*Die Paarl-kampus is voorlopig goedgekeur

Kwalifikasieplegtigheidsviering 2026: ʼn bergpiekervaring wat spreek tot nuwe perspektief en toekomssukses

Gepubliseer op:  13 Mei 2026

Geskryf deur prof. Johnnie Hay, dekaan: Fakulteit Opvoedkunde aan Akademia.

Terugskouend ná Akademia se jaarlikse kwalifikasieplegtigheid, wat op 7 Mei 2026 in Pretoria plaasgevind het, kom vier gedagtes by my op.

Afgestudeerde studente koester hul talente

Die gelykenis van die talente, soos beskryf in Matteus 25, is welbekend aan ons almal. Dit handel oor die man wat op reis wou gaan, en sy besittings aan sy diensknegte toevertrou het. Vir een het hy vyf goue munte gegee om te bewaar, vir die ander twee en aan die laaste een ʼn enkele muntstuk. Die uiteinde hiervan was dat die diensknegte aan wie baie toevertrou is, hul talente deur hul werk en dade verdubbel het. Die een waaraan daar egter die minste toevertrou is, het dit begrawe en só nagelaat om dit te laat gedy.

As ons na elkeen van Akademia se nuutste afgestudeerde studente kyk, is dit duidelik dat elk van hulle, sonder weerga, hul talente benut het en dit só roepingsgedrewe vermeerder het. Gedagtig hieraan, kan ons onsself verbly in die wonderlike uitspraak van die man – ons Hemelse Vader: “Oor min was jy getrou, oor baie sal ek jou aanstel”, soos dit in Matt. 25:21 geskryf staan.

Elke afgestudeerde student was getrou in die studie wat die Here aan hul toevertrou het, met al die intellektuele, finansiële en emosionele insette waaroor hulle aangestel is. Vir jou as alumnus was hierdie jare van studie dalk nie so min nie (oor min was jy getrou), maar in die groter prentjie van die lewe weet die Here nou dat jy jou talente getrou sal gebruik – en daarom sal Hy jou seën. Wat ʼn wonderlike belofte is hierdie nie vir elkeen nie?

Elke kwalifikasie verteenwoordig ʼn besondere bousteen

Gedagtig aan Akademia se jaartema, Boustene vir ons toekoms, verteenwoordig elke kwalifikasie ʼn besondere bousteen. Hierdie kwalifikasie wat jy tydens die plegtigheid amptelik verwerf het, is ʼn beduidende bousteen op jou lewenspad. Soos die ou mense tereg gesê het: Niemand kan geleerdheid van jou wegneem nie.

Hierdie bousteen (jou kwalifikasie) is daarom nie sommer net nog ʼn steen in jou lewensgebou nie – dit is ʼn hoeksteen wat die verloop van jou lewe dramaties kan beïnvloed. Dit speel ʼn rol in die gehalte van jou lewe. Hierdie lewe van ʼn hoër gehalte kan direk verbind word aan die term hoër onderwys: Jy het die voorreg gehad om hoër en verder te delf in die kennisskat wat die Here aan ons as mense gee. Hierdie dieper delwing bring noodwendig ʼn hoër vlak van denke en omgaan met die werklikheid mee.

ʼn Kerngedeelte van hoër onderwys is voorts dat die student se waardes op ʼn verdere vlak verfyn. Hier dink ek veral aan die Akademia-waardes van die ware, die goeie en die skone wat ons as Fonties* nastreef. Asook aan geloof, hoop en liefde (soos in 1 Kor. 13 weergegee word) wat ʼn intrinsieke deel van ons daagliks bestaan vorm. Hiermee saam is die verbondenheid aan ons gemeenskappe, rentmeesterskap oor dit wat ons ontvang het, en ons pionier- en baanbrekersgees ook voorbeelde van hoe Fonties voor loop en leiding neem binne beroepsvelde dwarsoor Suid-Afrika.

Nóg ʼn verdieping wat hoër onderwys tot gevolg het, is die krag van redenering, die waarde van goeie boeke, en ʼn waardering vir die kunste. Vir geesteswetenskaplikes breek dit iets van die geheimenis van die natuurwetenskappe oop, en vir natuurwetenskaplikes skyn dit die lig op die waarde van die geesteswetenskappe. In kort: Akademia se bousteenhandelsmerk (dus die kwalifikasie wat jy as student verwerf) spreek tot die besondere integrasie en balans van jou as spesialisvakkundige op uitstaande vlak sowel as jouself as gevormde en afgeronde mens wat ʼn hoëgehaltelewe kan lei.

ʼn Kritieke lewensgebeurtenis

Uit my kundigheidsveld, naamlik Opvoedkundige Sielkunde, kan die kwalifikasieplegtigheid met ʼn paar terme geassosieer word. Een hiervan is die konsep van ʼn kritieke lewensgebeurtenis. Nóg ’n term wat sterk met hierdie grootse dag verbind kan word, is dié van Abraham Maslow se konsep van bergtopervarings. Laasgenoemde verwys natuurlik na Maslow se alombekende behoeftehiërargie, wat begin met vyf vlakke vanaf die basiese en fisiese behoeftes van die mens wat bevredig moet word, tot by selfverwesenliking.

In ʼn latere, aangepaste hiërargie het hy (Maslow) agt vlakke tipeer, wat onder andere estetiese, intellektuele en transendensiële behoeftes bygevoeg het. Maar terug na sy konsep van ʼn piek- of bergtopervaring: Ons beleef nie baie hiervan in ons lewens nie, want dit verteenwoordig ʼn dramatiese hoogtepunt op ʼn mens se lewenspad. ʼn Bergtopervaring is presies wat dit sê – as jy uiteindelik die top of piek van ʼn berg bereik ná ʼn uiters uitdagende klim en jy staan daar bo en sien die aarde uit ʼn totaal ander en opwindende perspektief. Só ʼn ervaring voel dramaties intens. Jou adrenalien pomp en jy voel onbeskryflik vry; jy beleef ook transendensie, naamlik ʼn tipe uitlig/oplig uit hierdie wêreld. ʼn Gevoel van bo-op die wêreld wees – vry van enige kwellinge. In my lewe assosieer ek die klim van Kompasberg naby Nieu-Bethesda in die Groot-Karoo met Maslow se bergtopervaring – ʼn ongelooflike belewenis. Die hoogste vrystaande piek op 2 502 meter in Suid-Afrika buite die Stormberg-/Drakensberg-reeks. Om ná ʼn uitdagende klim uiteindelik te kan uitkyk op die grote Karoo is ʼn naas onbeskryflike ervaring.

Die goeie nuus is dat jy as afgestudeerde nie Everest óf Kilimanjaro hoef uit te klim vir hierdie ervaring nie. Jou kwalifikasieplegtigheid is verseker ʼn bergtopervaring. Jy het hard geklim en geswoeg om jou kwalifikasie te verwerf. En behalwe vir die gevoel dat jy sweef, ervaar jy hopelik ook ʼn perspektief op die lewe wat totaal anders is as voor die voltooiing van hierdie kwalifikasie.

Mag jou kwalifikasieplegtigheid altyd uitstaan op jou lewenspad as ʼn besondere bergtopervaring of konstruktiewe kritiese lewensgebeure. ʼn Ervaring en gebeurtenis wat die rigting van jou lewe ten goede verander het – veral omdat jy as afgestudeerde student met nuwe oë en perspektiewe na die lewe kyk.

Soveel méér as net nóg ʼn kwalifikasie

ʼn Finale gedagte wat belangrik is in die 2026-konteks is dat jou kwalifikasie nie net nóg ’n kwalifikasie is nie. Te veel jong Suid-Afrikaners verwerf deesdae hoëronderwyskwalifikasies ná die vroeë 2000’s se aandrang op toegang tot hoër onderwys, en die Fees Must Fall-veldtog van 2016.

Die omgekeerdedriehoekverskynsel is hier van toepassing, naamlik dat te veel jongmense universiteite wil betree in plaas daarvan om ambagte te bemeester of tegniese/beroepsonderwys aan te pak. Dit het ongelukkig tot gevolg dat werkgewers nie meer net kan let of jy ʼn graad of diploma het nie – die gehalte van daardie kwalifikasie raak nou allerbelangrik.

Dit is juis in hierdie milieu dat Akademia vir jou die voorsprong gee: uitstaande kundigheid as spesialis in jou veld, geïntegreer met afgerondheid as mens. ʼn Akademia-alumnus staan uit – en behoort op ʼn afstand herken te word. Een interessante voorbeeld hiervan wat ek onlangs self beleef het, was tydens ʼn besoek aan Laerskool Constantiapark, waar die hoof, dr. Louis Dey, spesiaal genoem het hoe Akademia se proefonderwysers hulself onderskei. Óf ’n LLB-alumnus wat vir prof. Hermie Coetzee, dekaan van die Fakulteit Regsgeleerdheid, laat weet: “Die besluit om Akademia te kies vir studie op ʼn later stadium van my lewe was sonder twyfel die regte een. Die akademiese standaard en persoonlike begeleiding het my deeglik voorberei vir die uitdagende fases van dié beroepsreis, insluitend om kandidaatprokureur te wees, regskool en uiteindelik die raadseksamens te slaag. Ek was toegerus met nie net kennis nie, maar ook die selfvertroue en vaardighede om elke fase suksesvol aan te pak.” Ook dr. Piet Pretorius, waarnemende dekaan van die Fakulteit Natuurwetenskappe, getuig hiervan en vertel dat hy trots is om te hoor dat oud-Fonties in die Wiskundige Wetenskappe-veld hulself baie goed van hul taak kwyt as nagraadse studente by ʼn ander universiteit.

Kom ons voeg dan hierdie paar gedagtes vinnig saam: Jy het werk gemaak van jou studietalente, en ek vermoed die Here gaan jou seën en selfs oor baie aanstel, al is dit mettertyd. ʼn Akademia-kwalifikasie is ʼn besondere bousteen of basis wat jou lewe waarskynlik gaan beklee met ʼn dieper gehalte waar die fynere waardes en dinge in die lewe waardeer word. Die verwerwing van jou kwalifikasie verteenwoordig ook ʼn bergtopervaring in jou bestaan wat jou met nuwe perspektiewe en ʼn nuwe uitkyk verryk. Ter afsluiting getuig ʼn Akademia-kwalifikasie van ʼn kundige, afgeronde mens wat die lewe vol in die oë kan kyk.

Baie geluk aan elkeen wat vanjaar sy/haar kwalifikasie ontvang het. Akademia is besonder trots op elkeen van dié afgestudeerdes! Stap die lewe van hier af tegemoet met jou kop omhoog, gegrond in ons geloof in ons Skepper, die trots op ons eeueoue kultuur, taal en bronne, en met die sekere wete dat jy by uitstek toegerus is om baanbrekerswerk as pionier in ons pragtige land te doen.

Ek sluit af uit Geaudeamus Igitur uit die operette Die Studenteprins van Sigmund Romberg – vers 4:

Vivat Akademia – lank leef die akademie en Akademia!

Vivat profesores – lank leef die professore en dosente!

Vivat membrum quodlibet – lank leef elke student!

Vivat membra quaelibet – lank lewe die studenteliggaam!

Semper sint in flore – mag ons vir altyd floreer (hier kan ons byvoeg in hierdie pragtige land, natuurlik onder die genade van onse Heer)!

Prof. Johnnie Hay, dekaan: Fakulteit Opvoedkunde aan Akademia, meen ʼn kwalifikasieplegtigheid is gelykstaande aan ʼn bergpiekervaring en moet gesien word as die neerlegging van ʼn beduidende bousteen wat toekomssukses betref.

Direkte inbetaling: Bankbesonderhede

Akademia-skenkingsfonds

Eerste Nasionale Bank

Rekeningnommer: 62857561445

Takkode: 210554

Verwysing: Jou selfoonnommer

Testamentêre bemaking

Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)

Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.

Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak. 


Zander Botha: Skenkingsfondsbestuurder

083 254 0142
skenking@akademia.ac.za

Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.