtigheid te staan deur gevestigde regsdenke uit te daag. Hy beskryf laasgenoemde as ʼn kernrol van enige persoon wat hom in die hoër onderwys vestig, veral by ʼn instelling soos Akademia wat in die klassieke en Westerse tradisie begrond is.

Hy verduidelik voorts dat hierdie geleentheid as’t ware ʼn simboliese plekspeld in sy loopbaanreis aandui omdat hy in 2026 net so lank in die akademie is as wat hy in die praktyk as litigasieprokureur gedien het. Gedagtig hieraan beskou hy sy intreerede as ʼn brug tussen hierdie twee wêrelde.

“Dit gaan nie vir my oor wat ek al tot dusver bereik het nie, maar eerder oor die verantwoordelikheid wat daar, veral nou, aan my gestel word om toenemend krities te dink, om onverskrokke aan te hou navors en om iets van waarde tot die regstelsel en die vorming van studente te voeg,” sê Gravett. Hy voeg by dat hierdie toevoeging nie net tot abstrakte ideale spreek nie, maar ook van ʼn impak wat daagliks in die howe kan voortleef.

ʼn Fakkeldraer vir akademiese vorming

Professor Danie Goosen, uitvoerende hoof: Akademie by Akademia, meen dat Gravett as ʼn Akademia-hoogleraar ʼn fakkeldraer vir die klassieke ideaal van akademiese vorming is. Hy verduidelik voorts dat Akademia, met die aanbieding van hoogleraarintreeredes, doelbewus aansluit by die eeueoue klassieke universitêre tradisie van die lectio inauguralis. Dié gebruik het sy oorsprong in die Middeleeue en getuig van die bekendstelling van ʼn hoogleraar se eie navorsingsfokus en die bekendmaking van nuwe denkhorisonne binne ʼn vakgebied. Goosen vervat dié tradisie as ʼn openbare uitdrukking van die akademie se strewe na en diepe verbondenheid tot die ware, die goeie en die skone – ook wat wetenskapsbeoefening betref.

Hy sluit af deur te noem dat dit vir Akademia as hoëronderwysinstelling ʼn uitsonderlike voorreg is om die intreeredes van nuwe hoogleraars aan te bied. In die geval van Gravett spreek hierdie geleentheid nie slegs tot akademiese uitnemendheid nie, maar ook ʼn diepe en roepingsgedrewe toewyding tot die vorming van toekomstige regskenners en die passievolle uitbouing van die Afrikaanse regswese.

Dr. Willem Gravett het op 8 Julie 2026 sy intreerede as hoogleraar gelewer. Die amp van hoogleraar is die hoogste eerbetoon wat die instelling aan ʼn akademikus betoon.
Prof. Danie Goosen, uitvoerende hoof: Akademie by Akademia, het ná afloop van dr. Willem Gravett se intreerede as hoogleraar ʼn oorkonde ter erkenning van akademiese uitnemendheid aan hom oorhandig.

Direkte inbetaling: Bankbesonderhede

Akademia-skenkingsfonds

Eerste Nasionale Bank

Rekeningnommer: 62857561445

Takkode: 210554

Verwysing: Jou selfoonnommer

Testamentêre bemaking

Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)

Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.

Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak. 

Zander Botha: Skenkingsfondsbestuurder

083 254 0142
skenking@akademia.ac.za

Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.