*Die Paarl-kampus is voorlopig goedgekeur
Gepubliseer op: 13 Mei 2026
Geskryf deur dr. Sharon Kruger, opvoedkundige sielkundige aan Akademia se Paarl-kampus
Die konsep van geluk het deur die eeue heen die verbeelding en denke van filosowe, teoloë en sielkundiges aangegryp. Hedendaagse wetenskaplike navorsing bevestig wat antieke wysheid lank reeds vermoed het, naamlik dat geluk nie ʼn eenvoudige of eendimensionele ervaring is nie, maar eerder ʼn komplekse, multidimensionele werklikheid. Gedagtig hieraan ervaar mense volhoubare geluk daarom nie bloot slegs deur plesier nie, maar eerder as ʼn uitvloeisel van betekenis, deugde en gesonde verhoudings.
Die vraag bly egter: Op watter kritiese boustene rus hierdie geluksbesef en -ervaring?
ʼn Vrugbare vertrekpunt lê opgesluit in die klassieke filosofiese tradisies, aangevul deur moderne sielkundige insigte wat verder verdiep word deur ʼn Christelike begrip vir die menslike welstand. Saam bied hierdie perspektiewe ʼn holistiese raamwerk vir wat dit beteken om werklik gelukkig te leef.
Klassieke teorieë van geluk
Aristoteliese eudaimonia: geluk as menslike groei
Volgens Aristoteles is geluk (eudaimonia) nie ʼn vlugtige emosie of ʼn oomblik van genot (hedonia) nie, maar die resultaat van ʼn lewe wat in ooreenstemming met deugde en betekenisvolle bydrae tot die gemeenskap. Moed, matigheid, geregtigheid en wysheid vorm volgens hom die grondslag van só ʼn goeie lewe.
Aristoteles beskou mense as inherente sosiale wesens en gevolglik kan ʼn gelukkige lewe nooit in isolasie bestaan nie. Hy het aangevoer dat verhoudings – veral vriendskappe wat gegrond is op wederkerige waardering vir mekaar en nie wat die onderskeie vriende vir mekaar kan bied nie – ʼn kernkomponent van menslike geluk vorm.
Epikureanisme: geluk as innerlike rustigheid
Epikureanisme word dikwels verkeerdelik met oormatige genot geassosieer. In werklikheid beklemtoon dit eenvoud, matigheid en innerlike kalmte (ataraxia). Ware geluk, volgens Epikurus, lê in die afwesigheid van onnodige vrees en begeertes, asook in die koestering van vriendskap en tevredenheid.
Geluk word in hierdie konteks as vrede eerder as oordaad verstaan.
Klassieke Christelike en stoïsynse denke
In die Christelike tradisie stel Augustinus voor dat die mens geskape is vir ʼn verhouding met God, en dat ware geluk slegs in hierdie verhouding gevind kan word. Aardse vorme van geluk is volgens hierdie siening tydelik en onvolledig.
Stoïsisme, wat deels hierby aansluit, leer ons dat geluk uit innerlike vryheid spruit – ʼn lewe gegrond op deugde, selfdissipline en die aanvaarding van dit wat buite ons beheer val. Emosionele lyding word hiervolgens verminder wanneer wysheid, aanvaarding en betekenisvolle verhoudings gekweek en gekoester word.
Al hierdie bogenoemde klassieke skole stem saam dat geluk uit ʼn morele, rasionele en gemeenskaplike dimensie bestaan.
Moderne wetenskaplike perspektiewe: geluk as ʼn multidimensionele ervaring
Die hedendaagse sielkunde bevestig die genoemde klassieke wyshede en beskryf geluk as ʼn samestelling van verskeie interafhanklike komponente. Hierdie komponente sien soos volg daar uit:
Die hedonistiese komponent
Hedonistiese welstand fokus op subjektiewe lewenstevredenheid, positiewe emosies en genot. Navorsing toon egter konsekwent dat kortstondige plesier alleen nie tot volhoubare geluk lei nie.
Die eudaimoniese komponent
Die veld van positiewe sielkunde, soos ontwikkel deur Martin Seligman en Carol Ryff, sluit nou aan by Aristoteles se denkwyse oor geluk. Volhoubare geluk spruit uit betekenis, doelgerigtheid, persoonlike groei, gesonde verhoudings, deugde en ʼn bydrae tot die groter geheel.
Soos Carl Jung reeds in 1959 opgemerk het, kan geen mens ʼn betekenislose lewe lei sonder innerlike impak nie. Mense wat volgens hul waardes leef, ervaar dieper en meer volgehoue geluk.
Die sosiale komponent
Een van die robuuste bevindings in sielkunde is dat verhoudings die sterkste voorspeller van lewenslange geluk en gesondheid is. Aktiewe gemeenskapsbetrokkenheid bevorder emosionele ondersteuning wat veerkragtige sosiale bande smee en ʼn dieper sin van identiteit bevorder. Dit skep ʼn kultuur van wedersydse verantwoordelikheid en kweek ʼn gevoel van behoort binne die groter geheel. Altruïstiese dade dra verder by tot vermindering van stres, laer depressie en beter imuunfunksie. Geluk word dus in wese in verhouding met ander beleef.
ʼn Christelike Perspektief op geluk: insigte uit CS Lewis se Mere Christianity
Dié werk van CS Lewis, wat as ʼn kernbelangrike beskawingsteks beskou word, bied ʼn ryke Christelike raamwerk vir die begrip van menslike geluk. Hierdie raamwerk bestaan uit die volgende boustene:
Geluk as ʼn belyning met God se skeppingsontwerp
Lewis voer aan dat mense geskape is vir ʼn verhouding met God. Ware geluk ontstaan wanneer ons lewe in ooreenstemming met God se karakter en bedoeling. Geluk is nie selfgegenereer nie, maar vloei voort uit verbondenheid met die bron van alle goedheid.
Deugde en persoonlike vorming
Vir Lewis gaan die Christelike lewe oor die vorming van die mens. Deugde soos nederigheid, geduld, vergifnis en liefde lei tot innerlike vrede en gesonde verhoudings. Soos in die geval van Aristoteles, is geluk hier ʼn kwessie van karakter.
Gemeenskap as ʼn dinamiese ruimte vir groei
Christelike denke beklemtoon volgens Lewis dat mense gemaak is vir verhoudings – met God, met ander en binne die milieu van ʼn geloofsgemeenskap. Ware vreugde en morele groei vind gevolglik plaas binne die samesynsgemeenskap waar liefde, diensbaarheid en verantwoordelikheid prakties uitgeleef word.
Liefde (agape) as die kern van geluk
Onselfsugtige liefde staan sentraal tot die Christelike etiek. Geluk verdiep wanneer mense deelneem aan God se liefde deur hulself in diensbaarheid aan ander te stel. Hierdie benadering kontrasteer sterk met individualistiese sienings van geluk en sluit aan by die klassieke opvattings van die mens as ʼn fundamenteel sosiale wese.
Die geïntegreerde gelukkigheidsmodel
Wanneer klassieke, wetenskaplike én Christelike perspektiewe saamgelees word, tree ʼn opvallende eenstemmigheid na vore:
Geluk is onlosmaaklik van verhoudings.
Uit bogenoemde eenstemmigheid is dit duidelik dat geluk nie bloot ʼn emosionele toestand is nie, maar ʼn lewenswyse. Laasgenoemde is diepgewortel in deugde, betekenis en verbondenheid. Klassieke filosofie, moderne sielkunde en Christelike teologie stem saam dat ware geluk ontstaan wanneer mense hul innerlike lewe vorm, betekenisvol leef en hul plek doelgerig binne die gemeenskap inneem.
Geluk word dus aangewakker deur wie ons is, hoe ons leef, en met wie ons kies om in verbondenheid te staan. Dit word verder verdiep deur betekenisvolle verhoudinge met ander en, vanuit ʼn Christelike perspektief, ons verhouding met God.

Akademia-skenkingsfonds
Eerste Nasionale Bank
Rekeningnommer: 62857561445
Takkode: 210554
Verwysing: Jou selfoonnommer
Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)
Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.
Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak.
083 254 0142
skenking@akademia.ac.za
Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.