*Die Paarl-kampus is voorlopig goedgekeur

Veteraanmotorentoesiaste óók passievolle toekomsbouers

Gepubliseer op:  28 Mei 2026

ʼn Inspirerende samewerking tussen passievolle veteraanmotorentoesiaste in Pretoria en Akademia het onlangs tot ʼn besondere bydrae tot die Akademia-skenkingsfonds gelei. ʼn Bydrae wat nie nét groot finansiële waarde ontsluit nie, maar óók ʼn duidelike boodskap van gemeenskapsbetrokkenheid en toekomsgerigte hoop uitdra.

ʼn Donasielot met ewigheidswaarde

Vintage Cars SA (VCSA) onder leiding van sy uitvoerende hoof, Corber Viljoen, het op 21 Mei ʼn halfmiljoenrandskenking vir Akademia se nuwe kampus wat tans in die ooste van Pretoria ontwikkel word, bewerkstellig. Dié skenking, wat tydens VCSA se eerste groot klassiekevoertuigveiling* gemaak is, het die vorm aangeneem van ʼn donasielot bestaande uit ʼn 1956-Morris Minor.

Dié Morris Minor is aanvanklik vir ʼn indrukwekkende R300 000 verkoop en kort daarna wéér vir R200 000 opgeveil, wat ʼn totale skenking van R500 000 aan Akademia moontlik gemaak het. Hierdie skenking is geoormerk vir die groter Toekomsbouer™-kampusontwikkeling.

Dié 1956-Morris Minor is as ʼn donasielot aan Akademia geskenk en is twéé keer opgeveil ten einde ʼn skenking van R500 000 moontlik te maak. Foto’s: Milk Marketing.

Volgens Viljoen en sy vrou, Nadia, gaan hierdie skenking oor meer as net ʼn finansiële transaksie. “Ons kan die waarde sien in die ontwikkelingswerk wat Akademia doen asook die toekomswaarde wat dit tot die groter Afrikaanse taal- en kultuurgemeenskappe gaan toevoeg,” meen Viljoen en voeg by dat hul eie strewe nog altyd was om ʼn veilige en hoopvolle toekoms vir hul nageslag te help skep.

Die egpaar se betrokkenheid spruit voorts uit ʼn sterk persoonlike verbintenis tot hul gemeenskap. As inwoners en sakelui van die Boschkop-omgewing in Pretoria meen die Viljoens dat Akademia se huidige ontwikkeling ʼn groot belegging in volhoubare groei vir dié gemeenskap ontsluit. “Akademia se waardes is belyn met ons eie en dit is daarom ʼn voorreg om te mag help om positiewe groei in ons omgewing te verseker en só ʼn toekoms vir ons kinders in ons geliefde land te bewerkstellig,” verduidelik Viljoen.

Op die vraag wat hulle as ʼn toekomsbouer beskou, antwoord die Viljoens dat ʼn toekomsbouer iemand is wat positief tot die land bydrae deur harde werk, deursettingsvermoë en ʼn roepingsgedrewe toekomsingesteldheid. Gedagtig hieraan, en die feit dat hulle hulself as aktiewe toekomsbouers bestempel, is die egpaar opgewonde oor hul langtermynverbintenis tot die instelling. Hulle beplan om by wyse van VCSA vier groot veilings per jaar aan te bied en van hierdie geleenthede gebruik te maak om die Akademia-skenkingsfonds te help versterk.

Só word ʼn blywende nalatenskap gebou

Volgens Zander Botha, bestuurder van die Akademia-skenkingsfonds, speel dié skenking ʼn belangrike rol in die uitbouing van die instelling se visie. “Die Viljoens se betrokkenheid tot die ontwikkeling van Akademia se wêreldklas kampus in Pretoria spreek nie net van hul geloof in die ontwikkelingsprojek nie, maar ook tot hul strewe om ʼn blywende nalatenskap vir hul kinders en vir die geslagte wat ná hulle kom te vestig,” meen Botha.

Botha gaan voort deur te sê dat sulke skenkings hoop skep en as ʼn kragtige herinnering dien dat lede van die Afrikaanse taal- en kultuurgemeenskappe bereid is om moue op te rol en doelgerig aan die toekoms vorm en betekenis te gee. “Wanneer die gemeenskap werklik verstaan waarmee Akademia besig is, word betrokkenheid nie bloot as finansiële ondersteuning gesien nie, maar eerder as ʼn belegging in ʼn nalatenskap wat lank ná die hier en die nou sal bly voortleef,” verduidelik Botha.

Corber en Nadia Viljoen, eienaars van Vintage Cars SA, ontvang hier ʼn spesiale blyk van waardering vanaf Zander Botha, bestuurder van die Akademia-skenkingsfonds. Dié beeldhouwerk deur die kunstenaar Jacques Müller is ʼn simboliese uitbeelding van die versamelvoël, met sy kenmerkende weefnes, wat as metafoor vir Kanton se waardes en missie dien. Foto’s: Milk Marketing.

Die simboliese waarde van die 1956-Morris Minor-donasielot

Tydens die klassiekevoertuigveiling het Henk Schalekamp, die besturende direkteur van die eiendomsbeleggingsmaatskappy, Kanton, oor die simboliese waarde van die 1956-Morris Minor uitgebrei.

“Hierdie Morris Minor is vanaand méér as net ʼn pragtige voertuig. Dit is ʼn donasielot, ʼn manier om iets van die verlede te vier en terselfdertyd iets vir die toekoms te bou,” het Schalekamp gesê. Hy het verder verduidelik dat Akademia van meet af deur donateurs en toekomsbouers moontlik gemaak is, en dat verdere ondersteuning steeds noodsaaklik is vir toekomstige projekte op die nuwe kampus, insluitend sport- en landboufasiliteite.

“Deur Kanton, as ontwikkelingsvennoot van die nuwe Akademia-kampus, word dinamiese leefruimtes vir Afrikaans moontlik gemaak. Hierdie vennootskap word prakties moontlik gemaak deur die werwing van beleggings waarop daar nie net ʼn goeie eiendomsverwante opbrengs voortspruit nie, maar ook ʼn kulturele dividend gelewer word. Uiteindelik is nie Akademia óf Kanton die helde van hierdie toekomsstorie nie, maar mense soos die Viljoens en hul gemeenskap. Mense wat betrokke raak, wat ondersteun, wat belê, wat skenk en wat glo dat ʼn gemeenskap nie deur praat alleen oorleef nie, maar deur aktief te bou,” sluit Schalekamp af.

Henk Schalekamp, besturende direkteur van die eiendomsbeleggingsmaatskappy, Kanton, tydens die veilingsgeleentheid. Schalekamp beskryf toekomsbouers soos die Viljoens as die helde van ʼn hoopvolle môre.

Daar is verskeie maniere waarop belangstellendes die Akademia-skenkingsfonds kan ondersteun. Bydraes tot die Akademia-skenkingsfonds kwalifiseer vir belastingaftrekkings by wyse van ʼn artikel 18A-belastingsertifikaat. Vir meer inligting besoek die Akademia-webblad of stuur gerus ʼn e-pos na skenking@akademia.ac.za.

*Lees meer hier oor die veilingsgeleentheid.

Direkte inbetaling: Bankbesonderhede

Akademia-skenkingsfonds

Eerste Nasionale Bank

Rekeningnommer: 62857561445

Takkode: 210554

Verwysing: Jou selfoonnommer

Testamentêre bemaking

Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)

Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.

Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak. 

Zander Botha: Skenkingsfondsbestuurder

083 254 0142
skenking@akademia.ac.za

Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.